2

Gratis Skryfkonsultasies

Soek jy advies met jou skryftake?  Wil jy graag met iemand oor jou skryftaak gesels? Twyfel jy oor hoe om jou skryftaak te begin?  Is jy onseker of jou skryfwerk sin maak?

Hulp is byderhand!  Maak ’n afspraak by die Skryflab vir ’n gratis skryfkonsultasie, en verbeter so jou skryfwerk en leer nuwe skryfvaardighede aan.

Hoe maak ek ’n  afspraak?

Die elektroniese afspraakstelsel KENAKO is gerieflik en eenvoudig om te gebruik. Gebruik die skakel wat hier verskaf word om self op KENAKO ’n afspraak te maak op ’n tyd wat jou pas. Indien jy enigsins onseker is oor iets of probleme met die stelsel ondervind, kontak gerus vir Anne-Mari Lackay by 021 808 2989 of Vinelene Hartley by 021 808 2161.

Wat sal jy uit ’n konsultasie kry?

Jy sal die geleentheid kry om in ’n vriendelike en ontspanne atmosfeer individueel met ’n opgeleide skryfkonsultant oor jou eie skryfwerk te gesels.

Jou konsultant sal jou help met skryfkwessies wat jou pla. Jy sal ook verskillende skryfstrategieë aanleer vir taakontleding, beplanning, strukturering, verwysings en nog veel meer. Hierdie skryfstrategieë sal jou help om jou huidige en toekomstige skryfwerk meer doeltreffend te doen en skryftake met groter selfvertroue aan te pak en uit te voer. Sodoende sal jy ook jou eie stem met akademiese skryfwerk kan ontwikkel.

En natuurlik kan jy die skryfkonsultasiediens op enige stadium van jou skryfproses gebruik.

Hoe lank duur ’n  konsultasie? 

’n Konsultasie duur 50 minute. Jy is ook baie welkom om afsprake vir meer as een konsultasie (alles gratis) oor dieselfde skryftaak te maak. Opvolgkonsultasies gee jou die geleentheid om na groter verskeidenheid skryfkwessies te kyk en ook terugvoering te kry oor jou vordering. Terselfdertyd leer jy dan goeie skryfgewoontes aan.