ʼn Taalavontuur vir internasionale studente

Op 17/09/2019 geplaas · In Dialogos, Jongste nuus, Nuutste nuus, Ons tale geplaas

Buitelandse studente wat hulle Engels wil verbeter, kan vir die Taalsentrum se Intensiewe Engels-program (IEP) inskryf. In dié program word studente op verskillende vlakke of blokke  aangemoedig om op Vrydae bymekaar te kom vir ʼn taalwerkwinkel spesifiek om met mekaar te meng en Engels te praat.

Op Vrydag, 23 Augustus, het ons huidige internasionale IEP-studente met die baie kundige en interessante Sandiswa Kula as gids ʼn toer deur die US se botaniese tuin onderneem. Sy het aan die studente staaltjies vertel en baie inligting gegee oor die verskillende plantsoorte, insekte, diere en voëls wat in die tuin voorkom. Die studente het die verskillende glashuise besoek, en ook die leliedammetjie, die bonsai-woud, proteaplante en kruietuin. Hulle kon na hartelus vrae vra en die flora en fauna wat hulle gesien het, met dié in hulle eie lande vergelyk.

ʼn IEP-blok bestaan uit 20 ure se Engelse taalonderrig van 09:00 tot 13:00 op weeksdae vir agt weke. Instrukteurs wat gekwalifiseer is om Engels as ʼn vreemde taal te onderrig, put uit ʼn verskeidenheid kursusboeke en aangepaste hulpbronne om die studente se lees-, skryf-, praat- en luistervaardighede te ontwikkel. Grammatika, uitspraak en woordeskat geniet intensiewe aandag. Nuwe aansoekers skryf ʼn plasingstoets wat help om hulle op die regte vlak te laat inskakel.

Die laaste blok vir 2019 vind van 14 Oktober tot 6 Desember plaas, en 2020 se datums is soos volg:

3 Februarie tot 27 Maart, 6 April tot 29 Mei, 8 Junie tot 31 Julie, 11 Augustus tot 2 Oktober, en 12 Oktober tot 4 Desember.

As jy wil aansoek doen of meer inligting wil hê, kontak gerus vir Shannon Bishop, die Taalsentrum se IEP-koördineerder.