Opvoedkunde

In die Fakulteit streef ons daarna om deur navorsing, onderrig en gemeenskapsdiens onderwysers en opleiers te lewer wat by uitstek kan voorsien in die uiteenlopende onderwysbehoeftes van die breë gemeenskap. Só maak ons 'n deurslaggewende bydrae tot die ontwikkeling van die Suider-Afrikaanse gemeenskap se menspotensiaal.

Wanneer ons akademiese programme beplan, neem ons veral die Suid-Afrikaanse onderwysprioriteite in ag. Deur kurrikula vir onderwyseropleiding te ontwikkel wat met die huidige onderwysbehoeftes rekening hou, verseker ons dat ons afgestudeerde studente met vertroue tot die onderwyspraktyk kan toetree.

In ons programme maak ons voorsiening vir brongebaseerde leer (resource-based learning) en vir 'n verskeidenheid aanbiedingsmetodes (bv. residensieel; internetgebaseerde leer; interaktiewe telematiese uitsendings en inbelsessies). En omdat hulle versprei is oor die voorgraadse én nagraadse vlakke bied hulle lewenslange leergeleenthede.

   Oor ons programme

Alhoewel BEd (Grondslagfase-onderrig) en BEd (Intermediêrefase-onderrig) die enigste voorgraadse programme is wat ons aanbied, kan jy wel voorgraadse programme in ander fakulteite opvolg met nagraadse studie in Opvoedkunde (kyk by Nagraadse Onderwyssertifikaat).

As jy egter nie aan die toelatingsvereistes van universiteitsprogramme voldoen nie - en dus normaalweg nie by 'n universiteit sou kon studeer nie - maar jy het 'n erkende, driejarige onderwyskwalifikasie, of jy wil jou kennis en vaardighede in jou vakgebied verbeter, kan jy tans vir 'n Gevorderde Diploma in Onderwys (GDO) inskryf. Hierdie programme sal jou in staat stel om te fokus op onderrig in Fisiese Wetenskappe, Lewenswetenskappe, Natuurwetenskappe, Wiskunde of Wiskundige Geletterdheid in die Intermediêre, Senior of Verdere Onderrig en Opleiding- (VOO-)fases.

'n Vierjarige onderwyskwalifikasie of 'n ander universiteitsgraad gevolg deur 'n Nagraadse Onderwyssertifikaat gee jou toelating tot die nagraadse program HonsBEd. Daar is 'n verskeidenheid studieterreine in die Opvoedkunde waaruit jy dan kan kies. Kyk ons nagraadse programme hier.

   Onderrigtaal

Die Fakulteit Opvoedkunde volg ’n benadering van veeltaligheid met Engels en Afrikaans as die belangrikste onderrigtale. IsiXhosa word as ’n kommunikasietaal gebruik. Om te verseker dat studente toegang tot kennis in die taal van hul keuse het, maak ons gebruik van vertaaldienste.

   Keuring

Kyk onder die betrokke voorgraadse program vir sy keuringsriglyne.

   Navrae

Kliëntedienssentrum

Tel: 021 808 9111

Faks: 021 808 3822

E-pos

Webwerf