Help ʼn bietjie daar

Op 17/09/2019 geplaas · In Dialogos, Ons tale, Skryfwenke geplaas

Ons reken korrigeervloeistof sou nie uitgevind gewees het as mense se taalgebruik perfek was nie. Linguisties gesproke struikel almal nou en dan – met praat, skryf of teksboodskappe. Dit val ʼn mens nou maar eenmaal op as ʼn gespreksgenoot taalflater begaan. Hoe dan gemaak? Ons het ʼn bietjie nagedink oor hoe om te reageer op sulke foute. Hier is vier maniere – elkeen met sy eie stel omstandighede en gevolge.

1. Korrigeer daar en dan – in die middel van die sin
– “So, ons het toe ʼn offer op die huis ingesit…”
– “ʼn Aanbod – julle het ʼn aanbod gemaak.”
Dit is die doeltreffendste manier om die aandag op ʼn fout te vestig – jy laat die spreker geen keuse nie as om onmiddellik met die fout om te gaan. Die nadeel van hierdie benadering is dat dit die gespreksvloei onderbreek en, wel, dis ongeskik. As jou gespreksgenoot iemand is wat maklik van stryk gebring word, is die kans groot dat hulle skoon sal vergeet wat hulle wou sê. As jy dit aanhoudend doen, kan dit jou nogal baasspelerig laat lyk en dit mag mense laat voel dat hulle liewer nie met jou wil gesels nie, omdat hulle bang is hulle maak ʼn taalfout. Gebruik hierdie strategie liefs as laaste opsie.

2. Korrigeer die persoon as hulle klaar gepraat het
– “My broer en ek het gister gaan rugby kyk.”
– “Ek is bly julle kon dit doen! Onthou net ons sê in Afrikaans ‘Ek en my broer’ – dis andersom as in Engels.”
Hierdie soort vermaning is net so direk soos die vorige een, maar veel minder ontwrigtend en minder ongeskik. ʼn Mens kan hierdie benadering ook volg vir teksboodskapgesprekke. Die strategie werk nie so goed as iemand ʼn lang storie vertel nie. As jy die fout ophaal wanneer die storie klaar vertel is, kan dit lyk of jy ophou luister het en net gewag het dat dit jou beurt is om hulle daarop te wys dat hulle verkeerd is.

3. Korrigeer deur ʼn voorbeeld te stel
– “Die nuwe burgermeester lyk of sy dinge gaan doen, nè?”
– “Ja, ek is omgewonde oor wat ʼn dinamiese burgemeester vir ons dorp kan beteken.”
ʼn Elegante oplossing, maar nie altyd ʼn maklike een nie. Hierdie soort reghelp is nie direk nie, wat ʼn beter benadering is as iemand sensitief daaroor is om op foute gewys te word. Wat dit moeilik maak, is dat die onus op jou rus om om aan ʼn sin te dink waarin jy kan demonstreer wat die korrekte taalgebruik of woordkeuse is. Omdat hierdie soort korreksie subtieler is as die ander, bestaan die moontlikheid dat die spreker dieselfde fout weer kan maak.

4. Ignoreer dit
– “Nee, ek doen nie.”
– “Ek hoor.”
Nie alles in die lewe hoef perfek te wees nie. As jy voel jou reghelp gaan nie ʼn bydrae lewer tot die gesprek nie, moet jy dit hoegenaamd doen? Soos die Dalai Lama sê: “As jy praat, herhaal jy net wat jy klaar weet. Maar as jy luister, kan jy iets nuuts leer.”