US-navorser se blink loopbaan

Dr Sengeziwe Sibeko.

Nadat sy met goeie uitslae aan die Montebello High School in Durban gematrikuleer het, was mediese studies ’n ooglopende keuse vir dr Sengeziwe Sibeko. Al haar skoolmaats met goeie uitslae het immers lewenswetenskappe gekies.

Maar die 18-jarige wat in die Umlazi-township grootgeword het en op kosskool aan Montebello High was, sou nooit kon dink sy sou op 44-jarige ouderdom ’n verloskundige en ’n ginekoloog, ’n epidemioloog en ’n slymvliesimmunoloog wees nie – boonop met ’n doktorsgraad agter haar naam. Dit is alles vermag in haar soeke om ’n manier te vind om MIV-oordrag na vroue te verhoed.

“Destyds het ek geen visie van my eie gehad nie. Ek het nooit kon droom ek sou in die geneeskunde opeindig nie, wat nog van ’n wetenskaplike word!”

Nadat sy in verloskunde en ginekologie aan die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) gespesialiseer het, het Sibeko in 2007 die Fogarty Global Health Training-program aan die National Institutes of Health in Washington DC suksesvol voltooi. Daarna het sy selfs hoër doelwitte nagestreef en in 2009 is ’n genootskap vir ’n MSc in epidemiologie aan die Columbia-Universiteit se Mailman School of Public Health in New York aan haar toegeken. In 2011 ontvang sy die prestigeryke Oxford Nuffield-mediese genootskap vir ’n doktorsgraad aan die Oxford-Universiteit, wat sy in 2017 behaal het.

Maar hierdie is net enkele van die hoogtepunte van Sibeko se loopbaan.

Tydens haar navorsingsloopbaan van 12 jaar het sy haar in verskeie projekte met ’n gemeenskaplike tema verdiep: MIV-1-voorkoming by vroue. Hierdie belangstelling het gedurende haar kliniese assistent-jaar onder prof Jack Moodley van die UKZN ontstaan, toe sy by gemeenskaps-gesondheidsrotasies en besprekings oor morbiditeit en mortaliteit by vroue betrokke geraak het.

“Ek het bewus geraak van die omvang van die verandering van MIV/vigs in sy kliniese presentasie en in gewysigde siektemanifestasies, asook van die natuurlike progressie van die siekte,” onthou sy. Dít was die vonk wat haar belangstelling in navorsing ná vyf jaar van spesialisering geprikkel het. Sy het as ’n navorsingsginekoloog by die Centre for the Aids Programme of Research in South Africa (Caprisa) aan die UKZN aangesluit, waar sy gewerk het totdat sy vir haar PhD-studies Engeland toe is. Ná haar terugkeer is sy deur die Departement Verloskunde en Ginekologie aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe opgeraap, waar sy tans ’n senior navorser is.

Volgens Sibeko is Afrika suid van die Sahara ’n streek waar vroue op unieke wyse die spit van die MIV-epidemie afbyt. “My navorsing het dus ten doel om vroue se gesondheid te verbeter, met ’n spesifieke fokus op die MIV/vigsepidemie.”

Met dié doel voor oë was sy by MIV-1-voorkomings- en patogenese-navorsingsprogramme betrokke en het sy die vroulike genitale kanaal (VGK) uit alle hoeke bekyk: klinies, epidemiologies en in laboratoriumwetenskappe. “Ná my betrokkenheid by die veelbekroonde Caprisa 004-kliniese tenofovirjel-studie, wou ek navorsing doen om begrip te bevorder van die biologiese meganismes wat verantwoordelik is vir verhoogde MIV-risiko by vroue.”

Die Caprisa 004-studie was die eerste studie wat op ’n internasionale vlak onderneem is om te demonstreer dat tenofovirjel, ’n anti-mikrobiese middel wat intravaginaal aangewend word, MIV-risiko met 39% verminder. “Maar dit het ook getoon dié verminderde risiko is veel kleiner by vroue waar daar bewyse is van ’n bestaande of onderliggende inflammasie en immuunaktivering in die VGK.”

Dit was die motivering vir Sibeko se huidige navorsing, wat ten doel het om meer insig in slymvliesimmuniteit en die korrelate van beskerming teen of kwesbaarheid vir MIV te verskaf. Die einddoel is die ontwikkeling van ’n doeltreffende voorkomende MIV-strategie vir vroue in die vorm van ’n anti-mikrobiese middel of ’n entstof, sê sy.

“My spesialiteit in slymvliesimmunologie is by die koppelvlak tussen die epiteel (die binneste voering van die baarmoeder) en die virus, met die fokus op die serviks (die nek van die baarmoeder).”

Volgens haar het navorsing op ape die meeste insig in die oordrag van MIV-1 verskaf. “Ek doen navorsing oor vroeë oordrag by mense en oorbrug sodoende die gaping tussen mense en ape.”

Sibeko het in haar persoonlike lewe ’n prys vir haar passie vir openbare gesondheid betaal. Volgens haar is haar slegste eienskap dat sy leef om te werk, wat ’n ongebalanseerde lewe tot gevolg het. “Maar ek werk daaraan! Ek druk myself om ander dinge te doen en groter balans te vind.”

Haar ideale nalatenskap sou wees dat sy gehelp het om oplossings vir die huidige eeu se gesondheidsprobleme by vroue te vind.

DIS NIE ALTYD MAKLIK NIE…

Dr Sibeko moedig personeellede en studente aan om vol te hou en voordeel te trek uit elke geleentheid om hulself te verbeter, al is dit moeilik.

Die grootste uitdagings in haar loopbaan het gespruit uit gebrekkige ondersteuning, dikwels met niemand om haar aan te moedig nie. Maar sy is trots op wat sy desondanks bereik het.

“Toe ek byvoorbeeld by die Columbia-Universiteit was, het ek nie ’n skootrekenaar gehad nie. Almal in my klas het aantekeninge op hul rekenaars afgeneem en take gedoen, maar ek moes leer om die rekenaars in die rekenaarlaboratorium te gebruik en tegelyk take oor statistiek uit te tik. Dit het beteken dat ek sewe dae per week in die laboratorium deurgebring het en dikwels eers drieuur soggens huis toe is. Maar uiteindelik het ek baie goeie uitslae en selfs ’n toekenning vir een van my vakke gekry.”

Ook tydens haar studies aan Oxford het sy ’n gebrek aan ondersteuning en mentorskap ervaar. “Iemand het vir my gesê hulle wag tot jy verdrink en jou tasse pak. Elke oomblik was moeilik. Party goed het my maande geneem om uit te werk. Met genoeg leiding kon dit ’n paar weke geneem het.”

Sy het besluit om met haar mantra te volhard: “As iemand anders dit kan doen, kan ek ook.” Sy het finansiering bekom om haarself te onderhou en haar PhD danksy suiwer vasberadenheid voltooi.

“Wanneer ek 60 word, sou ek graag wou terugkyk en sê ek het die goeie stryd gestry, die resies voltooi en het geen berou nie.”

 

Liezel Engelbrecht