Skip to main content

Pamela Kierman

By September 14, 2016February 2nd, 2022Uncategorized @af

pkierman@sun.ac.za

Pamela Kierman verwerf die grade BMus aan die Universiteit van Port Elizabeth in 1983 en MMus aan die Universiteit van Stellenbosch in 2009. Sy het in haar voorgraadse jare veral as verwerker en begeleier met kinderteater en die RAD Ballet gewerk. As Fransehoringspeler was sy lid van die Prince Alfred Guard Band en eerste horing van die voormalige KRUIK-orkes in Port Elizabeth. Sy onderrig koperblaasinstrumente in die orkesprogram by Alexander Road Hoërskool vanaf 1986-1987 tot en met haar vertrek na Kaapstad waar sy aangestel is as koperblaasspesialis by Hoërskool Voortrekker in Julie 1987. Sy neem deel aan die opgradering van die SACC-orkes in Wynberg, nou die Suid-Afrikaanse Weermagorkes, gesetel te Youngsfield, Kaapstad en in 1991 word sy as koperblaasonderwyser by Hoërskool Plumstead aangestel waar sy aan die hoof staan van die musiekdepartement vanaf 1994-1998. Sy gee les by die Genesis Projek, ’n uitreikprogram van stapel gestuur deur Sean Kierman en Michael Blake aan die Universiteit van Kaapstad en was deeltydse koperblaasdosent by die South African College of Music van dieselfde universiteit.

In 1998 word sy aangestel as die hoof van koperblaasinstrumente by die Beau Soleil Musieksentrum waar sy werk tot en met haar aanstelling by die US Musiekdepartement in 2004. By die universiteit koördineer en gee sy les in die koperblaasdepartement, dirigeer die Stellenbosch Universiteit Simfoniese Blaasensemble en is intensief betrokke by die Sertifikaatprogram se plattelandse interaksieprojekte. As ad hoc horingspeler het sy opgetree saam met die Cape Sinfonia, die Kaapstad Kamerorkes, Windworx Simfoniese Blaasorkes, Con Spirito Simfonieorkes, die voormalige KRUIK-orkes en die Namibiese Simfonieorkes. Sy was ook al aktief as kamermusikus met uitvoerings as deel van koperblaaskwintette en horingkwartette regoor die Wes-Kaap. Sy is ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse Horingvereniging, komiteelid van die semiprofessionele simfoniese blaasensemble, Windworx, en voormalige adjunkpresident van die Wes-Kaapse tak van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Musiekonderwysers.

Pamela werk uitvoerig op die gebied van gemeenskapsmusiek en beoordeel gereeld by gemeenskapsorkeskompetisies, bied werksessies aan met ‘buurtblaasorkeste’ (“community brass”) en konsulteer met gemeenskapsmusiekorganisasies oor aspekte soos befondsing, die skryf van voorleggings, lewensvatbaarheid, koperblaasonderrig, ens. Sy was voorsitter van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe se Gemeenskapsinteraksie- en Diensleerkomitee vanaf 2012-2015 en koördineer die finale jaar diensleermodule aan die US. Sy werk tans aan haar PhD aan die Musiekdepartment, Universiteit van Stellenbosch.

Close Menu