Nuusargief

Vergroening van betrekkinge tussen China en Afrika

Posted by Administrator (admin) on Apr 22 2013
Nuusargief >> 2013

Onkunde bestaan dikwels oor China, en daar moet dieper gekyk word om die verskillende dimensies van China in Afrika te verstaan, sê Harrie Esterhuyse, navorsingsontleder by die Sentrum vir Chinese Studies (SCS) aan die Universiteit Stellenbosch. Die SCS verskaf ervaring en insig in die onderwerp China en China in Afrika, met klem op politiek, ekonomie en die omgewing. Dit is waaroor dit gaan ...

Wat is die doel van die Sentrum vir Chinese Studies?

Die SCS, wat deel vorm van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, spesialiseer in betrekkinge tussen China en Afrika. Die SCS is die eerste Afrika-instituut wat hom aan die studie van China in Afrika wy en is tans besig met navorsing in drie hoof- tematiese strome: politiek, ekonomie en die omgewing.

In ons omgewingswerkstroom doen ons navorsing onder die breë onderwerp “Vergroening van betrekkinge tussen China en Afrika”. Binne hierdie kyk ons na volhoubare ontwikkeling in die konteks van klimaatsverandering, met 'n fokus op hernubare energie. Insette in beleidsbeplanning en omgewingsbestuur geniet ook aandag.

Omgewingsopvoeding met onderwerpe soos die Asiatiese aspek van renosterstropery, die bestuur van volhoubare bosbou en biodiversiteitsbewaring as 'n tema in China se betrekkinge met Afrika-state, word ook nagevors. Huidige projekte behels 'n studie oor omgewingsbeleid en -bewustheid asook 'n studie waarin 'n profiel opgestel sal word van die sektor vir hernubare energie in China, en waarin daar aan wind- en sonkragenergie aandag geskenk sal word.

Wanneer is die SCS gestig en hoeveel mense is daarby betrokke?

Die SCS is in 2004 as 'n navorsingsentrum in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe gestig. Die Sentrum se personeel bestaan uit die direkteur en twee personeellede per werkstroom. Ons het ook 'n wisselende getal interns (tussen een en drie) terwyl talle studente vanuit China, Afrika of ander buitelandse lande ons regdeur die jaar kom besoek.

Gee vir ons 'n paar voorbeelde van julle werk?

Ons werk in 'n interessante tematiese driehoek: onderwerpsvelde, soos omgewings- of ekonomiese aspekte; Chinese perspektiewe oor hierdie onderwerpe, en Afrika-realiteite regoor die vasteland. In Mei 2012 het die SCS 'n internasionale konferensie in Stellenbosch aangebied met die tema Greening China and her relations with Africa – Environmental sustainability in Sino/African cooperation, FOCAC and beyond. Die doel van die konferensie was om Chinese en Afrika-navorsers byeen te bring om omgewingsbeleid te bespreek en samewerking (en die potensiaal daarvan) tussen China en Afrika te ondersoek.

Die SCS publiseer gereeld sy bevindinge in 'n verskeidenheid formate, beide deur ons webwerf (www.sun.ac.za/ccs) en die gedrukte media. Só byvoorbeeld verskaf beleidsdokumente besluitnemers met 'n kort oorsig oor 'n bepaalde onderwerp. Onlangse voorbeelde van omgewingsbeleidsopdragte behels Rhino poaching and East Asian policies: Facts and debates, gepubliseer in Desember 2012, en Climate change in China: risks and responses, gepubliseer in November 2012.

Die SCS publiseer ook kommentaar oor ontwikkelings in sy verskillende onderwerpsvelde en bied insig in huidige wêreldsake, waaronder onderwerpe van omgewingsbelang. 'n Voorbeeld hiervan is 'n dokument wat aan die einde van 2012 geskryf is met die titel: Made in China – Energy possibilities for Africa’s rural poor. Die SCS met sy fokus op China, lewer ook kommentaar oor Chinese sake en bestudeer onder meer die onlangse rookmisprobleem in Beijing: Beijing smog – an annual affair.

Ervaar julle soms negatiwiteit oor China se betrokkenheid in Afrika?

Die reaksie is dikwels oningelig maar spontaan negatief. China se grootste probleem in Suid-Afrika, net soos in Afrika, is sy grootte – omtrent almal het die een of ander mening daaroor. Wat egter 'n ergernis is, is die samesweringsteorieë, veral met baie mense wat beweer dat China besig is om te probeer om Afrika te “rekoloniseer”, of dat die Chinese regering duistere planne vir Afrika in die mou voer, hoewel hul betrekkinge met Afrika weens ekonomiese belang plaasvind.

China is nie net een monolitiese speler nie, maar vele – en by tye is dit gekoördineer en ander tye nie. Dit is dus verkeerd om van “die Chinese” te praat, aangesien private maatskappye, openbare maatskappye, individue en vele ander spelers aktief op die vasteland werksaam is. Mense is dikwels onkundig oor China en daar moet dieper gekyk word om die verskillende dimensies van China in Afrika te verstaan – dit is wat ons werk so interessant maak.

Watter waarde voeg die SCS toe?

Die SCS bied ervaring en insig in die onderwerp van China, China in Afrika en China se globale, politiese, ekonomiese en omgewingsaksies, beleide en toekoms. Die SCS het bande met Chinese vennootinstansies, soos die Chinese Akademie van Sosiale Wetenskappe, die Shanghai Instituut van Internasionale Studies, die Instituut van Afrikastudies aan die Zhejiang Normale Universiteit en die Xiamen Universiteit. En as navorsingsentrum wat in Afrika gesetel is, stel ons beslis daarin belang om ons plaaslike en streekbande met ander Afrika-, Suid-Afrikaanse en Stellenbosse instansies uit te brei.

Last changed: Feb 21 2014 at 11:26 AM

Back