Skip to main content

Melisizwe Plaatjie was 16 jaar oud toe sy vingers die heel eerste keer oor die klawers van ’n klavier gegly het terwyl hy hard probeer het om ’n toonleer in C-majeur te bemeester. Nou, drie jaar later, is dié jong musikant van George aangewys as die wenner van die Albert Engelprys wat deur die ATKV geborg word. Dié prys gee aan studente uit meestal voorheen benadeelde omgewings die geleentheid om instrumentale en teoretiese onderrig in musiek te ontvang en moontlik hulself later vir ’n BMus-graad in te skryf.

“Daardie was my eerste én laaste klavierles, want daar was nie ’n musiekonderwyser by my hoërskool nie,” vertel Melisizwe. Aangesien net een van sy ouers gewerk het, was daar ook nie geld vir private klavierlesse nie. “Ek was gebroke. Om beter te word, moet ’n mens op ’n gereelde grondslag oefen en les neem.”

Maar waar daar ’n wil is, is ’n weg, en Melisizwe het homself leer klavier speel deur pop- en jazz-klavierlesse op YouTube te kyk. Tot en met 2017 was die videokanaal sy enigste leermeester. “Dit het my tegniek en musikale woordeskat baie verbeter.”

Hy het gedroom om ná matriek te gaan musiek studeer, maar het gesukkel om universiteitstoelating te kry. “Ek was baie teleurgesteld en het verlore gevoel. Musiek was iets wat ek vir die res van my lewe wou doen. Ek het begin dink ek is nie goed genoeg nie.”

Maar alles het verander toe hy vanjaar vir ’n sertifikaatprogram in musiek aan die Universiteit Stellenbosch aanvaar is.

“Dit was ’n uitdaging om klassieke musiek te speel, want ek het die afgelope drie jaar net jazz en pop gespeel. Maar onder die leiding van my musiekonderwyser, Throy Petersen, voel ek dat enigiets moontlik is.”

Melisizwe sê dit is vir hom ’n groot eer om die Albert Engelprys te ontvang. “Ek het gehoor jy word slegs benoem as jy hard werk en jou dosente potensiaal in jou sien.”

Dié Sertifikaat-program is deur wyle Albert Engel, ’n dosent in koperblaasinstrumente en dirigent van die Stellenbosch Simfoniese Blasers, begin. Ná sy heengaan in September 2003 is Albert se droom voortgesit toe daar besluit is om ’n jaarlikse prys in sy naam in te stel. Die prysgeld van R20 000 word toegeken vir die student wat die meeste ywer toon, wat bo slegte omstandighede uitstyg en die beste maak van die geleentheid om musiek aan die Universiteit van Stellenbosch te studeer.

Melisizwe sê sy mantra is “wie nie saai nie, sal nie maai nie”.

“Hierdie toekenning bewys dit: ’n mens kry uit wat jy insit.”

Leave a Reply

Close Menu