Tweetaligheid se ekstra krag

Op 12/06/2017 geplaas · In Dialogos, Ons tale geplaas

ʼn Italiaanse Universiteit het tientalle pasiënte met Alzheimersiekte se breine geskandeer as deel van ʼn studie. Die helfte van die groep was minstens twee tale magtig, terwyl die ander helfte net een taal kon praat. Raai watter groep se resultate het die beste gelyk…

Vroeër vanjaar het die Vita-Salute San Raffaele Universiteit in Milan bevindings bekend gemaak oor ʼn studie aan dié universiteit wat die invloed van tweetaligheid op demensie, wat gewoonlik as Alzheimersiekte manifesteer, ondersoek. Een van die simptome van Alzheimersiekte is serebrale hipometabolisme, wat beteken dat die brein swaarkry om glukose vir eie gebruik in energie om te sit – die brein begin dus in wese verhonger. Dit lei daartoe dat take soos om te onthou moeiliker raak.

Navorsers het egter bevind dat die pasiënte wat meer as een taal praat – meestal Italiaans en Duits in hierdie geval – drie tot agt keer beter gevaar het met kort- en langtermyngeheuetake, vergeleke met hul eentalige eweknieë. Dit was die geval ten spyte daarvan dat die tweetalige pasiënte spesifiek gekies is omdat hul serebrale hipometabolisme al verder gevorderd was!

Dit is nie die eerste studie wat bewys dat aktiewe tweetaligheid demensie teëwerk nie: ʼn Kanadese studie wat in die vaktydskrif Cortex gepubliseer is, kon die eerste tasbare bewyse dat die praat van minstens twee tale die uitwerking van Alzheimersiekte beveg in 2012 voorlê. Hulle het CT-skandering hiervoor ingespan. Meertaligheid moedig die brein aan om neuronverbindings te versterk, wat die aanvang van demensie vertraag. Kenners verwys na hierdie proses as die opbou van kognitiewe reserwe.

So, trakteer jou brein met ʼn taalkursus of wat, en daag jou vriende en kollegas uit om ʼn meertalige gesprek te hê. Arthur Fletcher het nie verniet gesê dat die vermorsing van verstand ʼn verskriklike onding is nie.

Meer hieroor:
The impact of bilingualism on brain reserve and metabolic connectivity in Alzheimer’s dementia
Bilingualism as a contributor to cognitive reserve: Evidence from brain atrophy in Alzheimer’s disease