Hoe lyk veeltaligheid by die Universiteit Stellenbosch?

Op 13/11/2018 geplaas · In Dialogos, Jongste nuus, Nuutste nuus, Ons tale geplaas

“Veeltaligheid kan jong kinders se denkvaardighede, probleem-oplossingsvermoë en begrip van kompleksiteit en stelsels bevorder en ontwikkel. By bejaardes kan veeltaligheid selfs die aftakeling van verstandelike vermoëns teëwerk.” Met hierdie inspirerende feite het prof Arnold Schoonwinkel, Viserektor (Leer & Onderrig), vanjaar se Taaldag by die Universiteit geopen.

Op 28 September het 75 studente en personeellede by STIAS byeengekom om te besin oor vanjaar se Taaldagtema, ‘Veeltaligheid @US: Die skep van ʼn bemagtigende omgewing’. Die doel van die dag was om ruimte te skep vir voortdurende nadenke oor die verskeidenheid geleenthede wat bestaan by ’n universiteit wat sensitief vir ’n veeltalige benadering is. Prof Schoonwinkel het daarop gewys dat veeltaligheid in die konteks van ’n tersiêre omgewing ’n rol daarin speel om insidente van rassisme, xenofobie en kulturele onverdraagsaamheid te bestry, en dat dit die moeite werd is om maniere te ondersoek waarop veeltaligheid in die leer- en sosiale omgewing op kampus ingespan kan word.

Deur middel van kleingroepbesprekings is ’n platform geskep waar die diverse groep deelnemers kon saamdink oor die waarde van veeltaligheid en hoe ’n bemagtigende omgewing geskep kan word. Die twee hoofonderwerpe, ‘Veeltaligheid in ruimtes vir onderrig en leer’ en ‘Veeltaligheid in sosiale ruimtes’, het rigting aan die gesprekke gegee. Moeilike vrae is gevra, byvoorbeeld: hoekom doen ons enigsins moeite om tale wat verminoritiseer is, in onderrig te koester, en hoe manifesteer dit in ons klaskamers? Uit die terugvoer van die gehoor was dit duidelik dat veeltaligheid ten diepste deel is van ons as Suid-Afrikaners, dat dit ons definieer en as ’n nasie onderskei. Ander opmerkings was die volgende: “Veeltaligheid wys ’n sensitiwiteit teenoor inklusiwiteit en benut die mag wat taal in ’n kulturele sowel as professionele samelewing het.” “Ons moet besig bly met veeltaligheid tot by die punt waar ons daaraan toegewyd is om bemagtigende omgewings te skep om verheldering en begrip te help bewerkstellig. ’n Tasbare manier om dit te doen kan wees om meer drietalige (of selfs veeltalige) terminologielyste te voorsien in die vorm van selfoontoepassings, soos dit in die Mobilex-projek gedoen word.” Die algemene konsensus was dat, hoe ons ook al die uitdagings van veeltaligheid benader, ons altyd in gedagte moet hou dat ons dit doen om inklusief te wees, om andere te akkommodeer en om sensitief vir individuele behoeftes te wees. Op hierdie manier skep veeltaligheid geleenthede vir persoonlike groei en uitreik, eerder as vir passiewe waarneming. Carli van Wyk, Voorsitter van die Verteenwoordigende Studenteraad van 2018/2019, het die gevoel in die vertrek soos volg opgesom: “Ons moet daarop fokus om ’n verwelkomende kultuur by die US te skep waar ons waardes die dryfveer is agter ons strategie om diversiteit te vier, en ons moet veeltalige ruimtes skep waarin ons van mekaar kan leer.”

Hoewel die Universiteit op Afrikaans, Engels en Xhosa fokus, word daar ook toenemend klem gelê op Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SASLI). Afgesien van tolking in Afrikaans en Engels, was Gebaretaaltolking ook beskikbaar en kon dowe studente aan die Taaldaggesprek deelneem. As jy graag die gesprek wil volg, kyk gerus hier na ’n opname van die hele dag se gebeure of kyk na die uitnodiging aan studente om die gevoel van ’n veeltalige kampus te ervaar.

Taaldag-uitnodiging