Skip to main content

Hans Roosenschoon

By September 15, 2016December 5th, 2016Uncategorized @af

hroosen@sun.ac.za

Die komponis Hans Roosenschoon het musiek studeer in Suid-Afrika en Engeland (Division V [Composition], Royal Academy of Music, Londen, 1978; MMus [Komposisie] cum laude, Universiteit van Stellenbosch, 1989; DMus [Komposisie], Universiteit van Kaapstad, 1991).

Hy word deur die belangrikste liggame in Suid-Afrika om kommissies vir komposisies genader, waarvan orkeswerke die grootste deel uitmaak. Behalwe vir talle uitvoerings regoor die land, is sy musiek gespeel en uitgesaai in die VSA, in verskeie Wes- en Oos-Europese lande, Australië en in die Verenigde Konkinkryk. Sy diskografie sluit opnames vir die SABC se transkripsiediens in sowel as ’n verskeidenheid kommersiële opnames.

Hans Roosenschoon het ook belangrike bydraes op kultuurgebied in ander areas gelewer: as uitsaaier en musiekvervaardiger, as kunsadministreerder en promotor van Suid-Afrikaanse musiek, as beoordelaar by nasionale kompetisies en, vir 15 jaar, as direksielid van die Suid-Afrikaanse Musiekregte-organisasie (Samro).

In 2004 was Roosenschoon besoekende professor in komposisie aan die Mozarteum Universiteit, Salzburg, en in 2007 bied hy seminare aan oor sy musiek by die universiteite van Bristol en York in die VK. In November 2009 lewer hy die hoofrede by die konferensie Musiek en Migrasie wat deur die Nieu-Seeland Musiekwetenskapvereniging georganiseer en by die Universiteit van Canterbury in Christchurch aangebied is. In 2013 bied hy ’n seminaar oor sy musiek aan by die Koninklijk Conservatorium Den Haag, Nederland.

Vanaf 1998-2006 was Hans Roosenschoon die voorsitter van die Musiekdepartement en direkteur van die Konservatorium aan die Universiteit van Stellenbosch. Met sy uittrede as voorsitter wy hy sy aandag aan die instelling van ’n kursus in komposisie en orkestrasie. Vervolgens is die spesialisasierigting in komposisie in 2008 op voor- en nagraadse vlak aan die US ingestel, wat sedertdien gevestig is as een van die vooraanstaande kursusse van sy soort in SA.

http://www.roosenschoon.co.za

Close Menu