Dis nog lank nie klaar met ‘tannie’ nie

Op 26/06/2018 geplaas · In Dialogos, Navorsing, Nuutste nuus, Ons tale, Skryfwenke geplaas

In ʼn vorige bydrae het ons ernstig begin wonder oor die aanspreekvorm ‘tannie’. Ons beste raad bly maar dat ʼn mens jou diskresie moet gebruik en dat die konteks dikwels ʼn goeie aanduider is of ‘tannie’ gepas is of nie. Op kampus is dit egter selde gepas, en daarby hou ons voet by stuk. Probeer maar liewer ‘dame’ of ‘mevrou’ (soos die Nederlanders) of ʼn titel vir jou dosent.

Ons is beslis nie die enigstes wat oor ‘tannie’ wonder nie. Prof Nerina Bosman van die Departement Afrikaans van die Universiteit van Pretoria en haar span is besig met ʼn navorsingsprojek oor aanspreekvorme in Afrikaans. Hier gaan dit om baie meer as net ‘tannie’ – al haar variasies soos ‘antie’, ‘auntie’, ‘tante’, ‘tant’, en selfs haar man, of dit nou ‘oom’, ‘oompie’ of ‘uncle’ is, is ingesluit, asook aanspreekvorme soos ‘u’ en ‘jy’. Verder is die navorsers geïnteresseerd in aspekte soos of kinders vir hul ouers en selfs onderwysers ‘jy’ sê. Die span het ʼn vraelys saamgestel om van gebruikers te hoor, en ons nooi almal wat Afrikaans praat uit om die vraelys te voltooi – dit neem nie lank nie. Klik hier om aan die opname deel te neem.

Verder het prof Bosman ʼn Facebook-blad geskep om mense die geleentheid te gee om hul sê te sê oor aanspreekvorme. Menings wissel van: “Wat my die horriepiep gee, is as ek vir iemand van 35 vra om my op my naam te noem, en dan bly hulle my tannie noem. Dis wanneer ek ligtelik onbeskof raak…” tot  “Die gebruik van ‘oom’ en ‘tannie’ is iets wat vrees veroorsaak in klein kinders. As kind was ek altyd te bang om te vra wat moet ek die persoon noem en maak nie saak wat jy vra nie jy word meeste van die kere uitgetrap. Byvoorbeeld, as jy die dame vra wat jy haar mag noem kry jy gewoonlik die antwoord: Lyk ek oud?”

Ander maniere van menings lug oor ‘tannie’ is ook welkom – e-pos Dialogos se redakteur gerus. En as jy ge’tannie’ word en jy nie daarvan hou nie, het jy dalk ʼn opvoedingstaak. Bevry die aanspreker van die juk van onsekerheid en sê prontuit wat jy genoem wil word. Tannie Poppie (van Kokkedoor-faam) en tannie Evita (as Pieter-Dirk Uys se alter-ego) se kans is egter verby. Hulle het gevrá daarvoor!