Chemie en Polimeerwetenskap

Vir meer inligting:

Tel: +27 (0)21 808 3172

E-pos

Webwerf

Vir meer inligting:

Tel: +27 (0)21 808 3172

E-pos

Webwerf

Nagraadse programme

Om die programme se leerplanne te sien, volg die skakels hieronder. Vir meer inligting, kyk ons Jaarboek.

HonsBSc in Chemie

MSc in Chemie

PhD in Chemie

DSc in Chemie

HonsBSc in Polimeerwetenskap met 'n keuse uit die strome:

  • Polimeerwetenskap
  • Tekstiel- en Polimeerwetenskap

MSc in Polimeerwetenskap

PhD in Polimeerwetenskap

Oor die Departement

Die Departement is een van Suid-Afrika se voorste navorsingsdepartemente in chemie en betrokke by verskeie navorsingsterreine, wat die grootste navorsingspoging in polimeerwetenskap landswyd insluit. Dit is ook die enigste departement aan 'n Suid-Afrikaanse Universiteit wat 'n BSc-graad met 'n fokus in Tekstiel- en Polimeerwetenskap aanbied.

Die Departement is gasheer vir twee navorsingsleerstoele as deel van die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel-inisiatief (SARChI) in:

  • Nanogestruktureerde Funksionele Materiale, en
  • Gevorderde Makromolekulêre Argitekture.

Daarby huisves die Departement ook die SASOL-navorsingsleerstoel in analitiese polimeerwetenskap.

Navorsingsrigtings

In die Departement word klem gelê op interdissiplinêre navorsing, maar die breë navorsingsvelde kan as volg geklassifiseer word-

Analitiese chemie: Moderne instrumentele tegnieke word gebruik en nuwe metodes ontwikkel om komponente in komplekse mengsels, soos Suid-Afrikaanse wyne, te analiseer. Navorsingsonderwerpe sluit skeidingswetenskap en semiochemie in. Navorsing van die fundamentele chemie en die skeiding van Platinumgroepmetale (PGM'e) in die konteks van die belangrike PGM-mynbouindustrie in Suid-Afrika word uitgevoer met behulp van 'n verskeidenheid tegnieke, byvoorbeeld moderne molekulêre (Kern Magnetiese Resonansie) en atoom- (Induktief Gekoppelde Plasma) spektroskopie. Spesifieke fokus met betrekking tot nuwe spesievorming, skeidings- en herwinningsmetodologieë, sowel as die gebruik van nanomateriaal in hierdie verband, is die kern van hierdie navorsing.

Anorganiese en organometaalchemie: Navorsingsinisiatiewe fokus op toepassings in die plaaslike industrie en geneeskunde, en sluit in die ontwikkeling van nuwe homogene katalisatore en tegnieke vir die karakterisering van edelmetale en hul komplekse, ligandontwerp en die chemie van platinumgroepmetale.

Fisiese chemie: Navorsing sentreer om die gebruik en toepassing van berekeningstegnieke in die bestudering van die struktuur en eienskappe van geïsoleerde molekules, kristallyne sisteme en chemiese reaksies. Dit behels chemiese simulering met behulp van rekenaarmodelle.

Organiese chemie: Die fokus van hierdie dissipline behels die sintese van klein organiese molekules met bepaalde funksies. Dit sluit die bereiding van funksionele ligande vir die ontwikkeling van nuwe, selektiewe katalisatore en die ontwerp en sintese van klein molekules vir medisinale chemie toepassing in areas soos malaria HIV-Vigs en kanker in.

Polimeerwetenskap: As die enigste chemiedepartement in die land wat diepgaande fokus op nagraadse opleiding in polimeerwetenskap, is die Universiteit uniek geposisioneer om hoëgehaltenavorsing te doen in o.a. analitiese polimeerchemie, polimerisasiemetodologie en polimeervesels (slim of funksionele tekstiele en nanovesels). Navorsingsgebiede sluit in nuwe polimere (vryeradikaal polimerisasie en bedekkings; strukturele eienskappe van poliolefiene; gevorderde makromolekulêre argitekture); polimeerkarakterisering; elektrospin en nanoveseldrade.

Supramolekulêre chemie en materiale: Werkgroepe in hierdie navorsingsveld fokus op die ontwerp, sintese en karakterisering van nuwe funksionele materiale, met die klem veral op poreuse materiale wat gebruik kan word vir gassorpsie met toepassing in gasberging en -skeiding. Desnieteenstaande 'n sterk klem op toepassing, lei sulke nuwe materiale dikwels tot interessante insigte wat kan oorloop in ander gebiede van chemie.