Kurrikulum Studies

Navorsingsfokus

Hierdie departement se navorsingsfokus is die ontwikkeling van menslike potensiaal in 'n diverse samelewing deur kurrikulumstudie met die klem op kurrikulumteorie, kurrikulumbestuur en -beleid, die omgewing en die gemeenskap, taal en kommunikasie, en leer en onderrig.

Hoofnavorsingsterreine

Kurrikulumstudie: Dit sluit in kurrikulumteorie en ondersoek, kurrikulumperspektiewe op transformasie, demokratisering van die kurrikulum en die identifisering van probleemgebiede in kurrikulumimplementering. Die kritiese bespreking van verskillende benaderings tot onderwys deur middel van 'n verskeidenheid van bronmateriale en gevallestudie-evaluering, leer en die geslaagde aanwending van 'n reeks assesseringstrategieë.

Omgewingsopvoeding: Die navorsingsterrein fokus op opvoeding en volhoubaarheid, sowel as omgewingsopvoeding, professionele ontwikkeling (voor en indiensopleiding), en die ontwikkeling van lewensvaardighede vir volhoubare leefwyses.

Wetenskaponderwys: Aspekte soos wanopvattings in fisika- en wetenskaponderrig, die rol van taal by wetenskaponderrig en kurrikulumontwikkeling in wetenskaponderrig word hier ondersoek.

Taalonderwys en taal in onderwys: Hierdie terrein behels voorskoolse geletterdheidsonderrig, kinder- en jeuggeletterdheid, die ontwikkeling en onderrig van lees-, luister-, praat- en skryfvaardighede, die hantering van meertalige leer, die onderrig van taal in meertalige kontekste en taalbeleid en -beplanning.

Wiskunde-onderwys: Belangrike aspekte op hierdie terrein is die sielkunde van Wiskunde-onderrig, die rol van argumentering en artikulasie in die ontwikkeling van die leerder se begrip van breuke, leer deur kommunikasie, onderwysers en formatiewe evaluering, grafiese sakrekenaars en kurrikulumontwikkeling in Wiskunde-onderrig.

Rekenaars in die onderwys: Hierdie gebied sluit in programontwikkeling, rekenaarleweringstelsels, outeurstale en die opvoedkundige gebruik van die Internet.

Hoër onderwys: Dié navorsingsterrein behels die verkenning van hoër onderwys as studieveld, die bestudering van fasette van kurrikula, onderrig, leer en assessering, nagraadse studieleidingsprosesse, en akademiese en professionele ontwikkeling van dosente.

Kurrikulumondersoek in sosiale konteks (diversiteit in religie, onderrig-en-leer, menseregte-waardes en waardeoriënterings): In samewerking met internasionale universiteite doen ons navorsing oor onderrig-en-leer in diverse onderwysomgewings. Spesifieke navorsing ondersoek die invloed van onderrig-en-leer op die vestiging van 'n kultuur van menseregte deur interreligieuse en interkulturele dialoog in verskillende sosiale en kulturele omgewings in Suid-Afrikaanse skole.

Geografie- en geskiedenisonderrig-en-leer: Navorsing fokus op aspekte soos onderwys vir volhoubaarheid tussen mense en die omgewing asook tussen mense as individue en mense binne groepsverband; die skep en bemiddeling van geografie- en geskiedeniskennis deur die gebruik van ondersoekvaardighede en -tegnieke asook die effektiewe betekenisskepping van tyd-ruimtelike inligting; die gebruik van formatiewe assessering gebed in produktiewe pedagogieë ten einde kwaliteitonderrig-en-leer te ondersteun.

Mentorskap: Die ontwikkeling van 'n mentorskapstelsel vir die professionele ontwikkeling van onderwysstudente tydens onderwyspraktyk.

Nagraadse kwalifikasies

Volg die skakels om die programme se leerplanne te sien.

Nagraadse Onderwyssertifikaat (NOS)

Nagraadse Diploma* in Hoër Onderwys (Onderrig en Leer) (NGDipHO (O&L))

Honneurs-Baccalaureus in die Opvoedkunde in Kurrikulumstudie of in Taalopvoeding (HonsBEd)

Magister in die Wysbegeerte (MPhil)

Magister in die Opvoedkunde (MEd) (kursuswerk)

Magister in die Opvoedkunde (MEd) (navorsing)

Doktor in die Wysbegeerte (PhD)

Doktor in die Opvoedkunde (DEd)

* Hierdie Diploma is 'n nuwe program wat vir die eerste keer in 2014 aangebied word. Dit word in samewerking met die Universiteit van Wes-Kaapland en die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie aangebied.