Is dit nou ‘is’ of ‘are’? 

Op 12/11/2018 geplaas · In Dialogos, Jongste nuus, Nuutste nuus, Ons tale, Skryfwenke geplaas

Wat Engels betref, is dít die skeidslyn: aan die een kant het jy (blykbaar) goed opgevoede (vermoedelik) eerstetaalsprekers; aan die ander het jy, wel, die res van die wêreld. Eenvoudig gestel beteken onderwerp-werkwoord-kongruensie dat ʼn enkelvoudige onderwerp werkwoorde in die enkelvoudsvorm vat en meervoudige onderwerpe werkwoorde in die meervoudsvorm. Maar as concord so eenvoudig is, hoekom beskou mense dit as so ʼn duidelike aanduiding dat jy die taal bemeester het (of nie)?

Dikwels lê die antwoord in die feit dat daar nie altyd eenstemmigheid is oor of die sinsonderwerp enkelvoudig of meervoudig is nie. Dit lyk met die eerste oogopslag onsinnig. Die meeste mense kan tog tussen een (enkelvoud) en meer as een (meervoud) onderskei.

Maar kyk na hierdie nuusopskrif: ‘Stellenbosch FC suffer first defeat of the season, but stay top of NFD log’. Die werkwoord ‘suffer’ is in die meervoudsvorm. Maar as mens dit herskryf, kan dit as volg lees: ‘They suffer their first defeat’ – meervoudsonderwerp, meervoudswerkwoord. Maar die sokkerklub se eerstespan is één span. Dis tog sekerlik ʼn onderwerp wat as enkelvoudig deurgaan?

Tradisioneel gesproke hanteer lidlande of voormalige lidlande van die Statebond die name van sportspanne (insluitende nasionale spanne) as plekhouers vir die meervoudsonderwerp ‘the players’. As jy nou die sin herskryf as ‘The players have suffered their first defeat’, dan het jy onderwerp-werkwoord-kongruensie.

ʼn Ander soort voorbeeld kan in maatskappye se slagspreuke gevind word. Elke nou en dan sal ʼn maatskappy ʼn oproep ontvang wat min of meer so lui: ‘Julle maatskappy se slagspreuk is verkeerd. Dit moet “When precision and accuracy matter meervoud lees, nie matters enkelvoud” nie.’ Het die mense wat sulke oproepe maak ʼn punt beet?

Wel, dit hang van twee verwante perspektiewe af. Eerstens, of die maatskappy ‘precision and accuracy’ as een konsep beskou (in welke geval dit ʼn werkwoord vir die enkelvoudsvorm nodig het) en, tweedens, wat die jargon vir die spesifieke bedryf is. As dit die norm in daardie bedryf is om ‘precision and accuracy’ as ʼn enkele konsep te beskou, dan moet dit ‘precision and accuracy matters’ wees. Nes met die sportspanne, dra die gebruikskonvensies in ʼn spesifieke area baie gewig – veel meer as die telstrategie (precision [een] plus accuracy [een] is gelyk aan twee, dus ʼn meervoudswerkwoord) waarop die meeste mense staatmaak om te bepaal of die werkwoord in sy enkelvouds- of meervoudsvorm gebruik moet word.

Hierdie veranderlikes onderstreep twee basiese punte. Eerstens is Engels, so te sê, ʼn taal met báie veranderlikes. En tweedens is taal veel meer as net ʼn kwessie van reg tel.