Op kampus

Die Universiteit Stellenbosch gebruik verskillende bronne van energie (elektrisiteit, gas, diesel, FV-panele) waarvan elektrisiteit die meeste is. Hierdie bron is die grootste bydraer tot ons koolstofvoetspoor omdat dit uit fossielbrandstowwe voortgebring word. Die US ondersoek ander skoner bronne van energie (hernubaar) en energie-doeltreffende inisiatiewe. Binne hierdie konteks is energie een van die fokusareas van die US se volhoubaarheidsinisiatief en het die US talle inisiatiewe in plek vir energiebesparing wat elke personeellid en student raak.

Die volgende doelwitte is geïdentifiseer vir bereiking teen 2022:

Figuur 1: Vermindering in die totale groenhuisgasse en koolstofuitlaatgasse by die US. Behaal koolstofneutraliteit teen 2030. Verbeterde energiedoeltreffendheid per eenheid op alle kampusse. Die gebruik van hernubare bronne vir die verkryging van energie.

Talle inisiatiewe is reeds geïmplementeer aan die US om energie te bespaar en van hernubare bronne gebruik te maak. Hier is 'n paar daarvan.

Gloeilampe in geboue word op al vier kampusse deur energiebesparende LED-programme vervang.
Sensors wat ligte slegs aanskakel wanneer daar beweging is word tans geïnstalleer. Dit verhoed dat ligte onnodig brand en sodoende word energieverbruik verminder.
Energiegebruik word in die verskillende geboue op kampus deur slim meters en modems gemeet. Die PowerWatch-program word gebruik om enige afwykings te identifiseer en verbeterde gebruik van energie te bestuur. Energie-oudits word by sekere energie-intensiewe kampusgeboue gedoen om die moontlikheid van besparing te ondersoek.
Klein en individuele verkoeling-/verwarmingstelsels word met gesentraliseerde HVAC- energiebesparende stelsels vervang.
Nuwe en opgeknapte geboue op alle kampusse gebruik spesiaal ontwerpte fasades, insluitende plantegroei en skerms, om geboue deur middel van die las van eksterne hitte of koue meer energiedoeltreffend te maak.
Natuurlike bronne, soos bome, word op strategiese plekke aangeplant om hitte-eilande in die landskapering te beperk en om koolstof te fikseer.
Sonverwarmers is op 'n beperkte skaal in sekere areas geïnstalleer. Hittepompe vir waterverwarming is reeds by meeste van die verblyfplekke geïnstalleer.
Ons bestuurstelsel vir geboue stel die US in staat om die meeste van die HVAC-toerusting op kampus te outomatiseer en beheer, wat beteken dat dit afskakel as dit nie gebruik word nie.