Huis Marais
 
 
 
 

Kultuuraande

Huis Marais en Serruria: Sondag, 5 Mei 2013

Met 'n tema "The Evolution of the Arts"... Berig volg binnekort... :-D

 

Huis Marais en Venustia: Sondag, 21 April 2013

Die tweede kultuuraand van die jaar skop af hier by Huis Marais se leeskamer. Dit is maar altyd bietjie moeilik om met 'n PSO so 'n aand te reel omdat mens nie regtig weet hoeveel van hulle kant af gaan opdaag nie. Nietemin was daar 'n hele paar geesdriftige dames wat opgedaag het vir hierdie heerlike aand. Die Namaqua trein het ook vertrek daardie aand en almal was goed gewyn en het die aand werklik baie geniet.

Die kultuuraand was baie soortgelyk aan vorige kultuuraande, totdat Wynand Wynie Viljoen, aka MC monster-masjien, besluit het om 'n nuwe aspek te bring na kultuuraande. Hy maak toe die voorstel dat ons 'n impromptu komponent inbring en hy is toe vinnig om die manne en die dames op te deel in groepies. Elke groepie het toe 5 minute gehad om 'n item voor te berei en daar is lekker gelag oor wat toe opgeduik het.

Toe die verrigtinge maak Wynand die vloer oop vir enige ander kultuur items, sou iemand nog wou, toe lig Willem Primboude sy hand hoog op met 'n mosie: "Siende dat Wynand so kranig die impromptu voorgestel het, stel ek 'n mosie in dat Wynand vir ons 'n stukkie Schmegal (spelling?) moet uitvoer vir ons. Enige sekondante?" En so kry Wynand toe bietjie van sy eie medisyne.

Sy toneelspel was, bygese, die beste item van die aand.

Nog 'n legendariese oomblik wat vir lank in my geheue sal bly was toe Willem Engelbrecht, Arno Meiring en Piet Lourens 'n item gelewer het. Danksy Wynand se impromptu voorstel het Willem en Arno 'n liedjie gesing wat hul al skynbaar van hulle eerste jaar af wou sing by 'n kultuuraand.

Werklik 'n groot sukses gewees! Venustia Swanedames, julle is enige tyd weer welkom in ons leeskamer!

Oor en uit, tot volgende keer, koebaai, goodbye, nkosi!

 

Huis Marais en Harmonie: Sondag, 24 Februarie 2013

Wat 'n aangename geleentheid... Die dames van Harmonie het in hul massas opgedaag! Net so ook het die Huismanne in volle swang opgedaag om die talente te kom besigtig. Tot so 'n mate dat van die djarre buite die leeskamer moes sit en maar net 'n klein oogblink kry op die kultuur wat in die leeskamer gebeur.

Die kultuuraand is geopen deur Dirkie Myburgh wat met sy bloedrooi kitaar vir ons 'n romantiese stukkie gesing het. Die dames se harte het gesmelt en soos dit oudergewoon die gewoonte is, kies Dirkie die liedjie so strategies sodat die hele leeskamer later saam met hom die refrein sal sing! Hartedief.

Volgende op die lys was 'n item deur 'n dame van Harmonie wat met egte Switserse koeiklokke (ja, jy het reg gelees) die pragtige musiekstuk "Amazing Grace" uitgevoer het. Dit was en sal heel waarskynlik die mees interessante kultuuritem wees wat enige Huisman ooit onder oë gehad het. Die populariteit en nuuskierigheid oor hierdie koeiklokke was so groot dat daar later die aand nog twee Kersliedere, nl "Joy to the World" en "Welkom, O Stille nag van vrede" gespeel het.

Naude van der Merwe het self ook 'n stukkie legendariese "Kersfees in Kampala" vir ons gesing. Werklike nostalgie is ervaar en die dames het aan sy lippe gehang.

Nog 'n hoogtepunt van die aand was toe een van Harmonie se seksies 'n Harlem Shake vir ons gegooi het! Ek hoop iemand het dit op video vasgelê want dit sal beslis 'n Youtube-treffer wees!

Na daar 'n mosie ingestel is by Huisvergadering dat Nic Loubser en JG Marais elk 'n kultuuritem moet lewer by die kultuuraand omdat hulle te veel onderling gesels het, het net Nic tot die 'occasion gerise'. Hy het 'n stukkie kitaarspel en sang gelewer.

'n Vioolduet het ook sy verskyning gemaak deur twee pragtige Harmoniete. Nicolaas van der Westhuizen het ook vir ons 'n stukkie "Daar loop 'n skilpad in die pad" op die klavier gespeel. Die aand is afgesluit deur 'n kort toneelspel deur Erik van der Merwe, Ewald Schulenburg, Danie Cillie, Pieter Stofberg en Stephan Gericke.

**Oudergewoonte was Wynand Viljoen die seremoniemonster en daar was liters wyn om te sorg dat die lippe nie droog raak tydens die aand nie.

 

Huis Marais en Venustia: Saterdag, 26 Januarie 2013

Die eerste kultuuraand vind sommer vroeg in die jaar plaas. Dit is die eerstejaarskultuuraand. Vroeer die aand het die eerstejaars 'n heerlike dans-skakel by Irene gehad gevolg deur 'n uitmuntende kultuuraand saam met die swanedames van Venustia. Daar is ons betower deur die dames wat in hul hordes opgedaag het vir die prettige aand. Met swanesang, klavierspel, kitaarspel en gedigte voordra is ons ore bederf deur die eerstejaars van Venustia.

Dit was ook die ideale geleentheid vir die HK's van Kultuur om sommer vroeg vroeg die manne en dames met sangtalent op te spoor vir kleinser. Vernleigh Moodien was braaf genoeg om op sy eie, sonder enige begeleiding vir ons 'n lied te sing. Die skare was gaande oor sy sang en hy het die dames aan sy lippe gehad.

Michael Pienaar, Lombaard van Jaarsveld en Carlo Olivier het 'n gedig voorgelees vir die dames...

Uitmuntende sangvernuf is opgespoor toe Rudolf Frick en John Genis saam 'n duet vir ons gesing het.

Tinus Vermeulen en Ruan du Ploy het ook die meisies gevlei met 'n gedig en afgesluit deur twee rose uit te deel. Romanties soos... 'n Romantiese fliek?

Die ses tenore, Meyer Faan van der Merwe, Peter Steenkamp, Beuton Nero, Arnaud du Toit, Johan Blignaut en Jeandre Brink het met hulle weergawe van "You Raise Me Up" veroorsaak dat die hele leeskamer saamsing. Dit was byna so mooi soos die Universiteitskoor gewees...

Die aand is afgesluit deur Visser Gildenhuys wat soos 'n vis op droee grond gespartel het toe hy vir ons 'n paar danspassies uitgevoer het. Die manne en dames het oopmond gestaar na die talent wat ons voor ons te siene gehad het.

Dit was werklik 'n lekker kultuuraand en ons sien uit na die volgende een!!

Groetnis!