Skip to main content

Op 3 Maart is `n nuwe CD van uitsonderlike belang in die Konservatorium aan die publiek bekendgestel.  Dit is `n opname van Die Kruisiging, die eerste Johannes-Passie in Afrikaans, wat deur Winfried Lüdemann vir die vyfhonderdste herdenking van die Reformasie in 2017 gekomponeer is.  Martin Berger, Senior Lektor in Koordirigering aan die Departement Musiek, was vir die opname verantwoordelik.  Die uitsonderlikheid van die CD lê daarin dat `n professionele Duitse vokale ensemble onder Berger se leiding met vyf ervare Suid-Afrikaanse soliste saamgespan het om die werk op te neem.  Die talle koorgedeeltes wat in die werk voorkom is deur die ensemble AmaCantus in Afrikaans ingestudeer en in Düsseldorf opgeneem, terwyl die solopartye gelyktydig deur die Suid-Afrikaanse sangers in Stellenbosch opgeneem is.  Dr. Gerhard Roux, dosent in Musiektegnologie aan die Musiekdepartement, was vir die plaaslike komponent van die opname verantwoordelik.  Die finale produk is in Duitsland saamgestel en word nou deur die Duitse CD-maatskappy Guma records wêreldwyd versprei.  Houtskooltekeninge deur die Stellenboschse kunstenaar en oud-Matie Ydi Coetsee is spesifiek vir Die Kruisiging geskep en illustreer die CD se buiteblad en boekie.

By die bekendstelling het Berger die CD as `n uitmuntende voorbeeld beskryf van internasionale samewerking op artistieke en musiektegnologiese gebied tussen die Universiteit Stellenbosch en toonaangewende rolspelers in die buitelandse musiekbedryf.   Hy het bygevoeg dat die Universiteit trots kan wees om aan `n projek van hierdie aard en omvang te kon deelneem.  Dit illustreer dat ons kundigheid tegelyk plaaslik relevant en internasionaal mededingend is.

Die opname gee nie net wêreldwye blootstelling en erkenning aan een van die omvangrykste gewyde vokale werke wat tot nog toe in Afrikaans gekomponeer is nie, maar ook aan Afrikaans as musiektaal.

Belangstellendes kan die CD teen R180 by Fiona Grayer by concerts@sun.ac.za of tel. 021 808 2358 bekom.

Leave a Reply

Close Menu