Dokters reik uit na kinders met ‘n hoë risiko vir kanker

Spesialiste van die FGGW en die Tygerberg-hospitaal het besoek afgelê by die Athlone Skool vir Blindes om leerders touwys te maak oor sonveiligheid en die gevare van velkanker.
‘n Span spesialiste van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die Universiteit Stellenbosch en die Tygerberg-hospitaal het in die aanloop tot Wêreld Kankerdag (4 Februarie) besoek afgelê by die Athlone Skool vir Blindes (ASB) om leerders touwys te maak oor sonveiligheid en die gevare van velkanker.
 
Ongeveer ‘n kwart van die leerders by die ASB het albinisme – ‘n oorerflike toestand wat veroorsaak dat mense geen pigment in hulle vel, hare, en oë het nie. Weens hulle baie bleek voorkoms is mense met albinisme baie kwesbaar vir sonbrand en is gevolglike geneig tot velkanker.
 
“In die kliniek sien ons baie mense met albinisme wat velkanker op ‘n baie jong ouderdom ontwikkel – in hulle 20s en 30s. Hierdie kankers kan voorkom word as mense met albinisme vanaf ‘n jong ouderdom sonveiligheid beoefen,” het dr Willie Visser, hoof van die Afdeling Dermatologie by die FGGW en Tygerberg-hospitaal, gesê. 
 
Die hoë voorkoms van velkanker in mense met albinisme het Visser en ander spesialiste by die Velkanker Gekombineerde Kliniek by die FGGW en Tygerberg-hospitaal gemotiveer om hierdie intervensie van stapel te stuur. Te danke aan ‘n borgskap van Eucerin, ‘n vervaardiger van velsorgprodukte, het elke kind met albinisme ‘n bottle sonskerm ontvang.
 
Hulle het ook ‘n vennootskap gesluit wat behels dat ‘n span dermatoloë gereeld besoek by die skool gaan aflê om kinders te ondersoek vir moontlike kwaadaardige letsels en om opleiding te gee oor velsorg en sonveiligheid. Deur hierdie vennootskap sal die ASB ook ‘n gereeld voorrade sonskerm vir behoeftige leerders ontvang.
 
Volgens Visser word hierdie probleem gedeeltelik daaraan toegeskryf dat sonveiligheid nie juis toegepas word onder die swart bevolking nie aangesien ‘n donker vel van nature meer beskerming teen die son bied. “Wanneer ouers wat nog nooit sonveiligheid toegepas het nie,’n kind met albinisme het is die ouers baie keer onbewus van die kind se kwesbaarheid vir sonbrand, en bied hulle nie die nodige voorligting oor sonbeskerming nie,” sê hy.
 
Alhoewel mense met ‘n donker vel ‘n mate van natuurlike beskerming teen die son geniet, waarsku Visser dat hulle ook die risiko loop om velkanker op te doen  en hy stel voor dat hulle hulself ook teen die son beskerm.
 
Hy gee die volgende raad vir sonveiligheid:
 
- Wend elke dag ‘n sonskerm met ‘n hoë SBF (SBF 30 of hoër) aan. Wend dit weer aan nadat jy gewas, geswem of gesweet het.
- Dra ‘n hoed met ‘n wye rand as jy buite in die son is. ‘n “Bofbal-keps” verskaf nie genoeg beskerm nie aangesien jou ore en nek steeds aan sonlig blootgestel is.
- Dra sonbrille om jou oë en ooglede te beskerm.
- Dra beskermende klere soos langmouhemde as jy in die son is.
- Moenie in die hitte van die dag (tussen 10vm en 2nm) buite speel nie, en bly in die skadu as jy buite speel.
 
Spesialiste van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en die Tygerberg-hospitaal het besoek afgelê by die Athlone Skool vir Blindes in die aanloop tot Wêreld Kankerdag om kinders touwys te maak oor sonveiligheid en die gevare van velkanker.
 
Wilma Stassen