|
Vir weke het talle eerstejaars in spanning gewag vir die groot gebeurtenis- die Big Scream was amper op ons. ’ n Fantastiese 5 min van algehele chaos en geraas in die andersins eksamen onderdrukte stil gange van Minerva. Sommige eerstejaars was teen 21:55 so opgewerk dat toe die interkomstelsel die eerste keer “piep”, was hulle slag gereed om te begin skree- hulle is egter vriendelik ingelig deur ‘n paar behulpsame seniors dat daar inderdaad ‘n “countdown” is vir Big Scream. So drom tien talle eerstejaars toe saam in die gange en wag in spanning, en toe die “countdown”
begin het selfs Klingel kat geweet- nou moet ek spore maak- slim besluit Klingel- want vir 5 hele minute het die dames van Minerva al hulle eksamen frustrasies uit gegil soos net Minerva Dames kan. Gelukkig was almal in goeie gees en was daar nie enige klagtes oor die geraas nie, self sommige van die sluipers het Big Scream as die ideale geleentheid gesien om hul debuut verskyning aan die eerstejaars te maak en bietjie eksamen stres te ontlaai.
Big Scream het egter nie teleurgestel nie en het gesorg vir heelwat goeie herineringe. Wie sal ooit Seksie 3 en 11 se gil-treintjies deur Minerva vergeet, of die lagwekkende uitdrukking op selfs die kalmste en koelste komkommer eerstejaar se gesig as sy skree tot sy rooi is, of die geluid van amper 200 meisie wat saam skree net omdat ons kan, of die feit dat sekere mense spesiaal al die pad van die SS af geloop het net vir hierdie eksklusiewe 5 min gebeurtenis en toe na die tyd weer al die pad terug geloop het. Beste van als was seker om die HK op die voorgras te sien skree, mens vergeet partykeer hulle is ook net mense wat ook gefrustreerd raak en die uitdrukkings op meeste van hul gesigte sal ek vir niks in die wêreld verruil nie. Daar is min dinge in die lewe wat so lekker is soos om te skree as die frustrasies in jou op borrel, dis ‘n natuurlike reaksie en dis skadeloos, behalwe vir jou buurvrou se ore natuurlik, maar tegnies gesproke is dit minder skadelik as wanneer jy in jou frustrasie haar per ongeluk met ‘n koppie raak gooi.
Op 25 Mei het talle Minerva eerstejaars hul eerste Big Scream beleef en meeste van hulle wens ons kon dit elke aand tydens die eksamen gedoen het.
|
|
|