Max Caldas: Rugbymal hokkie-afrigter

Max Caldas

Max Caldas

Die Nederlandse manshokkiegroep het onlangs sy oefenkamp hier in Stellenbosch gehad. Die Nederlanders het wedstryde teen Ierland en Belgie hier by die Coetzenburg-astro gespeel. Hier is ‘n lekker onderhoud met die afrigter, Max Caldas.

Hokkie-afrigter wat absoluut mal oor rugby is. Dit is vinnigste en dalk ook die bes moontlike eensin-beskrywing vir Max Caldas, afrigter van die Nederlandse manshokkiespan.

Die Argentyn het nie net ‘n passie vir sport nie, maar ook vir Suid-Afrika en in besonder Stellenbosch waar hy die afgelope drie jaar by die Stellenbosch Akademie vir Sport bly om die Europese winter te systap vir ‘n voorseisoene oefenkamp. Caldas was die afgelope twee jaar hier saam met die vroue-span, maar het nou oorgeneem as die afrigter van die manspan. Hy was verlede jaar aangewys as die beste afrigter in die wêreld.

Hoekom so lief vir Stellenbosch?

“Ek het ‘n groot liefde en passie vir Stellenbosch en Kaapstad. En dit was vir my belangrik dat my spelers dit ook ervaar. Ons het Langa en Robben-eiland besoek, in ‘n skool-koshuis van Wynberg gebly en ons het alles saam gedoen. Ek kom elke jaar terug omdat die weer, gasvryheid, geriewe en mense wonderlik is. By die Stellenbosch Akademie vir Sport kan mens die konneksie met Stellenbosch voel. Alles is loopafstand van mekaar. Die personeel by SAS kyk so goed na professionele sportmense. Hulle weet wat hulle doen.”

Jou span het ‘n paar oefenwedstryde teen Suid-Afrika, België en Ierland gespeel. Is jy tevrede met dit wat jy gesien het?

“Ek is baie tevrede. Die spelers het die groot uitdaging van die nuwe program aanvaar. Die belangrikste doelwit van die oefenkamp in Kaapstad en Stellenbosch was om as groep te groei.”

Wat was jou indrukke van die Suid-Afrikaanse mans-hokkiespan?

“Ek kan nie anders nie as om altyd beïndruk te wees met die passie van die Suid-Afrikaanse spelers. Hulle toewyding en fiksheid moet bewonder word. Ek hou daarvan dat die Suid-Afrikaanse kultuur een is wat lief is vir sport. Ek dink egter die span moet meer speel en teen goeie spanne. Enige span wat wil beter word moet gereeld teen goeie spanne speel.”

Jy het die Nederlandse vroue-span vir vier jaar afgerig. Hoe verskil dit van jou nuwe taak?

“Ek rig spelers af. Nie mans of vroue. Die oomblik as jy onderskeid op grond van geslag wil maak, verloor jy perspektief. My werk is om spelers te help om die bes moontlike speler te wees. Ek het oorgeneem by ‘n span wat redelik gevestig was in hul manier van dinge doen en dit moet verander. Dit is ‘n stryd, maar ‘n goeie een. Ek en die spelers glo ons is nou besig met ‘n program wat ons groot hoogtes sal laat bereik.”

Vanwaar die liefde vir rugby?

“Ek is van Argentinië en het my hele skool-loopbaan rugby gespeel. Ek was mal daaroor. Ek hou regtig daarvan om rugby-wedstryde en oefensessies te kyk en te sien wat ek kan gebruik vir my span en sport.”

Het jy ‘n gunsteling span of speler?

“Ek kan nie genoeg van rugby kry nie. Daar is so baie spelers en spanne wat ek om verskillende redes bewonder. Ek glo dat kultuur altyd talent sal klop…of nege uit tien keer! Ek hou van verskillende tipies spel. Daarom hou ek van die Springbokke, maar ook die All Blacks.”

Enige voorspellings vir die Wêreldbeker-rugbytoernooi?

“Ek het reeds my kaartjies gekoop en sal wat wil gee om ‘n Springbok teen All Black eindstryd te gaan kyk.”

This entry was posted in Club. Bookmark the permalink.