Skip to main content

Luis Magalhães

By September 15, 2016August 23rd, 2022Uncategorized @af

luis@luismagalhaes.com

Luis Magalhães het reeds groot lof as solis en kamermusikus ontvang, en hy is al beskryf as ʼn pianis met ’n “wonderlike vol klank” (American Record Guide) en “afgeronde, verfynde tegniek” (Allmusic.com). Benewens talle optredes in Suid-Afrika en sy geboorteland Portugal, het Luis ook sy buiging gemaak in Duitsland, Oostenryk, die Verenigde Koninkryk, Pole, Nederland, Spanje, Switserland, Rusland, Frankryk, Italië, Brasilië, China, Japan, Zimbabwe, Mosambiek en die Verenigde State van Amerika.

In die ateljee het Luis saam met Frank Stadler, Priya Mitchell, Daniel Rowland, Julian Arp, Gareth Lubbe, Madeline Adkins, Peter Martens en James Austin Smith gewerk. Hierdie vennootskappe het tot gloeiende resensies gelei sowel as ’n gesogte Suid-Afrikaanse Musiektoekenning (Sama) in 2011. As die een helfte van die Schumann-Magalhães-duo, beter bekend as TwoPianists, het Luis ook ’n verdere vier hoogaangeskrewe CD’s vrygestel, met nog een binnekort op pad. Hierdie samewerking met Nina Schumann is al vergelyk met die duo’s van Ashkenazy-Previn en Argerich-Freire (American Record Guide).

Luis is medestigter van die onafhanklike platemaatskappy, TwoPianists Records, wat sowel plaaslike as internasionale toekennings ontvang het. Hy is medestigter van die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees, wat sedert 2004 dié voorste klassiekemusiekfees op Afrika-bodem geword het. Hy is ook medestigter van die Stellenbosch Internasionale Klaviersimposium. Luis verwerf in 2011 ’n DMus-graad aan die Universiteit van Kaapstad en is tans medeprofessor aan die Universiteit van Stellenbosch. Luis het ook uitvoerig meesterklasse sowel as lesse aangebied by die befaamde Juilliard Skool in New York, en ook by talle universiteite in Europa, Asië en die Verenigde State van Amerika. As ’n kundige pianis en pedagoog, het Luis ook op die beoordelaarspanele van baie wedstryde gedien, ingesluit die gesogte Tsjaikofski Internasionale Klavierkompetisie vir Jong Musici (2012). Luis is ’n Yamaha International-kunstenaar.

Close Menu