Lettere en Sosiale Wetenskappe

Die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe plaas 'n besonder hoë premie op navorsing en nagraadse onderrig. Daarom is dit nie verrassend nie dat ongeveer een derde van ons totale ingeskrewe studentetal jaarliks nagraads studeer in ons wye verskeidenheid onderrigprogramme. Ons streef ook daarna om ons nagraadse programaanbod te integreer met die navorsingsfokusse van die onderskeie departemente en hul personeel en ons studente se graadnavorsing lei gewoonlik tot nasionale en internasionale akademiese publikasies. Waar moontlik word finansiële ondersteuning vir akademies verdienstelike én behoeftige studente gebied.

Die Fakulteit se agtien departemente bied dissipline-gerigte én interdissiplinêre programme in drie primêre fokusareas aan, naamlik in taal en kultuur, sosiale wetenskappe en uitvoerende kunste. In hierdie diverse en goed beplande programaanbod streef ons daarna om kundige en kritiese denkers te lewer, en professionele mense wat met hul besondere vaardighede 'n uitsonderlike bydrae tot kulturele verryking en voorsiening in die kennisbehoeftes van Suid-Afrika en Afrika se samelewings in die 21ste eeu kan maak.

Konvensionele kontakdosering deur ons span goed gekwalifiseerde studieleiers en dosente word aangevul met rekenaartegnologie. In aansluiting by die Universiteit se strategiese beleid is die Fakulteit se nagraadse onderrigmedium hoofsaaklik Engels.

Die geografiese herkoms van ons studente het 'n sterk nasionale en internasionale profiel en is demografies goed verteenwoordigend van die land se studentesamestelling.

Maak gerus gebruik van die kontakbesonderhede wat gegee word om meer besonderhede oor programme aan te vra.

Vir meer inligting

Fakulteitsadministrateur: Me Leana Loxton

Tel: +27 (0)21 808 9111

Epos

Webwerf

Kyk ook Jaarboek Deel 4