Skip to main content

Veelbekroonde Suid-Afrikaanse pianis, Megan-Geoffrey Prins, bied  Vrydag, 28 Julie 2017 om 20:00 ‘n gratis uitvoering in die Endlersaal by die Universiteit van Stellenbosch (SU) Musiek Departement aan.

Prins is tans besig om sy Doktorale studies in Musiekkuns aan die Cleveland Institute of Music in die VSA te voltooi.  Hy het sy Meestersgraad by die instituut behaal onder die befaamde pianis, Antonio Pompa-Baldi.  Verlede jaar het Prins die ATKV Muziq Instrumentale Klasiekemusiekkompetisie gewen.  In 2015 is hy bekroon as die wenner van die Vyfde UNISA Nasionale Klavierkompetisie en het ook die eerste Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfeeskompetisie gewen.

Gedurende sy Meestersgraad en tot dusver vir sy Doktoraal, het Prins staat gemaak op die Oppenheimer Gedenktrust, die Nasionale Kunsteraad, privaat borge en aanlynfondsinsameling om sy studiefooie en onkoste te dek.  Hy hoop om voor sy terugkeer na Cleveland aan die einde van Augustus 2017 voldoende befondsing vir hierdie laaste been van sy formele studies te bekom.

“Ek is geroer deur die oorweldigende ondersteuning, beide finansieel en emosioneel, wat ek tot dusver in die verloop van my studies ervaar het” sê Prins.  “Ek is verheug dat die SU Musiek Departement hierdie gratis konsert aanbied.  Dit is ‘n geleentheid vir my om almal te bedank wie my tot dusver ondersteun het en dit gee my die geleentheid om my gaste in te lig oor die vordering van my fondsinsamelingproses.”

Prins sal in die eerste helfte van die opvoering werke van  Joseph Haydn, Frédéric Chopin en die Suid-Afrikaanse komponis, Graham Newcarter, speel.  Hy sal dan die program in die tweede helfte afsluit met ‘n seleksie uit Sergei Lyapunov se 12 Etudes d`Exécution Transcendante.

Vir meer inligting, besoek Megan-Geoffrey se webtuiste by www.megangeoffreyprins.com

Leave a Reply

Close Menu