Nuusargief

Besoedelde water lei tot gesondheidskrisis

Posted by Administrator (admin) on Jul 31 2013
Nuusargief >> Jongste nuus

Gesondheidsdienste steier onder die las van siektes wat ontstaan weens besoedeling van die omgewing, veral van water. Dis 'n potensieel vermybare krisis, maar dis besig om in 'n stadig ontwikkelende ramp te ontaard. Dr. Jo Barnes beywer haar daarvoor om iets aan die situasie te doen, al is dit net om die aandag daarop te vestig, sê sy. Sy het in 2009 die Orde van die Disa ontvang vir haar voortreflike gemeenskapsdiens- en interaksie. Daar is vordering, sê sy, maar die uitdagings is enorm …

Wat behels die navorsing wat u oor die gehalte van water in riviere doen?

My grootste belangstelling is watergedraagde siektes en die impak van besoedelde water vanaf die gemeenskappe op die omgewing en weer terug na die gemeenskappe. Water is 'n baie interessante stof – dis ons heel beste skoonmaker, maar ook een van ons mees effektiewe draers van siektes. Dit hang alles af van hoe jy dit gebruik en behandel – óf dit vir jou 'n hulp is om skoon te maak óf jou siek kan maak. Min stowwe in die natuur het twee sulke totaal opponerende rolle.

My navorsing is veral in die arm gebiede en waar sanitasie faal. Ek ondersoek die groot hoeveelheid besoedeling, veral riool, wat ons riviere bereik, die gesondheidsgevare daarvan en ook die groter impakte wat dit het. Dis soos ringe van 'n ui, dit raak al groter en groter. Heel eerste is die drinkwater, maar besproeiingswater van eetbare gewasse is net so 'n effektiewe draer van siektes wat die mens affekteer. Siektes wat na slagvee oorgedra word, is ook deel van die voedselketting. Mense wat met die besproeiingswater werk, is ook onderhewig aan risiko as die water so besmet is.

Ons moet mense in die gemeenskappe so ver kry om meer higiëne toe te pas en veiliger om te gaan met water in hul omgewing. En ons moet kyk na die dienste wat gelewer word of nié gelewer word nie en die uitwerking daarvan.

Waar lê die kern van die probleem?

Volgens 'n verslag van die Waternavorsingskommissie gaan gemiddeld 36% van die skoon drinkwater wat aan munisipaliteite gelewer word, verlore. So, voordat ons enigsins die hergebruik van water kan oorweeg, moet ons eers so vinnig as moontlik die stelsels regkry dat ons daardie meer as 'n derde van die water wat op munisipale vlak verlore gaan, kan spaar. Ons gaan nog ver uitkom met ons water as ons nie so onverskillig daarmee omgaan nie.

Dis water wat reeds skoongemaak is en wat wegloop weens gebarste pype of om watter rede ook al, of onregmatig geneem word. Op sommige plekke is die dienste so swak dat pype tot ses maande lank gebars bly sonder dat dit herstel word.

Vir die jaarlikse Bloudruppel- en Groendruppelverslae oor die stand van ons watersuiweringswerke en rioolwerke kan inligting net by meer as die helfte van die munisipaliteite bekom word. Die ander is nie eens by magte om inligting te verskaf nie. Van die meer as 700 munisipaliteite in die land lewer net 7% 'n produk van 'n aanvaarbare standaard.

Daar is dus sistemiese redes hoekom die geweldige besoedeling eksponensieel toeneem tot 'n stadig ontwikkelende ramp. Ons het 'n droë land en ons gesondheid is nou verbonde aan die beskikbaarheid van skoon water.

Is daar al vordering?

Dis my missie in die lewe om te probeer om iets aan hierdie goed te doen, al kan ek net aandag trek na die probleem en dit by die regte plekke aanmeld. Die amptenary se eerste linie van verdediging is egter om die probleem te ontken.

Ons het al gevorder van “daar is nie 'n problem nie” tot “ek is onbewus van die probleem”. Mense besef nou daar is 'n probleem, maar stry tans oor wie se skuld dit is. Die volgende stap is hopelik dat iemand iets daaraan sal doen.

Hoe raak dit volhoubaarheid?

Volhoubaarheid is die vermoë om só met 'n hulpbron om te gaan dat dit kan bly voortbestaan. Water is deel van ons voortbestaan en as ons so omgaan met ons water soos tans, gaan ons nie bly voortbestaan nie. Ons aanvraag na water is feitlik so groot as wat ons beskikbare waterbronne kan bied.

In die Wes-Kaap word beraam dat die aanvraag alle beskikbare water tussen 2015 en 2025 sal oorskry, afhangend van hoeveel ons spaar. Dis dus uiters belangrik dat ons nie dit wat ons het, besoedel nie.

Ons moenie mors wat ons het nie, maar dit ook nie bémors nie. Ons kan nie toelaat dat ons riviere in rioolslote verander nie.

Hoe groot is die uitdagings?

Die uitdagings is geweldig omdat die amptelike sisteme om met hierdie goed op groot skaal te werk uitmekaar val – die munsipale dienste, plaaslike owerheidsdienste en die toesighouding daaroor. Een van die grootste probleme is dat onderhoud vir munisipaliteite 'n vloekwoord geword het. Almal bou nuwe stelsels en onderhou nie dit wat hulle het nie – asof die oue nie bestaan nie.

Wat onderhoud betref, is drastiese opgradering nodig. Dis roetine waarsonder ons nie kan nie, maar dis nie moeilik nie. Dis maar net werk wat gedoen moet word. Die onderhoud moet verbeter sodat dit wat ons het nie weglek nie en nie besoedel word nie, want dis nie net vars water wat weglek nie, maar ook riool wat uitlek en die twee besoedel mekaar. Albei stelsels ly aan ernstige gebrek aan onderhoud.

Dis die punt waar ek sou begin: kyk na wat ons het en begin daarna solank ontwikkel aan alternatiewe gebruike en hergebruike van water. As ons water skoonmaak om dit weer te kan gebruik, sal ons egter ernstig moet kyk watter water ons gebruik om eetbare gewasse mee te besproei, want dis ook 'n infeksiebron.

Watter probleme kan die hergebruik van water skep?

Ons het in Suid-Afrika nog baie min navorsing daaroor gedoen. Wat my bekommer, is dat ons nie juis 'n nasie is wat regulasies gehoorsaam nie. En daar sal streng regulasies moet wees oor hoe en waar jy water kan hergebruik sodat dit veilig is en jy nie 'n groter probleem skep as die hongersnood omdat jy nie kos of water het nie.

Ek is bekommerd dat as ons nie eens toesig kan hou oor munisipaliteite nie, hoe gaan ons by elke Jan Rap en sy huis toesig hou oor wat daar aangaan? Ons sal 'n beter siviele stelsel moet uitwerk voordat ons water veilig kan hergebruik van die huis tot die tuin en terug tot die huis.

Ek sou 'n stap tussenin wou sien. Hierdie water moet eers deur aangeboude vleilande gestuur word sodat dit so skoon is dat 'n mens byvoorbeeld sypaadjies daarmee kan afspoel en sportgronde daarmee kan besproei. Uit 'n gesondheidsoogpunt sou ek so 'n tussenstap wou insit om mense gereed te maak vir die baie gebruike van skoongemaakte water wat nie gedrink kan word nie.

By watter gemeenskapsprojekte is u betrokke?

Ek en 'n doktorale student het sanitasieprobleme in HOP-huise in die Kaapstad-omgewing ondersoek. Sowat 58% van toilette in dié huise werk nie meer nie. Dit lei tot massiewe omgewingsbesoedeling weens riool lekkasies en dreine wat verstop is. Daar is ook 'n kommerwekkende gebrek aan higiënekennis en -gedrag onder hierdie inwoners.

Ek is ook steeds besig om die Bergrivier vir die Bergrivierbesproeiingsraad te moniteer vir besproeiingsveiligheid van dié rivier se water. Die rivier het wisselende vlakke van besoedeling – weer eens kom die meeste van die besoedeling van dorpsgebiede wat aan die Bergrivier grens.

'n Post-doktorale navorsingsgenoot van my ondersoek tans huishoudelike grys water in HOP-huise om te kyk of 'n mens sou kon aanbeveel dat dit direk gebruik word. Ons wil vasstel wat werklik in dié water is.

Wat is die oplossing vir die waterbesoedeling?

Ons moet ons huiswerk begin doen deur dinge te herstel en toesig te hou. Eenvoudige huishoudelike aksies sal al 'n groot verskil maak. Dan moet ons beter stelsels ondersoek wat minder water gebruik. Munisipaliteite is aangestel om toesig te hou dat gewone burgers by waterbeperkingsregulasies hou, maar wie hou toesig oor munisipaliteite wat die grootste watervermorsers is? Ons sal beter samewerkende stelsels moet kry; ons kan nie meer aangaan om te doen op dieselfde manier wat ons voorheen gedoen het nie.

Last changed: Nov 28 2013 at 7:24 AM

Back