Dubbel of enkel?

Op 23/11/2015 geplaas · In Dialogos, Skryfwenke geplaas

Onlangs was daar ’n navraag op die lug deur RSG aan die Taalsentrum oor die gebruik van spasie ná ’n punt in ’n paragraaf: Wat gebruik ’n mens – ’n enkel- of dubbelspasie?

(Luister na Martelize Brink van RSG se onderhoud met Susan Lotz, ’n taalpraktisyn by die Taalsentrum.)

Daar is nie ’n klinkklare reg of verkeerd nie – die belangrikste om te onthou hieroor is om konsekwent te wees. In die wêreld van dokumentontwerp en lettersettery is daar wel internasionaal ’n duidelike voorkeur vir een spasie ná enige leesteken wat ’n sin afsluit. In dieselfde gees verkies ons by die Taalsentrum een spasie ná ’n punt. Wanneer ons dokumente vertaal of redigeer is dit ook die riglyn wat ons volg.

Die spasiewaterskeiding het gekom met die advent van die rekenaar. In die geval van letters wat met ’n tikmasjien getik word, neem elke letter dieselfde hoeveelheid horisontale spasie op – of dit nou ’n wye letter soos ‘m’ of ’n smal letter soos ‘l’ is. Daarom was daar in die era van die tikmasjien twee spasies nodig om die begin van ’n nuwe sin aan te dui. Wanneer ʼn mens op ʼn rekenaar tik, vind proporsionele spasiëring egter plaas. Dit beteken dat daar nie meer ’n wisselende hoeveelheid wit spasie tussen die letters is nie; dit word aangepas om eweredig te wees soos jy tik (behalwe vir ‘n font soos Courier).

Die enkelspasiekonvensie kan ongemaklik wees vir diegene wat op ’n tikmasjien leer tik het en by wie daardie twee spasies ingedril is. Nuwe gereedskap bring egter nuwe gebruike, en om te oorleef moet ’n mens aanpasbaar bly. Beroepsvoorligter Marc Miller noem byvoorbeeld in ’n LinkedIn-bydrae in Oktober 2014 dat die gebruik van dubbelspasies in ’n CV of aansoekbrief daardie aansoek kan dateer – wat die aansoek dalk gouer kan laat uitval wanneer aansoeke gesif word.

Die styllys of -gids wat geld vir die publikasie of platform waarvoor ’n teks gelewer word, het gewoonlik die laaste sê oor spasiegebruik ná ’n leesteken wat ’n sin afsluit. Onlangse uitgawes van gesaghebbende gidse soos die Britse Oxford Style Manual en Hart’s Rules, die Amerikaanse Chicago Manual of Style en die Duitse Duden skryf een spasie ná ’n punt voor. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns sê nie pertinent iets hieroor in die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls nie, maar gebruik self een spasie ná ’n punt in die publikasie. Dit is ook die geval met die Spaanse en Franse akademies se taalgidse.

Dit mag dus wees dat ’n dubbeldosis gewoonlik meer skop het, maar as dit by spasies kom, geld die teenoorgestelde.