Skip to main content

Hoewel konsertsale en musiekfeeste die afgelope paar maande deur die Covid-19-pandemie stilgemaak is, het individue en musiekorganisasies wêreldwyd gepoog om die betowering van lewendige musiekuitvoering deur middel van “live streaming” aan die gang te hou. `n Belangrike aspek van die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees se breë doelwit is gemik op musiekopleiding. Bykomstig tot die uitvoerings, meesterklasse en afrigting van ensembles in die jaarlikse program is `n besondere fokuspunt die spesiale toekennings wat deur goedgunstige plaaslike en internasionale borge aan studente gemaak word.

Op 16 Augustus vanjaar is tjellostudente van die Kamermusiekfees uitgenooi om aansoekbriewe in te dien vir `n baie besondere toekenning: `n waardevolle tjello en strykstook wat deur Mev. Gila Marshall geskenk is. Die tjello het aan haar vader behoort en sy het dit van Wene af terug na Suid-Afrika gebring. Sy koppel wonderlike herinneringe aan haar vader se liefde vir musiek en musiekmaak aan dié instrument. Sy het die plaaslike tjelliste Graham du Plessis en Peter Martens (laasgenoemde ook in sy hoedanigheid as Direkteur van die SIKMF) bedank vir hul aanmoediging om die tjello weer in die hande van `n tjellis te plaas. Sy voel dat dit na al die jare nou tyd geword het dat die instrument weer gespeel word. Dit is haar uitdruklike wens dat die toekenning as die “Weense Tjellotoekenning” bekend staan.

Veertien aangrypende briewe van talentvolle jong Suid-Afrikaanse tjelliste is ontvang en saam met haar man Chris het Gila Marshall besluit om die instrument aan Nastassja Pretorius te skenk.  Nastassja studeer tans vir `n Honneursgraad in tjello aan die Universiteit Stellenbosch. Sy is van Ruyterwacht afkomstig en dit is haar groot droom om eendag by `n professionele simfonieorkes aan te sluit.

Die bestuur van die SIKMF dra sy hartlike dank oor aan Chris en Gila Marshall vir hierdie grootmoedige gebaar en hulle wens Nastassja Pretorius geluk met die toekenning. Hulle rig ook `n spesiale woord van dank aan die firma Pirastro vir sy lang verbintenis met die SIKMF en vir die skenking van `n nuwe stel handvervaardigde Edition-tjellosnare vir die instrument.

Leave a Reply

Close Menu