‘U’ of ‘jy’ en ‘jou’: Hoe kies ʼn mens?

Op 14/03/2017 geplaas · In Dialogos, Ons tale, Skryfwenke geplaas

ʼn Teer sakie, die kwessie van ‘u’ of ‘jy en jou’. Een waaroor vertalers in Afrikaans gereeld by die Taalsentrum leiding vra, waaroor ons soms oproepe deur onthutste ontvangers van Universiteitskommunikasie moet hanteer … en waaroor menings uiteenloop, boonop om verskillende redes.

Watter maatstawwe gebruik ʼn mens wanneer jy hierdie twee aanspreekvorme opweeg? Die vernaamste oorwegings is die volgende:

  • Die vlak van formaliteit in die kommunikasie
  • Die graad van gemeensaamheid of bekendheid tussen die partye
  • Die beleefdheidsvlak – die soort sosiale interaksie tussen die partye sowel as verskil in status of gesag en in ouderdom
  • Die onmiddellike konteks of situasie

Die meningsverskil lê nie net by hoe hierdie maatstawwe toegepas word nie, maar ook by die skrywer se ingesteldheid: Sommige sal veel geredeliker tot die slotsom kom dat ‘u’ die aangewese vorm is; ander vermy ‘u’ sover moontlik as oudmodies, hiperformeel of ʼn uitgediende uitdrukking van ongelykheid. Laasgenoemde groep verkies meestal ook om self nie as ‘u’ aangespreek te word nie.

ʼn Interessante verskuiwing in die universiteitskonteks is dat dosente nie juis meer ‘u’ teenoor studente, in ʼn groep óf as enkelinge, gebruik nie (dit kom wel nog in studiemateriaal en vraestelle voor). Deesdae spreek ook studente glad nie meer deur die bank dosente as ‘u’ aan nie, en vermoed hulle selfs ironie by die enkele dosente wat húlle so aanspreek.

Enkele breë riglyne:

  • Trek liewer te formeel weg as te eie. ʼn Mens sal seker nooit alle lede van ʼn teikengehoor kan tevrede stel nie, maar dit is die veiligste benadering vir (onder andere) personeellede van openbare instellings en sakeondernemings asook mense wat skakelwerk doen of in ʼn professionele beroep staan.
  • Let op die seine van jou gespreksgenoot: As die persoon ʼn e-pos (of ʼn verdere e-pos) met slegs hulle voornaam afsluit en jou ook so in die aanhef aanspreek, is dit gewoonlik ʼn soort uitnodiging om ‘u’ te laat vaar.
  • Gebruik die informele vorm as die teikengehoor ʼn groep is. Hierdie benadering is deesdae veel aanvaarbaarder en gebruikliker as vantevore. Hou egter alle tersaaklike faktore voor oë: Hoe groter die sosiale afstand en hoe minder die gemeensaamheid tussen die skrywer en die gemiddelde teikengehoorlid is, hoe minder skade kan ʼn effens oorformele keuse aanrig. Selfs waar die sosiale afstand klein en die gemeensaamheid sterk is, kan die besondere situasie ʼn formeler aanslag vereis; byvoorbeeld, in vergaderings op ʼn sekere vlak of weens die kultuur in ʼn sekere werksomgewing.

Soos altyd, is gesonde verstand en emosionele intelligensie die heel beste toerusting.

Die inligting in hierdie berig kom uit persoonlike ervaring en baie daarvan word geëggo (helaas, of gelukkig) in ʼn LitNet-artikel waaruit enkele formulerings en een voorbeeld geneem is. Die volledige artikel, ‘“Moenie my ‘jy’ en ‘jou’ nie” – die gebruik van u in die 21ste eeu. Resultate van ’n loodsondersoek’ deur Nerina Bosman (Departement Afrikaans, UP) en Annél Otto (Departement Tale en Lettere, NMMU), het verskyn in LitNet Akademies [Intyds] 12(3). Beskikbaar: http://www.litnet.co.za/moenie-my-jy-en-jou-nie-die-gebruik-van-u-in-die-21ste-eeu-resultate-van-n-loodsondersoek/ [2017, 1 Maart].