Skip to main content
Category

Nuus

Die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees is terug!

By Nuus

Te midde van die Covid-19-pandemie, maar met `n positiewe uitkyk op die toekoms, het die  bestuur van die SIKMF begin om uitnodigings vir vanjaar se fees aan alle belangstellendes te rig. Die 17de SKIMF sal van 1 tot 10 Julie 2022 by die Konservatorium, die tuiste van die Universiteit Stellenbosch se Musiekdepartement, plaasvind.

Oor 16 agtereenvolgende jare was die SIKMF `n belangrike gebeurtenis op die opvoedkundige en kunstekalender van die Wes-Kaap.  Die Covid-19-pandemie het ongelukkig meegebring dat die kamermusiekfeeste van 2020 en 2021 afgestel moes word. Voor dit het die fees jaarliks ongeveer 300 studente na Stellenbosch gelok, waarvan ongeveer 80% uit die verskillende provinsies van Suid-Afrika en 20% vanuit die buiteland afkomstig was. Die fees se Artistieke Direkteur, Nina Schumann, nooi jaarliks `n keur van die wêreld se mees vooraanstaande musici uit om op die fees se personeel te dien.

Planne is nou op koers om hierdie ware fees van klassieke musiek met die deelname van `n aantal beminde kunstenaars van vorige jare van stapel te stuur. Hulle is almal gretig om te onderrig, te inspireer en op ons plaaslike verhoë op te tree. Madeline Adkins, Alissa Margulis en Nicholas Dautricourt (viool), Gareth Lubbe (altviool), Marco Silva (trompet), Demarre McGill (fluit) en Weston Sprott (tromboon) is van die kunstenaars uit die VSA, Frankryk, Duitsland en Portugal wat in Suid-Afrikaanse studente en gehore se harte ingekruip het. Saam met `n nuweling soos Knut-Erik Sundquist (kontrabas) en Kyril Zlotnikov (tjello), het hulle reeds hul vaste onderneming gegee om aan die opkomende fees deel te neem.

Studente word uitgenooi om aanlyn te registreer by www.sicmf.co.za.  Die program en besonderhede omtrent kaartjieverkope sal oor ‘n paar maande bekend gemaak word.

 

 

2021 SIKMF gekanselleer weens Covid-19

By Nuus

Na intensiewe beraadslaging het die bestuurskomitee van die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees besluit om vanjaar se fees te kanselleer.  Dit is die tweede keer dat so `n besluit geneem moes word.

Terwyl daaar uitgesien is na die 17de SIKMF, wat soos `n feniks sou verrys uit die as van die Covid-19-pandemie se verwoesting, is die werklikheid dat Covid-19 nog nie verby is nie.

Die Feesdirekteur, Peter Martens, sê:  “Terwyl ons almal hoop op `n verbetering van die situasie wêreldwyd teen Julie en Augustus, kan ons op die oomblik eenvoudig nie `n veilige omgewing waarborg vir meer as 300 studente nie, om nie eers te praat van die omslagtige kwarantynvereistes vir ons internasionale personeellede nie. Ons moet ook in ag neem dat daar tans nog geen betroubare vooruitspelling is vir wanneer openbare konserte weer sal mag plaasvind nie.”

Studente wat reeds vir die SIKMF 2021 ingeskryf en betaal het kan die Fees se Logistieke en Finansiële Bestuurder, Brent Reynolds, skakel vir `n volle terugbetaling by brent@sun.ac.za.

In `n mededeling aan die personeel van die SIKMF 2021 het die Artistieke Direkteur, Nina Schumann, gesê: “Ons is almal verpletter deur hierdie besluit, maar ons hoop dat julle begrip daarvoor sal hê.  Ons is dankbaar vir julle volgehoue ondersteuning en ons hoop vir `n dawerende terugkeer in 2022.”

SICMF nooi studente-musici om in te skryf

By Nuus

Nie net kunsfeeste, teaters, opvoedkundige inrigtings en die vermaaklikheidsindustrie moet deeglik vooruit beplan vir waarskynlik die mees  ontwrigtende jaar vir die kunste nie. Die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees (SICMF) wil ‘n duidelike en positiewe boodskap uitstuur: Die 17de Kamermusiekfees sal wel plaasvind, en wel tussen 26 Julie tot 4 Augustus, en nooi hiermee graag alle studente-uitvoerders uit om tydig te registreer.

Die Feesdirekteur, Peter Martens, bring hulde aan diegene wat die hoogste prys betaal het, maar voeg by “… ons mag nie toelaat dat die pandemie ons vernietig nie. Musiekmaak en musiekopvoeding is deel van die helingsproses, deur die betekenis van inspirasie en opheffing van diegene wat ons deur hierdie moeilike en stil tye gedra het. Verder, terwyl gemeenskapsinteraksie en die viering van die lewe geleidelik weer die norm word, wil ons mense bemagtig deur musiekuitvoering en –opvoeding, ten einde die musiek weer eens te vestig as bemiddelaar van sosiale samesyn in die nuwe normaliteit.”

As deel van die beplanning vir uiterste moontlikhede onderneem die organiseerders van die Fees vergoeding van studente se inskrywingsgeld, sou die Covid-bedreiging die kansellasie van die 2021-Fees noodsaak. Ons vertroue in die oorlewing van die mensdom, en in besonder in die moderne mediese wetenskap, voorsien die SICMF ‘n indrukwekkende ry van internasionle kunstenaars en musiekwerke.

Hou asseblief die oog op die Fees-webwerf www.sicmf.co.za vir meer detail van deelnemers, programme en Computicket kaartjieverkope (hopelik vanaf ongeveer 1 Junie). Die aanlyn deelnemersvorm vir studente – is reeds beskikbaar.

Weense Tjellotoekenning

By Nuus

Hoewel konsertsale en musiekfeeste die afgelope paar maande deur die Covid-19-pandemie stilgemaak is, het individue en musiekorganisasies wêreldwyd gepoog om die betowering van lewendige musiekuitvoering deur middel van “live streaming” aan die gang te hou. `n Belangrike aspek van die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees se breë doelwit is gemik op musiekopleiding. Bykomstig tot die uitvoerings, meesterklasse en afrigting van ensembles in die jaarlikse program is `n besondere fokuspunt die spesiale toekennings wat deur goedgunstige plaaslike en internasionale borge aan studente gemaak word.

Op 16 Augustus vanjaar is tjellostudente van die Kamermusiekfees uitgenooi om aansoekbriewe in te dien vir `n baie besondere toekenning: `n waardevolle tjello en strykstook wat deur Mev. Gila Marshall geskenk is. Die tjello het aan haar vader behoort en sy het dit van Wene af terug na Suid-Afrika gebring. Sy koppel wonderlike herinneringe aan haar vader se liefde vir musiek en musiekmaak aan dié instrument. Sy het die plaaslike tjelliste Graham du Plessis en Peter Martens (laasgenoemde ook in sy hoedanigheid as Direkteur van die SIKMF) bedank vir hul aanmoediging om die tjello weer in die hande van `n tjellis te plaas. Sy voel dat dit na al die jare nou tyd geword het dat die instrument weer gespeel word. Dit is haar uitdruklike wens dat die toekenning as die “Weense Tjellotoekenning” bekend staan.

Veertien aangrypende briewe van talentvolle jong Suid-Afrikaanse tjelliste is ontvang en saam met haar man Chris het Gila Marshall besluit om die instrument aan Nastassja Pretorius te skenk.  Nastassja studeer tans vir `n Honneursgraad in tjello aan die Universiteit Stellenbosch. Sy is van Ruyterwacht afkomstig en dit is haar groot droom om eendag by `n professionele simfonieorkes aan te sluit.

Die bestuur van die SIKMF dra sy hartlike dank oor aan Chris en Gila Marshall vir hierdie grootmoedige gebaar en hulle wens Nastassja Pretorius geluk met die toekenning. Hulle rig ook `n spesiale woord van dank aan die firma Pirastro vir sy lang verbintenis met die SIKMF en vir die skenking van `n nuwe stel handvervaardigde Edition-tjellosnare vir die instrument.

Huldeblyk aan prof Eric Rycroft

By Nuus

Ek het as eerstejaar in 1980 vir die eerste keer kennis gemaak met “Eric” (soos almal hom genoem het), toe ek by hom begin les neem het, in sy Stellenbosse Strykorkes gespeel het (vir meer as 10 onvergeetlike jare) en ook in 1981 die stigting van die USSO deur hom meegemaak het. Ek het hom ook beleef as fantastiese Leieraltvioolspeler in die KRUIK-Orkes in die jare wat ek daar gespeel het.

Eric was as leermeester die beste persoon ooit by wie ek kon beland na my onderrig by Jack de Wet tydens my skooljare. By Jack de Wet het ek ʼn wonderlike tegniese grondslag ontvang; by Eric het ek geleer wat musikale spel, frasering en stylgetroue uitvoering beteken. Ek het 3 Lisensiate onder hom gedoen en 8 jaar les geneem by hom – ek wou nie ophou nie. Nie een oomblik daarvan was leeg nie.

Toe ek hom na sy ernstige ongeluk moes opvolg as dirigent van die USSO, het ek gewonder hoe ek sy skoene sou kon volstaan. Die aantal werke wat hy aangepak het, en die uiteenlopende aard en standaard daarvan, is werklik verstommend. Hy het vir geen projek teruggedeins nie: ek sou byvoorbeeld nooit die Gounod-Mis aanpak met my koor nie, want die orkespartituur vereis 6 (!) harpe. Eric het die Gounod gedoen – met 6 harpe op die verhoog.

Dit is uitsluitlik aan hom te danke dat ek ʼn deeglike kennis van werke vir strykorkes kon opdoen – daar is byna geen werk vir strykorkes, vanaf Barok tot 20ste eeu, wat ons nie onder hom gedoen gedoen het oor die jare, ook oorsee nie. Dit is ook aan hom te danke dat ek soveel geleenthede gehad het om in verskillende ensembles en orkeste in die Kaap te kon speel.

Partykeer kon hy ʼn mens half oorweldig of van die kop af maak as hy op ʼn “mission” was – maar ek het dit altyd verstaan as ʼn produk van sy onuitputlike entoesiasme en begeestering vir musiek. Sy sleutelhouer het baie gepas die woorde gedra “Certified crazy person” – “crazy” en onstuitbaar as hy ʼn taak gehad het. By die jaarlikse Orkeskursusse was sy orkes gewoonlik die gewildste een, oor die treffende repertorium wat hy altyd gekies het, en oor die persoon wat hy was met die jongklomp.

Hy was ʼn ruimhartige, vriendelike, entoesiastiese persoon met ʼn sagte hart. Hy was ʼn opregte mens. As ek hom voor my oë sien, sien ek hom met ʼn glimlag op sy gesig, entoesiasties besig om te praat oor sy nuutste projek. So sal ek hom onthou.

Louis van der Watt

Skenking verseker voortsetting van US-sertifikaatprogram

By Nuus

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Sertifikaatprogram (SP) in Musiekgeletterdheid het geld ontvang om ten spyte van die nasionale staat van inperking die voltooiing van die akademiese jaar te verseker.

Volgens Pamela Kierman, ‘n senior dosent by die US se musiekdepartement, sal die skenking sukses vir hul studente verseker. “Die geld sal gebruik word om skootrekenaars aan te koop, aangesien die meeste van ons studente nie hul eie kan bekostig nie. Ons het ook as musiekdepartement data vir studente gekoop ter voorbereiding vir virtuele leer.”

Kierman sê die goedkeuring van hul aansoek vir fondse is ‘n droom wat bewaarheid is, aangesien dit beteken dat die program sonder onderbrekings kan voortgaan. “By die SP glo ons in ‘toegang vir almal’ omdat ‘n groot aantal van ons studente volwassenes is wat reeds moed opgegee het in die lewe. Hierdie geld sal ons help om hulle te help om hul drome te verwesenlik om musiek te studeer.”

Programkoördineerder en senior musiekdosent Felicia Lesch voeg by dat hulle besig is met die aankoop van die skootrekenaars en tablette. Dit sal die eiendom van die SP bly, maar sal tot die studente se beskikking wees om te gebruik. “Dit geld vir studente op al ons kampusse – die Stellenbosch-kampus, die militêre studente en dié wat deel is van die Musiquelaine-projek by die Hoërskool Steenberg in Kaapstad. Sonder toegang tot skootrekenaars is onderrig nie toeganklik vir almal nie,” sê Lesch.

“Die SP is ‘n geleentheid vir studente om hul praktiese en teoretiese vaardighede op te skerp sodat hulle met tersiêre musiekstudies kan voortgaan. Ons wil hê hulle moet dieselfde toegang tot hul studies hê as die res van die studente op kampus.

“Hoewel sommige van ons studente internettoegang het, is daar baie wat nie het nie. Te einde hulle in staat te stel om met hul lesings voort te gaan, het ons befondsing vir skootrekenaars aangevra en ons was gelukkig genoeg om onder die groep te wees wat die befondsing van R129 800 van die Universiteit ontvang het,” sê Lesch.

Die Sertifikaatprogram, wat in 1999 van stapel gestuur is, bied gratis musiekopleiding aan aspirant gemeenskapsmusikante. Volgens Lesch is die program een van die US se musiekdepartement se grootste werwingsbronne.

Sy sê die een-jaar deeltydse program is ‘n wonderlike geleentheid vir gemeenskapsmusikante om hul musiekgeletterdheidsvaardighede te verbeter. Lesch sê 20–30 studente word elke jaar die program gekies.

“Baie van ons studente is baie suksesvol in hul onderskeie musiekloopbane. Ons het ook saam met die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) gewerk om militêre blaasorkeslede op te lei.”

Verskeie gemeenskapsmusiekorganisasies het ook hul oorsprong in die Sertifikaatprogram gehad. Van hierdie projekte sluit in die Liron Kunsteskool, die Athlone Musiekakademie (AAM), die Overberg Koperblaasontwikkelingsprojek (OKOSI), Weskus Musiekakademie (WCMA), die Musiquelaine SA-inisiatief: Hoërskool Steenberg blaasorkes-projek; die Ronnie Samaai-musiekopvoedingsprojek (RSMEP), die Mitchells Plain Akademie vir Musiek en Kuns (MPAMA) en nog baie ander wat ten doel het om gemeenskappe deur musiek te verander.

Vir meer inligting oor die Sertifikaatprogram, klik hier.

Marian Kimmel (11 Maart 1940 – 29 Junie 2020)

By Nuus

Tjelliste Marian Lewin (sy het haar nooiensvan as verhoognaam behou na haar huwelik met Harold Kimmel in 1965) is vir etlike dekades beskou as die doyenne van Suid-Afrikaanse tjelliste. Sy het haar loopbaan begin deur die verwerwing van die Voordraerslisensiat van die Universiteit van Suid-Afrika in 1963, en in 1969 die Internasionale Tjello-week in Nederland meegemaak, en op Eurovision aangewys as beste tjellis.

As orkestjellis, kamermusikus en solis saam met onder meer die SAUK-, die (destydes) Natalse Filharmonie en die (destydse) TRUK-Simfonieorkeste. As dosent was sy ook betrokke by die Universiteit van die Witwatersrand, die Pro-Arte Skool in Pretoria en by die Universiteit van Kaapstad.

Vir sowat 38 jaar  was Lewin die tjellis van die Alma Musica klaviertrio, waarna sy aangesluit het by die Rosamunde- en Schwietering Stykkwartette, die I Grandi Violoncellisti en die Hermanay Fluittrio. Hierbenewens was haar musisering uitgebrei bo en behalwe hierdie kamermusiekensembles waarvan sy permanente lid was. Vir baie jare was sy die mees gesogte plaaslike geleentheidskamermusikus.

Haar liefde en respek vir haar medemens en haar musiek was deurentyd net so eg  as wat dit vrygewig was. Sy was ook geliefd by almal wat aangeraak is deur aangename persoon en voortreflike spel. Suid-Afrika het ‘n groot kunstenaar verloor wie se nederigheid saamgevat word in haar finale versoek  – sy wou geen begrafnis of grafsteen hê nie, en diegene met die nodige middele versoek om gepaste bydraes te maak aan gunsteling liefdadigheidsorganisasies.

Sy is weggeneem sonder lang lyding slegs ‘n paar dae na toelating tot ‘n versorgingsoord naby haar huis in Seepunt, Kaapstad. Sy laat haar geliefde eggenoot Harold, en drie seuns, Bryan, Warren en Gary.

(Dr Peter Martens)

Denis Goldberg “Life is Wonderful”

By NuusNo Comments

Denis Goldberg “Life is Wonderful”

(11 April 1933 – 29 April 2020)

Tribute by the Department of Music / Konservatorium.

​Denis Goldberg, humanis, vryheidsvegter, opperbevel in uMkhonto we Sizwe, politieke gevangene, onvermoeibare maatskaplike kampvegter en een die laaste twee oorlewende Rivonia-verhoordes, is ná ‘n lang stryd teen longkanker oorlede. Hy was 87.

​Goldberg is in 1933 in Kaapstad gebore en het in ‘n huis toegewyd aan die stryd teen apartheid grootgeword. Sy ouers, Annie en Sam Goldberg, is albei in Londen gebore as die kinders van Litause Jode wat in die tweede helfte van die 19de eeu na Engeland geëmigreer het. Goldberg het in 1953 as ‘n siviele ingenieurswese-student aan die Universiteit van Kaapstad by die Modern Youth Society aangesluit. Hy was by die Congress of the People en die vergestalting van die Vryheidsmanifes in 1954/55 betrokke en is in 1960 onder die Noodtoestand vir vier maande ná die Sharpeville-bloedbad aangehou. Goldberg het op 11 Julie 1963 by die ANC se gewapende vleuel, uMkhonto we Sizwe, aangesluit en is op die Liliesleaf-plaas in Rivonia, Johannesburg in hegtenis geneem. Op 31 was hy die jongste man in die beskuldigdebank tydens die Rivonia-verhoor. Ander beskuldigdes was Nelson Mandela, Walter Sisulu, Govan Mbeki, Elias Motsoaledi, Ahmed Kathrada, James Kantor, Lionel (Rusty) Bernstein, Raymond Mhlaba, Bob Hepple en Andrew Mlangeni. Al die mans, behalwe Bernstein en Kantor, is ingevolge die Wet op Sabotasie aangekla en skuldig bevind aan sameswering om die regering omver te gooi en ander klagtes.

Op 12 Junie 1964 het die regter Denis en sy comrades vier lewenslange gevangenisskappe opgelê in plaas van teregstelling. Dennis het met ‘n glimlag op sy gesig na sy angstige moeder uitgeroep en gesê: “Dit is die lewe, en die lewe is wonderlik.” Goldberg het 22 jaar in die gevangenis deurgebring voordat hy op 28 Februarie 1985 vrygelaat is.

Ná sy vrylating het hy in ballingskap gegaan en by sy gesin in Londen aangesluit. In Londen het hy sy werk vir die ANC by die organisasie se Londen-kantoor van 1985 tot 1994 voortgesit. Hy was ‘n woordvoerder vir die ANC en het dit ook by Anti-apartheidskomitee van die Verenigde Nasies verteenwoordig. Goldberg het vir baie jare oorsee gereis om oor Suid-Afrika en die werk wat nodig was om dit verander, te praat.

In 1988 het ‘n groep organisasies van die VSA Goldberg met die Albert Luthuli-Afrikavredestoekenning vereer ter erkenning van sy werk teen apartheid. Op Suid-Afrika se eerste herdenking van die land se eerste demokratiese verkiesing, het Goldberg Community H.E.A.R.T. (Health Education And Reconstruction Training) gestig. Dit is ‘n liefdadigheidorganisasie wat in Londen gesetel is en miljoene rande vir die Rape Crisis Cape Town-stigting ingesamel het en tot op hede het dit al onder meer drie miljoen boeke aan kinders geskenk. Talle ander erkennings en toekennings het gevolg en in 2019 het die African National Congress Goldberg met die organisasie se hoogste eerbewys, die Isithwalandwe / Seaparankoe-toekenning vereer. President Cyril Rampahosa het by die oorhandiging van hierdie eerbewys aan Goldberg en talle ander gesê: “Hul bydrae tot die stryd vir menslike sosiale verhoudinge moet voortgaan om ons dade te rig en te inspireer. Die letterlike vertaling van Isithwalandwe is ‘diegene wat die pluime van die skaars voël dra’, en het hulself as van die dapperste stryders onder ons in die stryd vir sosiale geregtigheid bewys.”

In 2016 het die Universiteit Stellenbosch Goldberg by die 13de Stellenbosse Internasionale Kamermusiekfees (SIKMF) vereer, waar Moments of a Life, ‘n werk wat in opdrag van die SIKMF geskryf is – gekomponeer deur Matthijs van Dijk en uitgevoer saam met Goldberg se voorlesing van sy eie outobiografiese teks – ‘n roerende wêreldpremière in die Endlersaal gehad het. Die teks van Van Dijk se werk is geneem uit Goldberg se outobiografie, A Life for Freedom – The Mission to End Racism in South Africa, met stories oor verskeie rigtinggewende oomblikke in Goldberg se lewe. Van Dijk het die volgende oor sy musikale behandeling van Goldberg se teks gesê: “Omdat die stories oor ‘n tydperk van 1939 tot die hede handel, het ek ‘n baie eklektiese musiekstyl te gebruik. Dit bevat idees wat strek van die kinematiese tot die baie banale glans rock/’hair metal’ van die tagtigerjare, gekombineer met stukkies klubmusiek, wat die kunsmatige “teaterisme” en perversiteit van die mediasirkus rondom die Rivonia-verhoor, as ook ‘vrye jazz’ en minimalistiese idees in die jare van gevangenisstraf om ‘n gevoel van ingehoktheid uit te beeld. (Die volledige uitvoering van hierdie werk kan gesien word by https://www.youtube.com/watch?v=hPqa18xPmZc&fbclid.)

Voor die konset het Goldberg het sy gedagtes oor die belangrikheid van musiek en hoe dit sy lewe gevorm het, in ‘n onderhoud met Mark Gevisser gedeel. Hy het genoem dat sy eie obsessiewe liefde vir musiek nie gedurende sy 22 jaar in die tronk onderbreek is nie. “Ek en my medegevangenes is toegelaat om elke tweede maand ‘n langspeelplaat te koop en in daardie tyd het ons meer as 800 plate versamel – hoofsaaklik opnames van klassieke musiek, maar ook jazz en later Afrika-musiek, insluitende die kwêlafluitjie,” het Goldberg gesê. Hierdie aktiwiteite het sy liefde vir musiek en sy soeke na vryheid versterk – nie net noodwendig vir homself nie, maar vir Suid-Afrika en sy mense.

Goldberg het sy tyd en energie aan verskillende maatskaplike projekte spandeer – en spesifiek oor die laaste paar jaar om die Denis Goldberg-erfenisstigtingtrust op die been te bring. Hierdie trust is verband tot stigting van die Huis van hoop, ‘n sentrum is sy tuisdorp, Houtbaai, wat die bou van kulturele en sosiale brûe deur alle soorte kuns en kultuur sal fasiliteer. Dit is bedoel om ‘n tuiste vir die talle kreatiewe projekte in en rondom Kaapstad en die breër skiereiland te wees. Skilder-, skets-, drama-, Engelse, Afrikaanse en isiXhosa-skryf- en taalvaardighede is die kernbedrywighede. IT-geletterdheid en rekenaarvaardighede sal ook ‘n belangrike deel van die sentrum wees. Behalwe verskeie ateljees vir die projekte, sal die Huis van Hoop ook gestalte gee aan die skepping van ‘n uitvoeringsruimte van wêreldgehalte met ‘n toonaangewende opnameateljee, wat dit gelyk sal stel aan soortgelyke instellings regoor die wêreld om aan jong en ambisieuse Suid-Afrikaanse kunstenaars ‘n platform vir internasionale samewerking te bied. Ondervinding het getoon dat selfs in histories-verdeelde samelewing soos Suid-Afrika s’n, alle soorte musiek, sang en dans mense verenig. Ter ondersteuning van hierdie inisiatief het die Wes-Kaapse provinsiale regering vir die Denis Goldberg-erfenisstigtingtrust ‘n 99 jaar-huurkontrak op die perseel in Andrewsweg, Houtbaai, waar die Houtbaai-museum gesetel is, aangebied. Die trust het in September 2018 die huurooreenkoms saam met die museum se raad van trustees onderteken en op 13 Februarie 2020 het Goldberg die eerste interkulturele geleentheid wat op die terrein waar die Huis van Hoop gebou gaan word, bygewoon.

Goldberg het ná jare se aktivisme gesê die konneksies wat deur kuns en musiek gevorm kan word, voel vir hom belangriker as ooit tevore. “Mense maak saak,” het hy gesê. “Vir my is mense hele punt daarvan om in die politiek wees. Vir my gaan dit nie oor mag nie.”

Jong mense sal kennis en begrip oor Suid-Afrika en sy geskiedenis kan opdoen deur blootstelling aan die Denis Goldberg-galery asook die museum. Die galery sal die kunsversameling wat Goldberg oor baie jare opgebou het en wat talle sfere van die Suid-Afrikaanse samelewing soos hy dit gesien het, huisves, asook ‘n permanente uitstalling wat Goldberg se lewe en bydrae tot ‘n demokratiese Suid-Afrika uitbeeld.

Denis Goldberg word met warmte, omgee en dankbaarheid as ‘n nederige en deernisvolle mens onthou wat sy lewe gegee het om vryheid en menseregte vir die gewone mens na te jaag en wat homself in diens van die mensdom gestel het. Hy was ‘n buitengewone en dapper vryheidsvegter wat die volbringing van sy generasie se missie om politieke bevryding te bewerkstellig en ‘n stewige grondslag vir ‘n demokratiese regering in Suid-Afrika te lê.

Rus in vrede, Dennis Goldberg (11 April 1933–29 April 2020).

  • Artikel deur Fiona Grayer, Artistike Bestuurder van die Departement Musiek, Universiteit Stellenbosch.

Alumni nuus

By NuusNo Comments

Lucinda Watts en Roché van Tiddens, twee oud maties is verloof. Die paartjie het mekaar in 2011 ontmoet by die konservatorium, waar hulle studeer het. Lucinda se spesialiteit rigting was musiek opvoedkundige, met klavier as hoof instrument. Sy het ook, onder andere, in die gemeenskap projek Jamestown Sounds vir minderbevoorregte kinders musiek les gegee. Roché het musiek komposisie onder leiding van, Hans Roosenschoon, gestudeer. Na afloop van sy meesters graad het Roché besluit om in Engeland verder te gaan studeer, waar hy ‘n nagraadse diploma in komposisie by die ‘Royal Birmingham Conservatoire’ behaal het. In tussen het Lucinda ‘n pos by Bastion Laerskool gehad as ‘n musiek onderwyseres, en is daarna ook saam met Roché na Engeland toe. Na ‘n jaar in Engeland het die paartjie na Den Haag, Nederland toe getrek waar Lucinda ‘n meesters graad in Musiek opvoedkunde by die ‘Royal Conservatory’ behaal het. Roché het ook ter selfde tyd die een-jaar kursus in Sonologie voltooi.

Vir Lucinda se meesters navorsing het die twee die musiek projek, Krabmuziek gestig (krabmuziek.wordpress.com). Die projek bestaan uit werkswinkels vir kinders. Met behulp van tasbare elektroniese klank generators, kan die kinders kreatief met klanke eksperimenteer en deur middel van verskeie komposisionele aktiwiteite hulle klanke in musiek omskep. Die projek is dus ‘n samesmelting van beide die twee se individuele belangstellings, elektroniese musiek komposisie en musiek opvoedkunde. Die werkswinkel behels dat deelnemers hulle eie elektroniese instrumente bou. Die instrumente bestaan uit eenvoudige toerusting soos batterye, luidsprekers en kontakt mikrofone. Na afloop van die werkswinkel voer die deelnemers die musiek wat hulle gemaak het uit, in ‘n klein konsert vir hulle ouers. Na die loods werkswinkel van agt deelnemers,  het die projek ontwikkel en uitgebrei. In 2019 is Krab Muziek genooi om deel te neem aan die jaarlikse ‘Rewire’ musiek fees (https://www.rewirefestival.nl/artist/creative-sound-lab). Behalwe vir die Krab Muziek werkswinkels, het Lucinda ‘n private klavier studio en gee ook viool les by die ‘British School in the Netherlands’.

Roché werk op die oomblik aan ‘n nuwe komposisie, Dumelang, vir koor en live elektronika. Die komposisie is ‘n opdrag vir die ‘Haags Toonkunstkoor’, waarvan Roché ‘n lid is, wat vir 200 jaar lank al bestaan. Dumelang se teks bestaan uit hoe mense mekaar in de 11 amptelike tale van Suid-Afrika groet en die musiek maak gebruik van klank opnames uit die bosveld van ‘n natuur reservaat in die Limpopo provinsie. Die bedoeling van die teks is om die diversiteit van Suid-Afrika te vier. Dumelang sou as deel van die ‘75ste jaar bevrijdingsdag  feest’ op die 5de Mei 2020 uitgevoer word, maar ongelukkig is die uitvoering as gevolg van COVID-19 uitgestel. Besoek gerus Roché se webwerf om na sy komposisies te luister (rochevantiddens.wordpress.com).

Die gelukkige paartjie beplan om in die Wes-Kaap in 2021 te trou.

Bekendstelling van CD Die Kruisiging

By NuusNo Comments

Op 3 Maart is `n nuwe CD van uitsonderlike belang in die Konservatorium aan die publiek bekendgestel.  Dit is `n opname van Die Kruisiging, die eerste Johannes-Passie in Afrikaans, wat deur Winfried Lüdemann vir die vyfhonderdste herdenking van die Reformasie in 2017 gekomponeer is.  Martin Berger, Senior Lektor in Koordirigering aan die Departement Musiek, was vir die opname verantwoordelik.  Die uitsonderlikheid van die CD lê daarin dat `n professionele Duitse vokale ensemble onder Berger se leiding met vyf ervare Suid-Afrikaanse soliste saamgespan het om die werk op te neem.  Die talle koorgedeeltes wat in die werk voorkom is deur die ensemble AmaCantus in Afrikaans ingestudeer en in Düsseldorf opgeneem, terwyl die solopartye gelyktydig deur die Suid-Afrikaanse sangers in Stellenbosch opgeneem is.  Dr. Gerhard Roux, dosent in Musiektegnologie aan die Musiekdepartement, was vir die plaaslike komponent van die opname verantwoordelik.  Die finale produk is in Duitsland saamgestel en word nou deur die Duitse CD-maatskappy Guma records wêreldwyd versprei.  Houtskooltekeninge deur die Stellenboschse kunstenaar en oud-Matie Ydi Coetsee is spesifiek vir Die Kruisiging geskep en illustreer die CD se buiteblad en boekie.

By die bekendstelling het Berger die CD as `n uitmuntende voorbeeld beskryf van internasionale samewerking op artistieke en musiektegnologiese gebied tussen die Universiteit Stellenbosch en toonaangewende rolspelers in die buitelandse musiekbedryf.   Hy het bygevoeg dat die Universiteit trots kan wees om aan `n projek van hierdie aard en omvang te kon deelneem.  Dit illustreer dat ons kundigheid tegelyk plaaslik relevant en internasionaal mededingend is.

Die opname gee nie net wêreldwye blootstelling en erkenning aan een van die omvangrykste gewyde vokale werke wat tot nog toe in Afrikaans gekomponeer is nie, maar ook aan Afrikaans as musiektaal.

Belangstellendes kan die CD teen R180 by Fiona Grayer by concerts@sun.ac.za of tel. 021 808 2358 bekom.

Close Menu