Skip to main content

Nina Schumann

By September 15, 2016October 27th, 2016Uncategorized @af

nina@twopianists.com

Nina Schumann kom uit ’n musikale gesin, en ontvang haar vroeë musiekopleiding van Rona Rupert en Lamar Crowson. Haar eerste optrede saam met ʼn orkes was op 15-jarige ouderdom en haar talent trek vinnig die publiek se aandag toe sy die Vyfde Nasionale Musiekkompetisie vir Hoërskoolleerders in 1988 wen. Daarna wen sy die Oude Meester Musiekprys (1989), die Forté Kompetisie (1990) en in 1991 sowel die Wooltru Beurs as die Adcock-Ingram Musiekprys. Sy het meer as 140 concerto-uitvoerings saam met orkeste in Suid-Afrika, Duitsland, Portugal, Skotland, Armenië en die Verenigde State op haar kerfstok, en ongeveer 40 concerto’s in haar repertorium.

In 1993 wen Schumann die Samro Oorsese Beurskompetisie, en die Jules Kramer en Harry Crossley-beurse vir oorsese studies aan die Universiteit van Kaapstad word aan haar toegeken. Sy gaan nog verder deur die gesogte SAUK Musiekprys sowel as die Oude Meester Nasionale Kamermusiekkompetisie in te palm. Internasionale toekennings het gevolg: sy wen pryse vir die Beste Suid-Afrikaanse Pianis in die 1993 UNISA Internasionale Klavierkompetisie, is finalis en spesiale pryswenner by die Shreveport Concerto-kompetisie (1996) en verwerf die derde plek in die Casablanca Internasionale Klavierkompetisie (1997).

Ná voltooiing van haar MMus aan die Universiteit van Kalifornië, Los Angeles, skryf Schumann in vir ’n doktorsgraad in musiek aan die Universiteit van Noord-Texas onder die toesig van Van Cliburn-wenner, Vladimir Viardo. Sy ontvang ’n aantal akademiese pryse: Dekaansmedalje (UK), Beste uitvoerende kunstenaar (UCLA), Beste uitvoerende kunstenaar (UNT), Beste pianis (UNT) en Beste doktorale student (UNT). Met haar aanstelling as medeprofessor en hoof van klavier aan die Universiteit van Stellenbosch in 1999, word haar doktorsgraad na die Universiteit van Kaapstad oorgeplaas, en die graad in 2005 aan haar toegeken. In 2009 ontvang sy die Universiteit van Kaapstad se Rektorstoekenning vir Uitnemendheid ter erkenning van haar bydrae tot musiek.

Buiten haar sololoopbaan en akademiese lewe, het Schumann ’n hoogaangeskrewe duo gevorm saam met haar man, die pianis Luis Magalhães, eenvoudig getiteld TwoPianists. Hulle CD’s het gloeiende resensies van internasionale publikasies soos Diapason, International Record Review en Allmusic.com ontvang. In 2011 benoem American Record Guide hulle tweede CD as Redakteurskeuse.

Saam met Magalhães is Schumann stigterslid en direkteur van TwoPianists Records, wat wêreldwyd deur Naxos versprei word en sodoende onmiddellike toegang tot die internasionale mark verseker vir die kunstenaars met wie hulle opnamekontrakte sluit. Vir twee agtereenvolgende jare het TwoPianists Records die Suid-Afrikaanse Musiek-toekenning (Sama) vir die Beste Populêre Klassieke Album gewen. Schumann se eerste opname saam met mezzo-sopraan Michelle Breedt, Shakespeare Inspired, het ook die Duitse Critics’ Choice-toekenning ontvang.

Schumann het wêreldwyd by gesogte internasionale instellings en musiekskole, soos die Juilliard Skool, meesterklasse aangebied. Gedurende die 2013/2014-seisoen lewer sy haar langverwagte Wigmore Hall en Zürich Falke debute.

Sedert Mei 2014 is Nina Schumann ʼn Yamaha International-kunstenaar.

Close Menu