Rwanda-ervaring laat passie vir globale gesondheid ontvlam

Tamsyn Gaynor op die University for Global Health Equity-kampus.
“Dit was ʼn ongelooflike ervaring en ek sal dit weer doen sonder om twee keer te dink.”  
 
Só het Tamsyn Gaynor, ʼn mediese student in haar vierde jaar, haar onlangse besoek van twee weke aan Rwanda beskryf. Gaynor het hierdie buitemuurse aktiwiteit self gekies. 
 
Sy het ʼn week deurgebring in die Butare-universiteitshospitaalsentrum, ʼn opleidingshospitaal in die Huye-distrik van Rwanda se suidelike provinsie, en daarna ʼn paar dae gereis vir ʼn besoek aan die University for Global Health Equity (UGHE) in Rwanda se noordelike provinsie (die Butaro-kampus). 
 
Sy het tydens ʼn onderhoud gesê Rwanda het ʼn opsie geword nadat sy haar belangstelling in openbare en globale gesondheid uitgespreek het. Die Universiteit Stellenbosch het die besoek gefinansier.  
 
“Die vordering in Rwanda se gesondheidsorgstelsel oor die afgelope dekade het my beïndruk, dus was dit opwindend om eerstehands meer daaroor te leer. Ek wou ook meer van die stelsels en werking van hul gesondheidsorgstelsel vergeleke met Suid-Afrika leer,” het Gaynor gesê.  
 
In die opleidingshospitaal het sy ʼn week lank in die verloskunde- en ginekologiedepartement gewerk.  
 
“Ek was elke dag in ʼn ander afdeling om soveel as moontlik te leer. Ek het by ontvangs gewerk, asook by buitepasiënte, in die teater en die verskillende sale, insluitende die kraamsaal.  
 
“Daar was ʼn taalhindernis omdat ek nie Kinyarwanda (die plaaslike taal) kan praat nie, en die meeste van die pasiënte kon nie Engels praat nie. Maar ek het steeds wonderlike interaksie met die pasiënte gehad en die bietjie Kinyarwanda wat ek geleer het, het my ver gebring.  
 
“Dit is wonderlik om te sien hoe ver hulle as ʼn Afrikaland gevorder het en ek kon ʼn gevoel kry van die stand van gesondheidsorg in landelike Rwanda.  
 
“Die interaksie met die kliniese assistente en studente wat rotasies gedoen het, was wonderlik. Die dokters was gretig om hul kennis oor te dra en die studente gretig om te leer.”  
 
Gaynor, wat die Kigali-volksmoordgedenkteken besoek het, het gesê ʼn hoogtepunt van haar tyd in Rwanda was om te sien hoe dié nasie ná die 1994-volksmoord rondom ʼn gemeenskaplike doelwit kon verenig. “Dit het my laat hoop dat groot dinge bereik kan word as mense in Suid-Afrika saamwerk. 
 
“Nog ʼn hoogtepunt was my besoek aan die UGHE. Die inisiatief en visie vir hierdie universiteit is ʼn inspirasie en ʼn bron van hoop en opwinding oor globale gesondheid en gemeenskapsopheffing.”  
 
Gaynor het tydens haar een naweek vir ontspanning die Huye Mountain Coffee-koffieplantasie besoek. “Rwanda se koffie is baie bekend en dit was ʼn voorreg om dit te proe en meer oor die agtergrond te leer.” 
 
Sy het per motorfiets na die UGHE gereis – een van die hoofvervoermetodes in Rwanda – en die rit verby die Lake Burera-meer en die wonderlike uitsigte oor die “Land of a Thousand Hills” geniet. 
 
Volgens Gaynor was haar algehele indruk van die Rwandese gesondheidstelsel goed.  
 
“Daar is steeds min spesialiste in die land, maar baie moeite word gedoen om mediese studente op te lei en te help spesialiseer. Die meeste mense met wie ek gesels het, insluitende mediese studente, wou in Rwanda bly en daar praktiseer. Dit was bemoedigend hoe trots die mense op hul land is en graag ʼn verskil wil maak. Voorts het hul hardwerkendheid my geïnspireer. Hulle wil hul land sien floreer. 
 
“’n Mens sien wel die uitwerking van swak gesondheidsorg in die landelike gebiede as pasiënte van verafgeleë of distrikshospitale na die opleidingshospitaal verwys word. Maar die standaard van sorg by die opleidingshospitaal het my bemoedig en ek hoop dit syfer na die distrikshospitale deur.  
 
“Dit was interessant om die uitwerking van versekering en gemeenskapsversekering in die land te sien. 92% van Rwanda se bevolking het ʼn mediese fonds. Dit het die getal mense wat gesondheidsorg ontvang, drasties verhoog. Ek was verstom oor die uitwerking hiervan. Die mediese sorg is nog baie basies, veral in distrikshospitale, maar dit maak steeds ʼn groot verskil.” 
 
Oor haar toekomstige loopbaanplanne het Gaynor gesê sy is tans nog nie seker oor die besonderhede nie, maar sy is passievol oor landelike en gemeenskapsgesondheid. “My hart is in Afrika. Ek wil graag betrokke wees by die verskaffing van gesondheidsorg aan die kwesbaarste mense en diegene wat dikwels vergeet word.  
 
“Ek sou graag ʼn meestersgraad in globale of openbare gesondheid wou bekom om my kennis te verbreed tot voordeel van diegene om my.” 
Sue Segar