'n ‘Verandering in rigting’ vir baanbreker op die gebied van immuniteitsgebrek

Prof Monika Esser.
Prof Monika Esser, 'n spesialis in Pedatriese Reumatologie asook die Hoof van die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdienste (NHLS) by die Tygerberg-hospitaal en die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, tree in Julie af. 
 
Haar aftrede beteken dalk dat sy meer tyd tot haar beskikking sal hê, maar volgens Esser gaan sy haarself besig hou met verskeie mediese werksaamhede, wat navorsing, vryskutwerk en die ondersteuning van 'n reeks nie-winsgewende organisasies insluit. 
 
“Ek is baie opgewonde oor my aftrede by die NHLS, omdat dit beteken dat ek meer tyd sal hê om op 'n meer buigsame wyse te werk aan verskeie dinge wat my werklik interesseer,” het Esser in 'n onderhoud gesê. 
 
“Dit is 'n beweging in 'n ander rigting, en sal 'n veel minder formele werkskedule behels. Ek hoef nie by sekere ure te hou nie, maar sal wel voortgaan om te werk in die pediatriese reumatologie- en immunologieklinieke by die Departement Pediatrie en Kindergesondheid in 'n ere-kapasiteit, totdat ons genoeg mense in daardie velde opgelei het.” 
 
Esser beklee reeds vanaf Maart 2005 die gesamentlike posisie as Hoof van die Immunologie-eenheid binne die Departement Mediese Mikrobiologie in die NHLS Tygerberg. 
 
“Dit was so 'n interessante deel van my lewe. Ek is eintlik 'n pediatriese reumatoloog, maar is gevra om oor te neem as hoof van die Immunulogie-eenheid, wat deel is van die Mediese Mikrobiologie departement binne die Patologie Departement by die hospitaal. 
 
“Ek is aanvanklik gevra om aan boord te kom as 'n wetenskaplike, al is ek nie 'n opgeleide wetenskaplike nie. Ek het wel laboratorium-verwante opleiding ontvang in aansteeklike siektes gedurende die 80's in die VSA, maar buiten dit was my opleiding suiwer klinies van aard. Dit het omtrent drie jaar geduur vir my om die posisie te herdefinieer as 'n klinikus met 'n belangstelling in immunologie, maar nie as 'n wetenskaplike nie. Dit was 'n groot uirdaging, maar dit was beslis die moeite werd. 
 
Esser sê haar posisie het dit moontlik gemaak vir haar en haar kollegas om translasionele navorsing te doen, wat die ondersoek ingesluit het van babas wat aan MIV blootgestel is, maar nie geïnfekteer is nie. 
 
“Dit het in die klinieke duidelik geword dat hierdie kinders binne hulle eerste lewensjaar 'n groter risiko gehad het met betrekking tot ernstige infeksies. Dit het tot samewerkende navorsing gelei en het uiteindelik gesorg daarvoor dat daar op 'n nuwe manier na hierdie kinders gekyk is as hoë-risiko pasiënte met die wete dat hulle immuunstelsels nie so goed gefunksioneer het soos dié van kinders wat nie blootstelling aan MIV gehad het nie. 
 
“Die navorsing duur voort – en dis baie opwindende werk.” 
 
Esser het gesê dat 'n ander hoogtepunt van haar jare in hierdie posisie het behels dat sy daarin geslaag het om die immuniteitsgebrek kliniek verder te ontwikkel deur die fasilitering van navorsing wat immuniteitsgebreke aan genetika koppel. Ten einde hierdie navorsing te doen, is 'n groep, PIDDGEN, in 2013 gestig. 
 
“Dit duur ook voort en is 'n baie opwindende deel van my werk, wat ek hoop om ook voortaan te help ondersteun deur te help om genetiese redes te vind vir beide algemene en meer seldsame immuniteitsgebreke,” het sy gesê. 
 
“Ons mees prominente fokus in hierdie area is onder kinders en adolossente met herhaalde en ongewone soorte tuberkulose. Die skakel met bestaande navorsingstrukture oor meer algemene siektes in ons land beteken dat ons werk in hierdie veld baie goeie vooruitsigte het daarop om 'n lang-termyn projek te word, met 'n groeiende aantal wetenskaplikes, asook beursgeleenthede en daar is geweldige translasionele potensiaal. 
 
'n Stigterslid in 2008 en voorheen ook voorsitter van die raad van die African Society for Immunodeficiencies (ASID), sê sy sy sal voortgaan om in 'n ere-posisie werk vir die vereniging te doen, asook vir die International Patient Organisation for Immunodeficiencies. “Boonop sal ek ook voortgaan met ons werk vir die beywering van 'n nasionale register vir immuniteitsgebreke waaraan ons al die afgelope 15 jaar lank werk,” het sy gesê. 
 
“Ek sal ook in werkswinkels in Afrika betrokke wees om bewustheid te verhoog en om dokters op te lei om immuniteitsgebreke te identifiseer, sodat hulle behandel kan word.” 
 
Een van die NRO's wat sy ondersteun – en sal voortgaan om mee saam te werk – is Hope Cape Town – 'n MIV hulp-organisasie en opvoedingsprojek waarvan Esser die raadsvoorsitter is. 
 
“In terme van navorsing is ek opgewonde om te kyk na die verband tussen die laboratorium en die kliniese toepassings van immunologie, en om van ons bevindings tot dusver te laat oorgaan in verdere navorsingsprojekte en in algoritmes wat sal lei tot beter sorg in die kliniek,” het sy gesê. 
 
“So ek sal beslis nie ophou met werk nie!” 
 
Haar aftrede beteken egter ook dat sy tyd sal hê om lekker dinge te doen, sê Esser. “My man is baie aktief, en hy werk steeds as 'n hartchirurg, maar ons sal beslis vir ons stokperdjies tyd inruim – hulle is bergfietsry, kajak-roei en om tyd in die natuur deur te bring. Ons beoog om baie daarvan saam te doen – asook om tyd deur te bring met ons drie dogters en twee kleinkinders tydens heerlike vakansies.” 
Sue Segar