Wat die Abe Bailey-toer vir my beteken het

Tevarus Naicker saam met mede 'Abes' tydens die Abe Bailey-toer.
Van die wêreld van Harry Potter, tot 'n bedrieër in Ethiopië, tot 'n toneelstuk in die West End en ook ernstige akademiese stof tot nadenke in Skotland – die Abe Bailey-toer was absoluut alles wat ek gehoop het dit sou wees, skryf Tevarus Naicker. 
 
Maar die pad tot daar was nie maklik nie. Ek het die e-pos oor die Bailey-reisbeurs in 2016 gesien, en dadelik geweet dat dit 'n ondervinding van 'n leeftyd sou wees. In werklikheid is daar geen ander beurs wat dieselfde geleentheid bied nie, maar ek het gesien hoe van die top studente by die mediese fakulteit aansoek doen daarvoor, en ek het nie die selfvertroue gehad om eers te probeer nie. Ek het eenvoudig gevoel dat ek nie goed genoeg was nie. Teen 2017, egter, het ek gevoel dat ek gegroei het op die gebied van leierskapseienskappe, en dat my vlak van selfvertroue toegeneem het. Ek het my aansoek ingestuur, en het deurgedring tot by die onderhoudstadium – maar nie verder nie. 
 
Wat ek wel uit die onderhoud geleer het was dat my algemene kennis nie heeltemal so goed was soos wat dit moes wees nie, en dat my betrokkenheid as 'n Suid-Afrikaanse burger ietwat te kort geskiet het, ten spyte daarvan dat ek baie betrokke was by die Universiteit Stellenbosch self. Net soos baie ander mense, het ek 'n diepe vrees vir verwerping – en toe moes ek dit in die gesig staar – ek het nie die Abe Bailey-beurs gekry nie. Ek het besluit om nog 'n keer te probeer in 2018, en was ietwat meer optimisties nadat ek die ondervinding van die vorige jaar se onderhoud agter die rug gehad het. Ek het meer gereed gevoel vir die uitdaging. 
 
Ek het steeds gewonder oor my kanse op sukses, maar ek het besluit om die ander kandidate die stryd aan te sê. 
 
Ek het my rol as jongmens in Suid-Afrika en in die wêreld in heroënskou geneem. Dit het daartoe gelei dat ek na nuwe plekke gegaan het en nuwe dinge gedoen het waaroor ek werklik sterk gevoel het – nie net om dit by my CV te kan voeg nie, maar om werklik van diens te kon wees in die gemeenskap om my. Ek het gevoel dat dit iets sou byvoeg tot die onderhoudsproses, en ek voel baie gelukkig om te kan sê dat ek reg was. Ek het die beurs gekry! Hierdie toer was 'n ongelooflike ondervinding op 'n professionele, 'n spirituele en 'n emosionele vlak.  
 
Volgens die Abe Bailey-trust se webwerf, Is die fokus van die beurs leierskapsontwikkeling en dit is die trustees se wens dat beurse toegeken word aan studente wat akademies sterk is en wat uitsonderlike leierskapseienskappe en dienslewering bied en hulle moet 'n goeie rekord handhaaf in hierdie verband – nie net op kampusvlak nie, maar ook binne 'n breër sosiale konteks. Die beurs gee aan jong universiteitspersoneel en -studente die geleentheid om die Verenigde Koninkryk te besoek, en om deel te neem aan opvoedkundige toere volgens 'n goedgekeurde program. Die doel van die reisbeurs is om die horisonne te verbreed van toekomstige leiers van Suid-Afrika. 
 
Die beurs het my die geleentheid gegee om baie versperrings oor te steek – en ons het nie werklik hierdie hindernisse in ons wêreld nodig nie. Dit het my ook geleer oor hoe om my opinies met selfvertroue uit te spreek (al is hulle nie besonder gewild nie) sonder die vrees dat ek veroordeel gaan word. Terselfdertyd het dit my geleer om oop te wees vir nuwe idees en opinies waarmee ek nie noodwendig saamstem nie. Dit het gedien as 'n platform vir aktiewe luister en kritiese deelname op 'n respekvolle, tolerante en eerlike manier. 
 
Dit was die reis van 'n leeftyd – met baie hoogtepunte (en een of twee laagtepunte). Hierdie toer het my in staat gestel om met nuwe oë na die wêreld te kyk. Ek kon myself ingrawe in die geskiedenis van die Verenigde Konikryk, en het my die kans gegun om die invloede te ontleed wat dit op Afrika gehad het. Gedurende hierdie proses kon ek 'n beeld vorm van wat ek eendag wil wees met betrekking tot globale burgerskap. 
 
Ek is passievol daaroor om 'n ambassadeur vir geestesgesondheid te wees, maar ek het nooit regtig die tyd opsy gesit om na te dink oor my eie geesteswelsyn nie. Dit is waarom The Burn ('n akademiese toevlug in Skotland) so belangrik was – dit het aan my die ruimte gegee om introspektief te wees en om na te dink oor dinge wat toksies was in my lewe. Dit was binne hierdie stilte, gedurende die mistige oggendwandelings en by die vertroosting van die kaggel wat ek tot sekere insigte gekom het. In my finale jaar van geneeskunde, het ek gevoel asof 'n berg van my skouers af val, en dat die vuur wat ek eens gehad het op my pad om 'n dokter te word, weer aangesteek is. 
 
Gedurende die reis het ek amper onder 'n bedrieër deurgeloop in Ethiopië, ek het myself in die towerwêreld van Harry Potter in Londen bevind, en het toe die wonder van Skotland ervaar in die ysige koue waarop niks my kon voorberei het nie. Die swak wisselkoers het nie my reis bederf nie, aangesien meeste van die onkostes gedek is. Dit het my in staat gestel om ook 'n paar prettige dinge te doen: 'n warm sjokolade-drankie by die Kersfeesmark, ysskaats in die park, die ervaring van Londen in die aand, die bywoning van 'n toneelstuk in die West End en 'n paar pretritte in die Winter Wonderland. Ek het 'n paar wonderlike ervarings gehad – alles danksy die Abe Bailey-toerbeurs. 
 
Ek het die Abe Bailey-toerbeurs aanvaar met die idee dat niks vir my die ondervinding sou bederf nie – en dit net nie. Inteendeel is die ervaring verbeter deur die kontak met hoogs intelligente mense wat ek glo die toekoms van Suid-Afrika gaan vorm. Voor hierdie reis, hetr ek nooit gedink dat ek sulke ongelooflike mense sou ontmoet nie. Ons is versprei dwarsoor die land, maar dit het geen uitwerking op die vriendskappe en die bande wat ons op die toer gevorm het nie. Die toer het vir my die geleentheid geskep om mense te onmoet wie se gesprekke my werklik diep laat dink het, my geïnspireer het, nuwe idees, denkprosesse en drome gestimuleer het veel groter as wat ek ooit van kon droom. As ek een ding moes kies, dan was dit beslis die mense wat alles die moeite werd gemaak het en die kameraderie wat ons gedeel het, was werklik wonderlik.
Tevarus Naicker