Huis Marais
 
 
 
 

Molassasêr 2013

2013/02/20...

Onder die bekwame hande van Naude van der Merwe en Piet Lourens het ons vanjaar 'n ongelooflike deurbraak op die massasêr-gebied gemaak... Ons dring op 20 Februarie deur na die finale rondte van die massasêr wat op Vrydag 22 Februarie in die Kleine Libertas aangebied word. Anders as in 2007 gaan die koshuis voluit om die beker te gaan haal.

Van populêre liedjies soos Blow my whistle baby (Flo rida), Grenade (Bruno Mars) en On top of the World (Imagine Dragons) tot goue treffers soos Ring of Fire (Johnny Cash), I wanna grow old with you (Adam Sandler) asook 'n afrikaanse treffer Ken jy My (Bobby van Jaarsveld) het ons die skare behoorlik gaande gehad.

Die voorgeskrewe liedjie, Ain't no rest for the Wicked (Cage The Elephant), was ook 'n lekker liedjie om te sing met snaakse danspassies. Jaco Louw-djar was 'n boom gewees en 'n paar van die twarre was soos vurige vlamme wat oprys in die donker! Meyer van der Merwe het pragtige fluit-passies vir die dames uitgevoer en ons het selfs die meisies bederf met 'n roos of twee.

Die ander koshuise wat ook deurdring na die finaal toe is Huis Visser, Majuba en Pieke. Die dameskoshuise is Huis Francie van Zijl, Heemstede, Nerina en Serruria.

Vanjaar kom die kultuurbeker en die Sauer huistoe!!

 

2013/02/23

Die finaal... Die manne het breebors op kampus paradeer en met 'n lied in hul hart gestap. Die manne het hul Vrydagmiddag tutoriale kortgeknip om gereed te maak. By middagete het die lepels gesels soos in die goeie ou dae, want almal het geweet: Die Huis maak vandag geskiedenis. Huis Marais is in die molassaser finaal.

Ons neem Vrydag, 22 Februarie by Kleine Libertas deel. Op die nippertjie besluit Wynand Viljoen, Piet Lourens en Naude van der Merwe om 'n storielyn by ons molassaser te sit, siende dat van die dames aan ons genoem het dat dit al is wat kort in ons molassaser. Die storie gaan oor Stellenbosch se parkeerprobleem. Die rede vir die parkeerprobleem is toe weens Juicy Lucy (Billy Viljoen) se 200 motors wat sy aanhou op Stellenbosch. Maar in elke storie is daar 'n held, en dit is waar Mighty Marais (Jeandre Brink) na vore kom. In sy poging om die probleem op te los, raak hy toe verlief op Jucy... Die gehoor was gaande oor ons weergawe van Stellenbosch se parkeerprobleem en hoe ons dit gaan oplos.

Die Huis behaal 'n vierde plek (Wenners: Majuba, Tweede: Huis Visser, Derde: Pieke), waaroor ons aanvanklik bietjie teleurgestel was. Maar ons het besef hoe groot prestasie ons reeds bereik het deur na die finaal te gaan. Ons is vas oortuig dat volgende jaar wanneer die koshuis groter is, gaan ons soos Die Fluitspeler van Hamelin die gehoor aan ons voete he!

Groete, tot dan!