Seksuele oordrag
In die meeste gevalle word MIV deur onbeskermde seks met ’n besmette persoon oorgedra. Verskillende seksuele praktyke hou verskillende risikovlakke in.
Vaginale seks
Die algemeenste manier van MIV-oordrag is vaginale seks. Dit is moontlik vir enige van die twee partye om besmet te word. MIV kan in die bloed, semen, preseminale vloeistof of vaginale vloeistof van ’n persoon wat met die virus besmet is, voorkom.
TDie vagina se wand kan soms skeur en moontlik veroorsaak dat MIV die liggaam binnegaan. MIV kan ook direk deur die slymmembrane waarmee die vagina en serviks uitgevoer is, geabsorbeer word. Die uretra (die opening by die punt van die penis) en klein snye of oop sere op die penis is roetes waardeur die virus die manlike liggaam kan binnegaan.
Gebruik ’n lateks-kondoom om jou en jou maat teen MIV en ander SOI’s te beskerm. Studies het getoon dat lateks-kondome baie doeltreffend, dog nie perfek nie, in die voorkoming van MIV-oordrag is wanneer dit korrek en konsekwent gebruik word. Indien een van die partye allergies is vir lateks, kan plastiese (poliuretaan-) kondome vir óf die man óf die vrou gebruik word.
Orale seks
Alhoewel dit baie raar is, is dit wel moontlik dat MIV deur orale seks oorgedra kan word. Niemand weet presies hoe hoog die risiko van MIV-oordrag deur orale seks is nie, maar dit is beslis laer as die risiko wat vaginale en anale seks inhou. Indien die persoon wat orale seks uitoefen MIV-positief is, kan die virus die ander persoon se liggaam deur die delikate wand van die penis/vagina/anus binnegaan, of deur enige klein snye en sere. Indien die persoon wat orale seks ontvang MIV-positief is, kan die virus deur die wand van die ander persoon se mond, of enige klein snye of sere in die mond, oorgedra word. Die risiko kan verminder word deur altyd ’n lateks- of poliuretaan-kondoom tydens fellatio (orale seks met die penis) en ’n poliuretaan-mondkondoom (of kleefplastiek) tydens orale seks met die vagina (cunnilingus) en anus (analingus) te gebruik.
Anale seks
Onbeskermde anale seks met ’n MIV-positiewe persoon hou ’n baie hoë risiko vir infeksie in. Die virus kan die ontvanger van die anale seks deur klein skeurtjies in die rektum binnegaan, of die persoon wat die anale seks uitvoer deur skaafplekke aan die penis. Gebruik ekstra sterk kondome en ’n smeermiddel met ’n waterbasis, soos KY Jelly.