Beroertepasiënte kan baat by goedkoop, eenvoudige oefenprogram

Pasiënte doen balansoefeninge.
Wêreldwyd sterf een uit elke tien mense jaarliks aan ʼn beroerte, wat dit die tweedegrootste oorsaak van sterftes maak. Diegene wat dit oorleef, se beweeglikheid word dikwels belemmer en hulle sukkel om daaglikse take wat ons dikwels as vanselfsprekend beskou, te verrig. Aangesien hulle lewenslange ondersteuning nodig het wat baie duur kan wees, is dit belangrik om hulle te help om fisieke aktiwiteite op hul eie te verrig omdat dit hul lewensgehalte en hul vermoë om alledaagse take self te verrig, sal verbeter.  
 
“Een manier om dit te bereik is deur sensories-motoriese oefeninge wat funksionele herstel by chroniese beroertepasiënte kan aanhelp en hul brein se vermoë om te herorganiseer in reaksie op die sensoriese insette, ondervinding en leer, kan verbeter," sê dr Tania Zastron, wat onlangs haar doktorsgraad in Sportwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US) behaal het.    
 
Zastron het as deel van haar navorsing 'n kostedoeltreffende en eenvoudige taak-spesifieke agt-week sensories-motoriese opleidingsprogram (SMO) ontwikkel om te bepaal of oefening die samehangende krag tussen verskillende geaffekteerde dele van die brein, asook funksionele herstel by chroniese beroertepasiënte kan verbeter. 
 
Sy wys daarop dat van die 71 mans en vroue wat genader is om aan die studie deel te neem, slegs 22 aan die volgende insluitingskriteria voldoen het: hulle moes 18jaar en ouer wees; moes ses maande of meer voor die intervensie ʼn beroerte (kroniese beroerte) gehad het; moes hul balans in ʼn staande posisie vir 30 sekondes kon hou; moes sonder ondersteuning sewe meter kon loop; en toestemming van ʼn dokter kry om aan die studie deel te neem. Die 22 mans en vroue met ʼn gemiddelde ouderdom van 70 jaar het drie 45-tot 60-minute sessies per week oor die agt-weke tydperk voltooi. Zastron het hulle in twee groepe verdeel, naamlik 'n SMO-en 'n aandag-gelyke kontrolegroep (KON). Die KON-groep is gebruik om te verseker dat die uitslae van die eksperimentele groep nie bloot was omdat hulle een of ander soort aandag gekry het nie.  
 
Die SMO het taak-spesifieke balansoefeninge voltooi wat gefokus het op die manipulasie van die liggaam se visuele stelsel, sowel as dele van die sensoriese stelsel wat met balans en ruimtelike oriëntering (vestibulêr) en die bewustelike persepsie van aanraking, drukking, pyn, temperatuur, posisie, beweging en vibrasie (somatosenories), verband hou. Die KON-groep het vir dieselfde duur as die SMO-groep na opvoedkundige praatjies oor verskeie leefstylonderwerpe geluister.  
 
Albei intervensies is deur ervare biokinetici by sentrums naby aan die deelnemers se huise aangebied.  
 
Zastron sê deelnemers aan die SMO-groep het balansoefeninge soos kopknikke, rompleunings, strek, vang, gooi, enkelbeenstaan, gewigverskuiwing, stap (normaal, met hoë knieë, boudskoppe, sywaarts en agteruit), tandem-stap, gewigverskuiwing in treë, ratsheidslere, op die lyn stap, opstaan, stap met rigting en hindernisse, strek en stap, 360°-draaie en sit op 'n oefenbal en strek gedoen.  
 
Sy voeg by dat hierdie oefeninge onder sensories-gemanipuleerde omstandighede gedoen is, soos byvoorbeeld verdoofde ligte, verskuiwing van die visuele omgewing, gebruik van sonbrille, om deelnemers te vra om hul oë toe te maak en dan die oppervlak onder hul voete te verander, kopbuigings, ens.  
 
Hierdie tipe oefeninge is belangrik omdat 'n beroerte die balans binne die verskillende strukture in die brein ernstig versteur, sê Zastron.  
 
“Nadat die sentrale senuweestelsel beseer is, lê die herorganisasie van die brein die grondslag vir motoriese leer, die aanleer van nuwe vaardighede, sowel as vir funksionele herstel." 
 
Verbeterde funksionering 
 
Volgens Zastron het haar navorsing bewys dat die SMO-programme inderdaad werk. 
 
“Deelnemers het verbeterde posturale wieg of balans getoon wanneer hulle met oop oë op 'n skuimrubbermat gestaan het, verminderder somatosensoriese afhanklikheid, verbeterde draaivermoë terwyl hulle stap, asook verbeterde waarneembare fisieke en sosiale funksionering. Hul vrees vir val het ook afgeneem.  
 
“Die breinaktiveringsuitslae het 'n toename in die samehangende sterkte tussen dele van die brein wat vir motoriese leer (die verbetering van motoriese vaardighede deur oefen, wat met langdurige veranderinge in neurons geassosieer word), motoriese beheer (die manier waarop die senuweestelsel beweging produseer) en posturale balans getoon.  
 
“Oor die algemeen het die SMO-program tot 'n hoër waarneembare vlak van fisieke funksionering gelei, wat weer die deelnemers se selfdoeltreffendheid verbeter het en 'n toestand van verbeterde funksionering in die daaglikse lewe en algehele welstand geskep het." 
 
Zastron sê verbeterde posturale beheer gaan met verbeterde funksionele mobiliteit gepaard omdat die persoon in staat is om sy of haar postuur beter te kan verander en handhaaf terwyl hy of sy van een posisie na 'n ander verskuif.  
 
“Volgens verslae is draai een van die algemeenste oorsake van val by beroertepasiënte. Indien SMO dus draaivermoë verbeter, kan dit die risiko van val by kroniese beroertepasiënte verminder." 
 
Sy voeg by dat die bevindinge van haar navorsing die belangrikheid van beroertepasiënte se deelname aan balansoefenprogramme beklemtoon.  
 
“Die gebruik van balansoefening onder sensories-gemanipuleerde toestande moet aangemoedig word in die rehabilitasieprogram vir kroniese beroertepasiënte. Oefening kan 'n kostedoeltreffende en eenvoudige manier wees om hierdie mense te help om onafhanklik te wees.  
 
Zastron sê SMO-programme is belangrik omdat navorsing getoon het sowat 70 miljoen beroertepasiënte teen 2030 met 'n gestremdheid sal moet saamleef.  
 
Sy wys daarop dat risikofaktore vir beroerte onder meer hoë bloeddruk, rook, diabetes, die vergroting en verdikking van die mure van die hart se hoofpompkamer en 'n abnormale hartritme insluit. 
 
“Navorsing toon 'n persoon se risiko om 'n beroerte te kry, is 22% hoër indien hy of sy oorgewig is en 64% hoër indien hy of sy vetsugtig is. Gegewe dat 20 miljoen mense wêreldwyd na raming teen 2030 aan 'n beroerte gaan sterf, moet ons alles in ons vermoë doen om die risiko's te verminder."  
 
Zastron sê dat afgesien van beroertepasiënte, ook mense met neurologiese siektes soos Parkinson en Alzheimer se siekte by haar oefenprogram kan baat vind.  
 
Met verwysing na toekomstige navorsing, voeg sy by dat dit waardevol sal wees om te kyk of die verbeterings enigsins langdurig is, asook hoe lank die uitwerking duur nadat beroertepasiënte die balansoefenprogram voltooi het. 
Alec Basson