Stap vir ‘n gesonde, langer lewe

Deur gereeld te stap kan jy ‘n langer, gesonde lewe lei.
“Stap dit af… bietjie vir klein bietjie” – dit was die boodskap van ‘n spesialis in sport- en oefeningsgeneeskunde aan die Universiteit Stellenbosch vir Wêreld Beweeg vir Gesondheid-dag, wat op 10 Mei gevier is.
 
Die eenvoudige oefening wat stap jou bied kan jou help om gewig te verloor, jou beskerm teen chroniese siekte, en selfs jou lewe verleng, volgens prof Wayne Derman, ‘n spesialis in sport- en oefeningsgeneeskunde aan die Universiteit Stellenbosch (US).
 
“Daar is ‘n wanpersepsie dat stap nie ‘n vorm van oefening is nie. Maar as jy gereeld teen ‘n vinnige pas stap, hou dit merkwaardige voordele vir jou gesondheid in,” sê Derman, die hoof van die Instituut vir Sport- en Gesondheidsgeneeskunde (ISEM) wat onlangs by die US se Fakulteit van Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe gestig is.
 
“Wetenskaplike navorsinging het getoon dat vir elke minuut wat jy stap, jy jou lewe met een-en-‘n-half tot twee minute verleng,” sê Derman.
 
Stap kan jou ook help om ‘n paar ekstra kilos af te skud. Navorsing het bewys dat jy meer as 3kg ‘n jaar kan verloor deur net 20 minute ‘n dag te stap.
 
“Jy gaan jare by jou lewe voeg as jy elke dag vir 20 minute stap. En deur 30 minute ‘n dag te stap gaan jy ook jou risiko vir hartsiekte, diabetes, kolonkanker, depressie en Alzheimer se siekte halfveer,” sê Derman.
 
“As jy nog 15 minute daarby voeg en elke dag vir 45 minute stap, sal jy ook jou kans om verkoue te kry halfveer, aangesien oefening ‘n voordelige effek op die immuunstelsel het.”
 
“Die hoofboodskap is dat jy soveel moontlik moet stap as wat jy kan – al kan jy dit nie vir 45 minute elke dag doen nie, gaan jy voordeel trek uit elke minuut wat jy stap,” sê Derman.
 
Jy hoef nie te kragloop om hierdie voordele te trek nie, maar jy moet teen ‘n vinnige pas beweeg wat jou sal laat sweet as jy vir langer as 10 minute aaneen stap. “Jy moet gematig oefen. Jy moet nog in staat wees om met iemand wat langs jou stap te praat, maar jy moet te uitasem wees om te sing,” verduidelik Derman.
 
Stap is nie net goed vir jou gesondheid nie, dit is ook gratis en toeganklik vir die meeste mense. En as jy gedink het jy kan die winterweer as ‘n verskoning gebruik om nie te stap nie, dink maar weer. “As dit te koud of reënerig is, gaan na jou naaste inkopiesentrum en stap daar,” sê Derman.
 

 

Wilma Stassen