|
Nerina kry haar naam van die inheemse Suid-Afrikaanse blom, Nerine Fliifolia, wat hoofsaaklik in oop graslande en vogtige plekke in die Oos-Kaap, Transkei, Swaziland, Vrystaat en Oos-Transvaal groei. Dit het grasaardige blare, en dra massas vaal pienk blomme op stele. Dit neem hiérdie bolplant drie jaar om vir die eerste keer in die herfs-seisoen te blom.
Nerina het haar eerste dames in 1968 gehuisves. Die koshuis is egter eers in 1972 voltooi en die dames moes vir sowat vier jaar die agterdeur by die fietshokke gebruik aangesien die voordeur nog nie voltooi was nie. Mev Rabie was die eerste inwonende hoof van Nerina. Haar hond, Brutus, was 'n geliefde inwoner van Nerina, en is op 'n tragiese wyse aan die dood afgestaan. Hy is tot ruste gelê in die quad, waar hy steeds in vrede in die koel skadu's van die Jakaranda sy rus vind.
Mevrou Kritzinger het in 1995 die leisels oorgeneem, en ons in 1999, met haar in huwelikstreding, verlaat. Sedert Julie 1999 is tannie Annette du Plessis ons inwonende hoof en ma.
Ons is 'n hegte eenheid - 'n regte familie. Daarom groet ons mekaar altyd in die gange, maar ook op kampus. Die hegte eenheid wat ons is, is 'n groot rede vir al ons suksesse op kampus en ook hoekom Nerina vir haar inwoners 'n "huis-weg-van-die-huis" word.
 |