Die vordering van MIV-besmetting tot vigs

Alhoewel die stadiums van MIV-besmetting nie in die praktyk presies in afsonderlike fases afgebaken kan word nie, kan ons wel ’n teoretiese struktuur van die vordering van MIV-besmetting tot vigs uiteensit.

Gebeurtenis/Tydperk Duur Beskrywing
MIV-besmetting

Aanvanklike besmetting met MIV

Vensterperiode Ongeveer 42 dae Geen tekens en simptome van siekte nie en geen bespeurbare teenliggame teen MIV nie. ’n MIV-teenliggaamtoets sal negatief wees, al is die virus teenwoordig.
Simptoomlose MIV Minder as een jaar tot 10–15 jaar en langer Teenliggaamtoetse is positief maar daar is geen tekens en simptome van siekte nie. Dit is die inkubasietydperk. Dit kan met kliere wat vir ’n lang tyd geswel bly sonder ander siektesimptome gepaardgaan.
Simptomatiese MIV Maande of jare Tekens en simptome van siekte neem toe omdat MIV die immuunstelsel beskadig. Dit is aanvanklik nie lewensgevaarlik nie, maar word algaande ernstiger en langduriger.
Vigs Minder as twee jaar tensy behandeling beskikbaar is Die terminale stadium van MIV-infeksie. Lewensgevaarlike infeksies en kankers kom voor omdat die immuunstelsel ernstig verswak is en dit nie kan hanteer nie. Die pasiënt sterf wanneer ’n onbehandelbare lewensgevaarlike toestand ontwikkel. Die lewensverwagting hang af van die toestande wat ontwikkel en die behandeling wat beskikbaar is, met inbegrip van antiretrovirale middels, medikasie vir opportunistiese infeksies en holistiese sorg, waaronder goeie voeding.

Hoe maak vigs dood?

MIV maak niemand direk dood nie. Dit verswak die liggaam se vermoë om siektes te beveg. Infeksies wat selfde voorkom in mense met normale immuunstelsels is dodelik vir diegene met MIV. Opportunistiese infeksies is infeksies wat die verswakte immuunstelsels van MIV-besmette mense uitbuit.

Mense met MIV kan baie infeksies kry. Baie van hierdie siektes is baie ernstig, en moet behandel word. Sommige kan voorkom word deur die tydige voorskrif van medikasie en ander kan hanteer word deur vroeë diagnose en aggressiewe behandeling.

Daar is sewe algemene opportunistiese infeksies:

  • Tuberkulose (TB): Die algemeenste in Afrika
  • Kandidiase (sproei): Swaminfeksie wat die slymmembrane beïnvloed
  • Gastroïntestinale infeksies: Infeksies wat diarree veroorsaak
  • Kriptokokkale meningitis: Swaminfeksie van die breinwand
  • Pneumocystis Carinii Pneumonie (PCP): Longontsteking
  • Sitomegalovirus (SMV): Virusinfeksie van die oë, esofagus en derms
  • Herpes en gordelroos: Virusinfeksies

in