Virtuele realiteit teen versteurings ingespan

Dr Stefan Du Plessis demonstreer die virtuele realiteit-toestel.
Die term “virtuele realiteit” (VR) word dikwels vereenselwig met rekenaarspeletjies en sport, waar mense dit kan gebruik om in ’n virtuele wêreld teen booswigte te baklei of om hul vaardighede op byvoorbeeld die gholfbaan te slyp.  
 
Ander gebruike sluit in virtuele toere van museums, soos om die plafon van die Sistynse kapel virtueel te kan besigtig, en virtuele ingenieurswese, waar virtuele prototipes vir beplannings- en konstruksiedoeleindes gebruik word. 
 
Gesondheidsorg is een van die minder bekende, maar vinnig groeiende velde wat dié interaktiewe tegnologie in navorsings- en behandelingstoepassings aanwend. Die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) het nie agtergebly nie en die Departement Psigiatrie het onlangs ’n toestel vir virtuele realiteitsblootstelling (VRE) aangeskaf, met hoë verwagtinge vir die toepassingsmoontlikhede daarvan. 
 
Dr Stéfan du Plessis, ’n klinikus en navorser van die Departement Psigiatrie wat gehelp het met die befondsingsaansoek van die VRE-toestel, verduidelik dat dit ’n hoëprestasie-instrument is wat deur verskillende navorsers in die departement gebruik sal word in studies oor onder meer posttraumatiese stresversteuring (PTSV), skisofrenie en neurologiese versteurings. 
 
In 2017 het Du Plessis na die Universiteit van Würzburg in Duitsland gereis om die toestel te laat aanpas ooreenkomstig die US se behoeftes en dit is verlede jaar afgelewer. “Die toestel bestaan uit twee skootrekenaars wat aan ’n mediese trollie verbind is. Die een oefen beheerfunksies uit en die ander monitor fisiologiese reaksies. Die VR-komponent is ’n HTC VIVE kopgemonteerde simulator met toerusting wat fisiologiese reaksies soos galvaniese velresponse, hartspoed, asemhalingspoed en skrikresponse meet,” verduidelik hy. 
 
Volgens Du Plessis kan hierdie toerusting gebruik word om psigofisiologiese response te registreer terwyl deelnemers VR-simulasies ingevolge goedgekeurde navorsingstudies ervaar. Dit sluit in omgewings wat ontwerp is om stresresponse te meet, byvoorbeeld ’n vrees vir hoogtes, klein spasies en sosiale situasies. “Navorsing toon deelnemers kan leer om hul vrese met die hulp van gekwalifiseerde psigoterapeute te oorkom wanneer hulle in beheerde omstandighede deur VR-simulasies aan stresvolle situasies blootgestel word.” 
 
Ofskoon dié konsep vir sommige nog te futuristies mag klink, sê Du Plessis die tegnologie is al vanaf die 1970’s beskikbaar, ofskoon in ’n meer beperkte vorm. “Met die ontwikkeling van selfoontegnologie het belangrike onderdele wat in VR-kopstukke gebruik word, baie goedkoper en meer gevorderd geword. Die tegnologie het gevolglik sedert ongeveer 2014 vinnig vooruitgegaan, toe die Oculus Rift (’n kommersiële kopstuk wat meestal vir rekenaarspeletjies gebruik word) ontwikkel is. Dit het veral belangstelling ontlok nadat Facebook dit gekoop het.”  
 
Omdat dit relatief goedkoop is, is dit volgens Du Plessis ’n droomtegnologie vir navorsers. “Dit bied ’n kostedoeltreffende metode om voorpunt-navorsing te doen wat ooreenkomstig ons konteks aangepas kan word en wat moontlik by bestaande, algemene behandelingstrategieë geïntegreer kan word.” 
 
Du Plessis sê die Departement Psigiatrie hoop om sy samewerking met internasionale vennote te bevorder en om die gebruik van dié tegnologie te integreer in sy bestaande navorsingstudies om bykomende biologiese metings te verskaf. “Dit sal ons help om neuropsigiatriese versteurings wat algemeen in die plaaslike konteks voorkom beter te verstaan en moontlik beter in die toekoms te behandel.”
Liezel Engelbrecht