Bemagtig jong vroue om visie vir ‘n VIGS-vrye generasie te bereik

Proff Soraya Seedat, Rafique Moosa, Keymanthri Moodley en Quarraisha Abdool Karim.

“Ons sal nie MIV/Vigs in jong vroue en tiener meisies môre beëindig nie, maar dit moet deel van ons visie wees as ons ʼn VIGS-vrye generasie wil hê en hierdie siekte wil stopsit.”

Dit was die boodskap van professor Quarraisha Abdool Karim by ʼn Vroueforum-geleentheid by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Abdool Karim is ʼn NRF A-gegradeerde wetenskaplike en die mede-wetenskaplike direkteur van die Sentrum vir Vigs-programme van Navorsing in Suid-Afrika (CAPRISA). Volgens haar lewe soveel as driemaal meer jong vroue tussen die ouderdomme van 15 en 24 jaar op die Afrika-kontinent met MIV in vergelyking met hul manlike eweknieë.

“Tienermeisies en jong vroue is siek en sterf van VIGS of MIV-verwante komplikasies teen ʼn vinnige koers, wat die belangrikheid beklemtoom om MIV-behandeling en -voorkoming vir hierdie spesifieke groep versterk,” het sy gesê.

Volgens Abdool Karim het 37,8 miljoen mense wêreldwyd in 2018 met MIV gelewe. “Net verlede jaar was daar ongeveer 770 000 MIV-verwante sterftes en 1,6 miljoen nuwe infeksies.” Sy het gesê dat Afrika die hoogste voorkoms van dié siekte het met ongeveer 70% van alle aangemelde gevalle wat vanuit hierdie kontinent spruit. “Een uit elke vyf nuwe infeksies vind daagliks in Suid-Afrika plaas, en die grootste uitdaging vir ons is om MIV-infeksie in tienermeisies en jong vroue te voorkom.”

Een van die maniere waarop Abdool Karim en haar kollegas beplan om dit te doen, is om die Verenigde Nasies se Program vir MIV/Vigs (UNAIDS) se 2020-strategie te bespoedig. Dié strategie beoog om nuwe infeksies wêreldwyd tot 500 000 te verminder teen die einde van volgende jaar. “Maar in 2018 het ons 1,6 miljoen nuwe infeksies aangeteken wat beteken dat hierdie nuwe doelwit ʼn strawwe opdrag is.”

Volgens UNAIDS het die aantal nuwe MIV-infeksies in die algehele bevolking van Afrika suid van die Sahara met 46% afgeneem tussen 2000 en 2015, en met 37% in jongmense. Abdool Karim het gemeen dat hierdie afnames klein was en stadig ʼn verskil aan die kwesbaarheid van tienermeisies en jong vroue gemaak het.

Abdool Karim het gesê dat die oneweredige hoë MIV-infeksiekoers in jong vroue vir verskeie redes voorkom. “In die kern is die probleem van mag en gender-ongelykheid, maar die oorsaak van jong vroue se kwesbaarheid is ʼn samestelling van strukturele, sosiale en biologiese faktore.”

Sy het bepleit vir die verdere ontwikkeling van MIV-voorkomingstrategieë waarin vroue in direkte beheer is. “Om jong vroue in hierdie opsig te bemagtig is een van die hoekstene van die strategie om die oneweredige hoë infeksiekoers die hoof te bied,” het sy gesê. Twee strategieë sluit in die beperking van MIV-risiko deur die gebruik van room (microbicide) voor en na seksuele omgang en die mondelinge gebruik van antiretrovirale middels deur vroue wat nie geïnfekteer is nie.

Abdool Karim het ASSAf se Wetenskap-vir-die-Samelewing Goue Medalje ontvang vir uitsonderlike prestasie in wetenskaplike denke tot voordeel vir die samelewing en het ook die Orde van Mapungubwe ontvang van die Suid-Afrikaanse President in 2013 vir haar uitnemende werk in die veld van MIV/Vigs en Tuberkulose navorsing en gesondheidsbeleid-ontwikkeling. 

 

Florence de Vries