Dinamiet kom in klein pakkies

Dr Karin Baatjes.

Dié klein chirurg met die groot titel red lewens en doen inspirerende werk onder vroue met borskanker. Dr Karin Baatjes, hoof van die Afdeling Anatomie en Histologie, verskaf ook opleiding en het ’n groot hart vir liefdadigheid.

Moenie dat haar fyn hande en petit lyfie jou flous nie.

Dr Karin Baatjes, hoof van die Afdeling Anatomie en Histologie en konsultant in die Afdeling Chirurgie aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe van die Universiteit Stellenbosch, se groot titel getuig van haar dryfkrag, harde werk en intellek.

Sy red lewens, lei studente én dokters op, en is ’n navorser van formaat.

Baatjes het boonop ’n oop hart. Sy het byvoorbeeld ’n marathon (42 km) gedraf en daarmee R53 000 ingesamel vir Reach for Recovery se Ditto-projek, ’n borskanker-ondersteuningsorganisasie. Dan is daar die spensprojek op die Tygerberg-kampus. “Ons samel maandeliks nie-bederfbare kos en higiëniese produkte in vir studente wat dit nie so breed het nie.

“Op die oomblik doen ek ook baie werk vir Project Flamingo, waar chirurge elke tweede maand op ’n Saterdag ekstra borskankeroperasies uitvoer om sodoende ons wagtye by die Tygerberg- en Groote Schuur-hospitale te verkort. Ek wil ’n verskil maak waar ek kan,” vertel sy.

WERKSETIEK

Sy meen haar lewe was geseënd en haar ouers het vir haar studies betaal. “Ek wil teruggee.”

Haar pa, Fred, is in 2000 oorlede en haar ma, Evelyn, is in 2004 met borskanker gediagnoseer. Haar ma se diagnose het Baatjes hard geslaan. Sy het toe pas as chirurg gekwalifiseer en het gou besef dis anders om ’n chirurg vir onbekendes te wees as om jou ma te behandel. Haar ma het op 15 Augustus verlede jaar 80 jaar oud geword. ’n Blye geleentheid.

Baatjes het as hoërskoolleerder in Kraaifontein daarvan gedroom om ’n fisioterapeut te word. “Ek het gehou van die sport-verbintenis en dat jy met jou hande werk. Net soos in chirurgie.” Maar sy is geensins spyt oor haar loopbaankeuse nie.

“Daar is soveel vertakkings in die behandeling van borskanker – jy moet kyk na faktore soos oorerwing en operasietegnieke, maar ook metabolisme, wat verband hou met genetiese faktore,” sê sy.

Haar doktorsgraad is einde 2018 toegeken. Haar tesis het gehandel oor beengesondheid in na-menopousale vroue wat met ’n spesifieke anti-estrogeenmiddel behandel is.

Die wêreld van anatomie is vir haar nog betreklik nuut en opwindend. “Dit bied groei en ontwikkeling, want ek kan so baie leer.”

Dit is nie aldag maklik om al die balle in die lug te hou nie, erken sy. “Soms voel ek asof die eise net al hoe meer word. Maar ek werk ook gereeld in my vrye tyd en laat staan nie werk tot op die nippertjie nie. Ek probeer georganiseerd wees en berei byvoorbeeld Sondae reeds my maaltye vir die res van die week voor.”

Selfsorg is ook vir haar belangrik. Só hanteer sy stres. Waar moontlik, ruim sy tyd vir ontspanning in. “Dan kook en kuier ek saam met vriende en familie en ons speel bordspeletjies.” Sy sweet ook gereeld haar sorge uit as sy draf en haar lyf en siel herlaai met goedvoelhormone (endorfiene). En daardie hande wat vir sulke sekuur snitte met die skalpel sorg, bottel sowaar tuisgemaakte konfyt en blatjang. ’n Stokperdjie wat sy onlangs bemeester het, vertel sy.

Sy reken haar werksetiek kom van albei ouers. Karin was die jongste van vyf. “My pa was ’n skoolhoof, my ma ’n onderwyseres. Ek streef daarna om hul nalatenskap deur naastediens uit te leef. Ek bewonder mense wat goed onder druk werk en aanhou om uitdagings te bowe te kom.”

Tot nou toe het sy altyd hard gewerk. Terugsit was ’n luukse. “Ek móés fokus.”

In 2000 was sy immers die enigste vroulike kliniese chirurgiese assistent in haar groep. In haar wêreld tel geslag nie, eerder doeltreffendheid. Sy het dus nie openlik genderdiskriminasie beleef nie, vertel sy.

’N HART VIR ANDER

Baatjes reken van die belangrikste behandelingstegnieke wat in die behandeling van borskanker voorspel word, is “’n program wat ontwerp word om by ’n spesifieke pasiënt se kanker te pas – persoonlike medisyne of individuele sorg”.

Dit verskaf haar eindelose vervulling om ander te help – hetsy as dokter, met opleiding, navorsing of liefdadigheidswerk.

“Op my lewenspad help mense my gedurig. Om my deel te doen, is amper soos ’n klein deel van die diakonale diens van die kerk.”

Maar sy glo almal kan liefdadigheidwerk doen. “Selfs al is dit net om bewusmaking van mense in nood aan ander uit te wys. ’n Mens kan altyd van jou tyd gee.”

Sy soek nie lofprysings nie. ’n Eenvoudig “dankie” is genoeg.

“Om te sien hoe ’n pasiënt se gesig ophelder as ’n operasie suksesvol was – dít is my grootste dryfveer.”

 

Marguerite van Wyk