Nuwe studente opgelei in die fasilitering van basiese MIV- en geslagsdiskoers onder eweknieë

Die Kantoor vir Institusionele MIV-koördinering (KIMK) by die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs ’n nuwe kortkursus aan studente beskikbaar gestel, naamlik Basiese MIV- en Geslagsfasilitering. Hierdie gratis opleidingsprogram het oor twee naweke in Augustus 2010 plaasgevind, en die Maties wat gekeur is om die 32-uur-opleiding by te woon, berei hulle nou daarop voor om MIV/vigs-kwessies op kampus en in die groter Stellenbosch-distrik aan te pak.

Die doelwitte van hierdie opleiding is om studente te bemagtig om as ’n informele inligtingsbron oor MIV/vigs op kampus en in enige ander invloedkringe waarin hulle beweeg, op te tree; om houdings wat nie ondersteunend is nie, te beïnvloed; en om verantwoordelike gedrag te bevorder. In wese bemagtig hierdie opleiding studente om as ’n ondersteuningstruktuur vir studente in ons gemeenskap op te tree. Studente van die US Bestuurskool en van die fakulteite Gesondheidswetenskappe, Ingenieurswese, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Lettere en Sosiale Wetenskappe, Natuurwetenskappe, Regte, Opvoeding en Teologie het die kursus bygewoon.

Die studente was baie entoesiasties oor die nuwe kortkursus. Een student het die volgende genoem: “Hierdie kursus het my oë oopgemaak en het my laat besef dat verandering by my begin. Om die waarheid te sê, my verwagtinge is oortref”. ’n Ander student het opgemerk, “Ek het die kursus intellektueel en emosioneel stimulerend gevind, en het veral gehou van die aktiwiteite waardeur ons aangemoedig is om krities te dink en ‘gedwing’ is om na ander se menings te luister”.

Die kursusleier, Jaco Brink (Koördineerder: MIV-voorkomingsprogramme), het sy ervaring van die kursus en die nuwe groep studentevrywilligers as volg opgesom: “Hierdie groep bring nuwe energie en entoesiasme na ’n program wat steeds uitbrei ondanks die opvatting dat ‘vigs-moegheid’ aan die toeneem is. Ons het ’n groot, entoesiastiese nuwe groep vrywilligers om die geledere van die bestaande Peer2Peer Education-projek te versterk. Die potensiaal om houdings te verander en MIV/vigs-kwessies op ons kampus daadwerklik aan te pak, is onmeetbaar”.

Studente uit hierdie groep kon aansoek doen om as Peer2Peer-opvoeders vir 2010/2011 gekeur te word. Die Peer2Peer-opvoeders sal aan verskeie gemeenskapsinteraksieprojekte in en om die kampus deelneem, soos massa-MIV-toetsingsveldtogte; die bemarking van plaaslike MIV-toetsingsdienste; kondoomverspreiding; ’n projek wat studente se houdings teenoor geslag, ras, MIV en seksuele oriëntasie ondersoek; en projekte in vennootskap met verskeie nieregeringsorganisasies soos Legacy, Vision V, Vision K, !Khwa ttu San Cultural Centre en @heart.

As deel van ’n diensleerooreenkoms met die Departement Sosiologie en Sosiale Antropologie is ’n paar derdejaar-Sosiologiestudente by KIMK geplaas, en hulle het ook aan die kortkursus deelgeneem. Hierdie diensleerstudente sal nou ’n belangrike rol in Peer2Peer-opvoedingsinisiatiewe tot die einde van 2010 speel.

Peer2Peer-opvoeding, gemeenskapsinteraksie en verskeie kortkursusse vorm deel van KIMK se strategie om MIV-verwante kwessies op kampus die hoof te bied en vorentoe te beweeg na ’n kampus wat teen 2010 vry is van nuwe MIV-infeksies. Hierdie visie beklemtoon voorkoming as ’n voorkeurstrategie, samewerking tussen verskeie dissiplines, studente- asook personeeldeelname, en die posisionering van die US as ’n leier op die gebied van MIV met ’n tasbare impak op MIV-verwante uitdagings in Suid-Afrika asook in die res van Afrika.

Die kortkursus in Basiese MIV- en Geslagsfasilitering sal twee keer ’n jaar aangebied word, en studente uit ’n verskeidenheid omgewings word aangemoedig om aansoek te doen. Skakel met Jaco Brink by KIMK, in die Bedryfsielkundegebou, by 021 808 3136 of peered@sun.ac.za vir meer inligting oor MIV/vigs, die kortkursus, Peer2Peer-opvoeding en ander inisiatiewe.