Skip to main content

Tydens ’n glansgeleentheid in Parow op Saterdagaand, 29 Julie, is virtuoso pianis, Sulayman Human, aangewys as die algehele wenner van die nasionale  instrumentale klassiekemusiekkompetisie, ATKV-Muziq.

ATKV-Muziq, Suid-Afrika se grootste en mees toonaangewende klassiekemusiekkompetisie, wat onder andere internasionale pianiste Ben Schoeman en Megan-Geoffrey Prins as  algehele wenners opgelewer het, is die ATKV se jaarlikse bydrae tot instrumentale klassiekemusiek in Suid-Afrika. Dit is ‘n nasionale klassiekemusiekkompetisie vir jong volwasse musici in die ouderdomsgroep 15-27 jaar.  ’n Totale prysgeld van R180 000 word uitgeloof.

Sulayman Human (24), is ’n meestersgraad student aan die Universiteit van Stellenbosch.

Sulayman het die algehele eersteprys van R65 000 ontvang, asook die prys vir die Beste Vertolking van ’n Barok of Klassieke werk tydens die Finale Ronde. Laasgenoemde prys, ter waarde van R8500, is aan hom toegeken vir sy vertolking van Mozart se Sonate nr. 10 in C majeur, K330; III. Allegretto.

Cameron William (saksofoon) het die tweede plek verower en R32 000 ontvang.  Die derde prys (ter waarde van R16 000) is verower deur Jeffrey Armstrong (viool).

’n Bonusprys van R8 500 is ook aan Cameron Williams toegeken vir die Beste Vertolking van ‘n Suid-Afrikaanse Werk tydens die Tweede Ronde van hierdie kompetisie. Williams het die prys ontvang vir sy vertolking van A. Stephenson se Inleiding en Allegro.

Jong volwasse musici vanoor die hele Suider-Afrika is in Mei vanjaar genooi om tydens die eerste ronde teen mekaar mee te ding. Uit hierdie groep deelnemers is die beste tien musici gekies wat aan die tweede en derde (finale) rondes in Parow die afgelope paar dae deelgeneem het.  Na afloop van die tweede ronde is die top vyf kandidate aangewys as finaliste.  Naas Sulayman Human, Cameron Williams en Jeffrey Armstrong was Brian Bae (klavier) en Jonathan Mayer (viool) ook finaliste.

Elke finalis het R10 000 ontvang.

Die nasionale Afrikaanse radiostasie, RSG, was vanjaar die mediavennoot van hierdie kompetisie.

Leave a Reply

Close Menu