Skip to main content

Ek het as eerstejaar in 1980 vir die eerste keer kennis gemaak met “Eric” (soos almal hom genoem het), toe ek by hom begin les neem het, in sy Stellenbosse Strykorkes gespeel het (vir meer as 10 onvergeetlike jare) en ook in 1981 die stigting van die USSO deur hom meegemaak het. Ek het hom ook beleef as fantastiese Leieraltvioolspeler in die KRUIK-Orkes in die jare wat ek daar gespeel het.

Eric was as leermeester die beste persoon ooit by wie ek kon beland na my onderrig by Jack de Wet tydens my skooljare. By Jack de Wet het ek ʼn wonderlike tegniese grondslag ontvang; by Eric het ek geleer wat musikale spel, frasering en stylgetroue uitvoering beteken. Ek het 3 Lisensiate onder hom gedoen en 8 jaar les geneem by hom – ek wou nie ophou nie. Nie een oomblik daarvan was leeg nie.

Toe ek hom na sy ernstige ongeluk moes opvolg as dirigent van die USSO, het ek gewonder hoe ek sy skoene sou kon volstaan. Die aantal werke wat hy aangepak het, en die uiteenlopende aard en standaard daarvan, is werklik verstommend. Hy het vir geen projek teruggedeins nie: ek sou byvoorbeeld nooit die Gounod-Mis aanpak met my koor nie, want die orkespartituur vereis 6 (!) harpe. Eric het die Gounod gedoen – met 6 harpe op die verhoog.

Dit is uitsluitlik aan hom te danke dat ek ʼn deeglike kennis van werke vir strykorkes kon opdoen – daar is byna geen werk vir strykorkes, vanaf Barok tot 20ste eeu, wat ons nie onder hom gedoen gedoen het oor die jare, ook oorsee nie. Dit is ook aan hom te danke dat ek soveel geleenthede gehad het om in verskillende ensembles en orkeste in die Kaap te kon speel.

Partykeer kon hy ʼn mens half oorweldig of van die kop af maak as hy op ʼn “mission” was – maar ek het dit altyd verstaan as ʼn produk van sy onuitputlike entoesiasme en begeestering vir musiek. Sy sleutelhouer het baie gepas die woorde gedra “Certified crazy person” – “crazy” en onstuitbaar as hy ʼn taak gehad het. By die jaarlikse Orkeskursusse was sy orkes gewoonlik die gewildste een, oor die treffende repertorium wat hy altyd gekies het, en oor die persoon wat hy was met die jongklomp.

Hy was ʼn ruimhartige, vriendelike, entoesiastiese persoon met ʼn sagte hart. Hy was ʼn opregte mens. As ek hom voor my oë sien, sien ek hom met ʼn glimlag op sy gesig, entoesiasties besig om te praat oor sy nuutste projek. So sal ek hom onthou.

Louis van der Watt

Close Menu