Skip to main content

Sean Kierman

By September 14, 2016October 27th, 2016Uncategorized @af

Sean Kierman is gebore in Portland, Oregon, en ontvang sy opleiding in China, Pakistan, Indië en die Verenigde State van Amerika, waar hy sy BA voltooi aan die Antioch-Universiteit in Ohio. Hy sit sy nagraadse studies voort aan die Universiteit van die Witwatersrand in 1966-67, terwyl hy Franse horing speel in die SAUK-simfonieorkes en later die Durban Simfonieorkes, voor hy voortgaan met sy studies in politiek en sielkunde aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat. Hy was ’n sentrale figuur in die vestiging van die Vrystaat Instrumentale Program en die Vrystaatse Simfonieorkes. In 1979 aanvaar hy ʼn lektorspos aan die Universiteit van Port Elizabeth, waar hy die studieprogram in koperblaasinstrumente begin en uitbrei tot een van die grootste en suksesvolste koperblaaspraktyke in die land ten tyde van sy vertrek na Kaapstad in 1987. Hy word aangestel as senior lektor aan die Suid-Afrikaanse Musiekkollege van die Universiteit van Kaapstad in Julie 1987, waar hy die sameroeper van koperblaasstudies was, en bou ’n indrukwekkende ateljee van koperblaasstudente tydens sy ampstermyn. Hy doseer ook in akoestiek en dirigeer die Universiteit van Kaapstad Wind Symphony tot en met sy aftrede in Desember 2007.

Sean is komiteelid en dirigent van die semi-professionele simfoniese blaasensemble, WindWorx (gestig in 2005), en het hierdie ensemble al in talle uitvoerings regdeur die Wes-Kaap gedirigeer. Hy was dirigent van die Kaapse Filharmoniese Jeugblaasensemble vanaf 2004-2014, was dirigent en spesialis by talle Suid-Afrikaanse Nasionale Jeugorkeskursusse en is genooi om gemeenskapsmusiekorganisasies regdeur die Wes- en Oos-Kaap af te rig en vir hulle lesings aan te bied. Hy is voormalige president en huidige komiteelid van die Suid-Afrikaanse Horingvereniging. Tydens die 38ste Internasionale Horingsimposium van die Internasionale Horingvereniging in 2006, is die gesogte Punto-toekenning uit erkenning vir sy uitnemende bydrae tot en diens aan die kuns van horingspel en die onderrig daarvan aan hom toegeken. Sy huidige onderrigaktiwiteite sluit in die onderrig van koperblaasstudente aan die Universiteit van die Wes-Kaap se Sentrum vir die Uitvoerende Kunste, die opleiding van voornemende orkesleiers (“bandmasters”) asook koperblaasstudente wat ingeskryf is vir die sertifikaatprogram-, hoër sertifikaat-, diploma- en graadkursusse by die US Musiekdepartement, en hy rig ook die US Blaasensemble af en tree as hulle dirigent op. In 2014 is hy bekroon met die US Musiekdepartement se gesogte Parnassus-toekenning uit erkenning vir sy bydrae tot koperblaasonderrig in Suid-Afrika.

Close Menu