Libertas Geskiedenis
Libertas...?
Dìe PSO Manswyk Libertas is gestig in 1973. Die HK Huis, verskaffer van verblyf aan Libertas Huiskomitee lede, is in Victoriastraat, Stellenbosch. Dit vorm deel van die Universiteit van Stellenbosch en is dus baie sentraal op kampus geleë. Die wyk dien tans as ‘n voorloper onder die PSO wyke van Stellenbosch Universiteit, in meer velde as net rugby, sokker en sosiaal.
Ons wyk is vernoem na die Libertas plaas op Stellenbosch, wat Oom Robbie Blake (oud Matie) destyds in 1941 gekoop het. Oom Robbie word ook geken as die President van Libertas, siende hy destyds ‘n groot rol gespeel het in die jaarlikse verwelkoming van eerstejaars by Libertas. Oom Robbie het gewoonlik ‘n inspirerende toespraak gelewer tydens ontgroenings week en dit dan afgesluit met ‘n lekker braaivleisie aan die einde van die ontgroening.
Meer spesifiek is die woord Libertas afkomstig van die latynse woord liberty of ten wel libertyn, wat beteken - “freedom of choice” - of uit die Romeinse slaverny era - “Vryheid is krag”. Hierdie doelstelling spruit uit na die wonderlike bestaan van Libertas, hoe die wyk funksioneer en uitreik na die Studente van Stellenbosch.
Oorspronklik strek die Libertas wyk se grense nie net in Stellenbosch, maar tot in die Strand omgewing. Uit dìe “vryheid van keuse” was daar al menigde studente wat hulself as lid van Libertas beskou het om deel te wees van die ongelooflike broederskap ervaring.
In die 36 jaar wat Libertas bestaan, het die wyk al verskeie blink talente aan die RSA gelewer. Oom Robbie, Carel du Plessis, Robbie Blair, Willie du Plessis, Edrich Lubbe, Nico Wegner, Mornay Visser en Kobus Burger het almal uitgedraf op die rugbyveld as 'n trotse Springbok in die jare 1977 tot 1995.
Huidiglik is daar talle landmerke van Libertas se geskiedenis en herkoms wat gevestig is in Stellenbosch. Seker die oudste kenmerk is die Libertas Huis, wat deur Jan Hoffman gebou was in 1771. Die huis is te sien naby die Oude Libertas Amfiteater en wynkelder, oorkant Distell, destyds Stellenbosch Farmers Wynerie, op die Polkadraai pad.

* Die Ou Libertas Huis, tans gerestoreer en relatief gemoderniseer.
Die Oude Libertas Wynkelder is een van Suid-Afrika se oudste wynkelders. Die Oude Libertas is in die Suid-Afrikaanse wynbedryf en Stellenbosch se oudste en mees skilderagtige amfiteater. Dit is in 1977 luisterryk ingewy met ’n uitvoering deur die wêreldberoemde Russiese pianis en dirigent, Vladimir Ashkenazy.D
Die oorwegend Spaanse argitektuur is geïnspireer deur die Tarragon Amfiteater in Spanje en die Veakion Amfiteater in Piraeus, Griekeland. Oor die afgelope 32 jaar het die Oude Libertas Amfiteater ontwikkel tot dié tuiste van sterre onder die sterre met ’n wye verskeidenheid kunstenaars wat jaarliks in die somermaande hier optree.
Die intimiteit van die teater maak dit ’n geskikte verhoog vir verskeie kunsvorme en van Suid-Afrika se beste kunstenaars tree hier op. Met ’n uitsig oor die Stellenbosch berge en wingerde, pragtige ou bome en goedversorgde tuine, is die Oude Libertas ’n piekniekparadys vir besoekers en ’n bestemming vir alle kunsliefhebbers.
* Oude Libertas Amfiteater en piekniek area
Nie net bestaan die Oude Libertas nie, maar ook die Kleine Libertas Teater. Dit word vandag deur menigde studente besoek vir die uitsonderlike live “rock” shows en verskeie Hoërskool en Drama Fakulteit toneel optredes. Tog het hierdie teater ook ‘n geskiedenis van sy eie wat oorsprong uit die destydse Libertas Teater Klub...
Die Libertas Teater Klub is op 5 April 1960 in Stellenbosch gestig nadat plaaslike toneelliefhebbers reeds lank van so 'n klub gedroom het. Die klub, eers net bekend as die Libertas Teater Klub, se hoofkantoor was in die ou Wynkelder op die plaas Vredelust in Dorpstraat. Vandag is die bekende De Kelder Restaurant daar gehuisves. In 1967 het die klub verskuif na 'n ou stal op die Bergzicht-terrein waar dit vandag nog gesetel is.
Tot 1994 was die Libertas Teater uitsluitlik 'n amateurklub. Die naam het intussen verander na die Klein Libertas Teater om dit te onderskei van die Oude Libertas Teater by Distell. Soos wat politieke strukture in die land verander het en die kunsterade verval het, het kunstenaars toe self begin werk skep en ruimtes gesoek om op te tree. Die Klein Libertas Teater word nou al hoe meer deur professionele kunstenaars gebruik.
Hierby bestaan daar ook die Libertas manne koor wat in Januarie 1989 gestig is om ‘n nuwe gees van vertroue en eenheid in ‘n land met ‘n verdeelde samelewing te vestig. Die Libertas manne koor is vandag nog aktief en is betrek by talle gemeenskaps projekte en kulturele bewegings.
Die Libertas naam en vestiging was die eerste antwoord op die uitbreiding en vestiging van die eens gesamentlike PSO (Privaat Studente Organisasie) van Stellenbosch Universiteit.
Die geskiedenis en naam van Libertas leef voort in die studente wat hul "vryheid van keuse" toepas op die broederskap en gesellige byeenkomste. Nie net die huidige nie, maar ook die Oud Libertonians laat hul aksies reflekteer op die kameraderie wat hul uit Libertas geleer het.
Tassies Events
| No events |


