Akademiese Jaardag: ʼn Fees van navorsingsuitnemendheid

Prof Himla Soodyall van die Akademie van Wetenskap van Suid-Afrika (ASSAf) was die gasspreker by die FGGW se Akademiese Jaardag.

“’n Dag van feesviering – nie net ter viering van ons prestasies en navorsingsuitnemendheid nie, maar ook vir die positiewe impak wat ons maak op die wêreld om ons.”

Dit is hoe prof Nico Gey van Pittius die 63ste Akademiese Jaardag (AJD) van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch beskryf het. Dié geleentheid is onlangs op die Tygerberg-kampus gehou.

Die AJD is ʼn vertoonvenster vir die uitnemende navorsing wat by die FGGW gedoen word, en by dié jaar se geleentheid is sowat 250 navorsingsitems aangebied, ὸf as mondelinge-, ὸf plakkaat-aanbiedings. Vier Spiespunt-lesings en vyf PhD-lesings is aangebied, asook ʼn Dekaansrede en ʼn lesing deur die gasspreker, prof Himla Soodyall, die uitvoerende hoof van die Akademie van Wetenskap van Suid-Afrika (ASSAf).

Gey van Pittius, die Visedekaan: Navorsing en Internasionalisering, het gesê die universiteit is daartoe verbind om die dringende gesondheidsprobleme op die Afrika-kontinent op te los en om die “ongelooflike potensiaal” van sy mense te ontsluit. “Ons navorsing het ʼn geweldige en onmeetbaar positiewe uitwerking op die samelewing, soos gesien kan word deur die vele positiewe verhale van die mense wat ons versorg, en die beleide, praktyke en prosedures in gesondheidsorg wat ons in staat was om deur die jare te beïnvloed,” het hy gesê.

Maar 2019 was ook ʼn jaar van refleksie, aangesien navorsing deur navorsers van die Departement Sportwetenskap van die fakulteit wyd gekritiseer is oor die verskansing van rasse-stereotipes, die gebruik van bedenklike wetenskaplike metodes en ongeregverdigde gevolgtrekkings, het Gey van Pittius bygevoeg. “Dit het ons tot stilstand gebring om na te dink oor sommige van die sistemiese faktore binne ons instelling wat moontlik gelei het tot die onbedoelde verskansing van diskriminasie en onvoldoende reaksies op implisiete partydigheid wat ons in sommige van ons navorsing ondervind het. Dit het aan ons ʼn uitdaging gestel om voort te gaan met die bevordering van gedrag wat gelei word deur ons Fakulteit se waardes van inklusiwiteit, deernis, aanspreeklikheid, respek, uitnemendheid en billikheid, ook in ons navorsingspogings.”

In sy dekaansrede het prof Jimmy Volmink gesê ʼn taakspan is op die been gebring om te kyk na die gebruik van ras as ʼn veranderlike in navorsing by die fakulteit, om sodoende slaggate asook goeie praktyk te identifiseer. “Ons bevindinge toon groot belangstelling daarin om verskille in gesondheid en biologiese faktore in terme van ras of genetika te verduidelik, en daar word nie dieselfde aandag geskenk aan ander faktore wat moontlik dié verskille kan verklaar nie,” het Volmink gesê. “Dit is belangrik om te verstaan dat ons ook ondersoek moet instel na die sosiale en ekonomiese faktore wat ʼn impak op gesondheid kan hê. Want sommige van hierdie faktore is verantwoordelik vir die verskille wat aan ras toegeskryf word.”

In haar lesing, getiteld: “Genetic ancestry and identity: lessons from southern Africa”, het Soodyall, ʼn beroemde genetikus, beklemtoon dat daar geen biologiese of genetiese basis vir ras is nie. “As ons die definisie van ras in soölogiese terme gebruik, moet daar meer as 15% variasie wees tussen twee groepe om vir een om as ʼn subspesie gedefinieer te word. Geen twee menslike bevolkingsgroepe toon soveel variasie nie, en daar is bevind dat daar heelwat meer variasie binne ʼn groep as tussen twee groepe is.”

“As jy na die mitochondriese boom sou kyk, is elkeen wat vandag leef ʼn blaar. Jy word geanker aan die boom deur ʼn takkie, hierdie takkie sluit aan by ʼn klein stammetjie, dit sluit aan by ʼn groter stam, en uiteindelik ʼn gemeenskaplike boomstam. Een boom, verskillende takke, baie blare... maar dit is steeds dieselfde boom,” het Soodyall gesê.

 

FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie