Behandeling vir MIV

’n Positiewe toetsuitslag beteken jy het MIV-teenliggame, en is met MIV besmet. ’n Opgeleide berader of gesondheidsorgberoepspersoon sal jou uitslag vir jou gee en sal vir jou vertel wat om te verwag, asook waar om gesondheidsdienste en emosionele ondersteuning te kry.

’n Positiewe uitslag beteken nie jy het vigs nie. Baie mense wat positief toets, bly vir baie jare gesond, selfs al begin hulle nie dadelik medikasie neem nie. As jy negatief toets en nie vir die laaste drie maande aan MIV blootgestel is nie, is jy nie met MIV besmet nie. Gaan voort om jouself teen MIV-besmetting te beskerm.

’n Positiewe lewe

Alhoewel MIV ’n ernstige infeksie is, lewe mense met MIV en vigs vandag langer en gesonder lewens danksy nuwe en doeltreffende behandeling. Daar is baie dinge wat jy kan doen om gesond te bly. Hier is ’n paar:

  • Leer meer oor jou infeksie. Kennis van die feite van MIV en vigs kan ’n deel van die vrees vir die onbekende verminder en jou ’n mate van beheer gee wat jy nodig sal hê om besluite oor behandeling te maak.
  • Maak seker dat jy ’n dokter of gesondheidsorgverskaffer het wat weet hoe om MIV te behandel. Soms moet jy verskeie organisasies besoek om ’n plek te vind wat aan jou behoeftes voldoen.
  • Monitor jou infeksie. Vra jou dokter om jou liggaam en bloed te monitor en jou regdeur die infeksie ingelig te hou oor jou opsies en keuses. Beskou jou dokter as jou gesondheidsvennoot.
  • Party van ons moet ontslae raak van emosionele bagasie. MIV krap dikwels ou wonde oop, en daarom moet jy tyd neem om jou verhoudings te evalueer en sake aan te roer wat onnodige stres veroorsaak.
  • Om met MIV te leef, gaan oor die lewe, nie net oorlewing nie. Sosiale aktiwiteite, tyd saam met mense wat jy liefhet, en genoeg slaap en rus kan ’n groot verskil aan jou gesondheid maak.

Feite oor antiretrovirale terapie

Op ’n stadium is geglo dat die virus ná infeksie dormant in die bloed bly en slegs aktief raak nadat ’n persoon vir jare met MIV geleef het. ’n Paar jaar terug het wetenskaplikes egter ontdek dat die virus vanaf die oomblik van infeksie aktief is, en homself die heeltyd repliseer, en dat dit deur die liggaam se immuunstelsel beveg word. Dit plaas ’n enorme druk op die immuunstelsel.

Antiretrovirale (ARV-) middels stop die replisering van die virus deur die virustelling in die bloedstroom onder 50 MIV-kopieë per milliliter bloed te hou, wat beteken die virus kan nie in toetse waargeneem word nie. Die virus is steeds teenwoordig, maar die immuunstelsel kry kans om te herstel omdat dit nie besig is om die virus te beveg nie. Toegang tot hoogs aktiewe antiretrovirale terapie (HAART) het daartoe gelei dat vigs amper besig is om ’n chroniese, beheerbare siekte in ontwikkelde lande te word. Ten einde doeltreffend te wees, moet ten minste twee en verkieslik drie verskillende medisynes saam geneem word om die kanse dat weerstand ontwikkel, te verminder. Die medikasie moet elke dag vir die res van jou lewe geneem word en jy moet gereeld met laboratoriumtoetse gemonitor word (viruslading en CD4-seltellings) om te bepaal of die medikasie doeltreffend is.

Die Suid-Afrikaanse regering gaan gratis ARV-behandeling vir alle MIV-besmette Suid-Afrikaners beskikbaar stel, maar die versekering van algemene beskikbaarheid sal tyd neem. Die openinge in openbare behandelingsprogramme is beperk, en dit is moontlik moeilik om plek te kry weens administratiewe rompslomp. Behandeling in die privaat sektor is egter aansienlik duurder, maar behoort deur jou mediese fonds gedek te word – maar daar sal van jou verwag word om jou skema se behandelingswerkwyse te volg.

Die behandeling van opportunistiese infeksies moet nie met ARV-middels verwar word nie. Hier word slegs die akute infeksies wat die liggaam aanval wanneer sy weerstand in gevaar gestel word, uitgewis, terwyl die onderliggende MIV-infeksie nie aandag ontvang nie. Die meeste opportunistiese infeksies word met goedkoop buitepatent-medikasie behandel, en waar patente van krag is, is pryse gewoonlik redelik danksy noukeurige ondersoek deur die regering en NRO’s. Daar is ook generiese weergawes van gepatenteerde medisynes beskikbaar deur verpligte lisensiëring, veral in Indië en Thailand.

in