Sentrum vir Mediese Etiek en die Reg vier 15 jaar

Prof Keymanthri Moodley is die dryfveer agter die Sentrum vir Mediese Etiek en die Reg.
Die Universiteit Stellenbosch (US) se Sentrum vir Mediese Etiek en die Reg (SMER) het onlangs sy 15de verjaarsdag gevier. Ons het die entoesiastiese stigter en Direkteur, prof Keymanthri Moodley, oor die Sentrum se talle merkwaardige prestasies uitgevra. 
 
Danksy die werk van die SMER speel die US tans ’n leidende rol om die land se gesondheidsorgpraktisyns en -navorsers te bemagtig om die etiese, maatskaplike en kliniese uitdagings van hul loopbane aan te pak. 
 
Prof Keymanthri Moodley was nog altyd die dryfveer agter die SMER. Sy het die moontlikheid van bio-etiekopleiding raakgesien in ’n tyd toe min ander Suid-Afrikaanse akademici die relevansie daarvan besef het. Bio-etiek behels nie net die filosofiese studie van die etiek van geneeskunde nie, maar dek ook aspekte soos die mediese reg, mediese sosiologie, gesondheidspolitiek en gesondheidsekonomie. 
 
Sedert die stigting daarvan in 2003 het Moodley ’n dinamiese sentrum tot stand gebring wat nie net voor- en nagraadse opleiding in bio-etiek en die reg bied nie, maar ook empiriese navorsing oor bio-etiese kwessies en konsultasiedienste aan hospitale in die streek. 
 
“My betrokkenheid by etiek het in 1997 begin toe ek ’n huisarts was,” vertel Moodley. “Ek moes bio-etiek aan mediese studente onderrig en was bekommerd dat ek nie genoeg geweet het nie. Ek het opgemerk dat die Universiteit Stellenbosch ’n MPhil in Toegepaste Etiek aanbied en het besluit ek moet die gaping in my eie opvoeding aanvul.”  
 
Sy is ’n gebore akademikus en was onmiddellik aangetrokke tot dié vakrigting met sy alternatiewe siening van sake. Maar dit was eers nadat sy weens omstandighede nie haar meestersgraad in epidemiologie aan die Columbia-Universiteit se Mailman School of Public Health kon voltooi nie, dat Moodley haar werklik as ’n agent vir verandering in bio-etiek gevestig het. 
 
Sy was destyds die ma van twee kleuters en die idee was dat haar gesin in die VSA by haar sou aansluit. Maar die rampspoedige gebeure van 9/11 en die vrees vir vlieg wat dit by haar kinders ontlok het, het haar gedwing om haar planne te verander. Sy het derhalwe ’n paar maande nadat sy haar studies begin het, na Suid-Afrika teruggekeer en die vestiging van ’n bio-etieksentrum in die land begin ondersoek. 
 
Aanporring van die HPC  
 
Moodley is aangemoedig deur wat sy by die Columbia-Universiteit gesien het en het die idee aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe voorgestel. Maar bio-etiek was destyds ’n redelike nuwe konsep en die bestuur was nog nie oortuig dat daar ’n behoefte vir so ’n eenheid of sentrum by die Tygerberg-kampus was nie.  
 
Maar die Raad op Gesondheidsberoepslui van Suid-Afrika (HPCSA) het kort daarna druk op instellings begin uitoefen om opleiding in bio-etiek aan te bied. Dit was die regstreekse gevolg van die groot publisiteit wat die verhore van die Waarheids- en Versoeningskommissie geniet het, waartydens talle van die donker, onetiese mediese gebruike van die apartheidsera onthul is.  
 
“Die Fakulteit het my destyds genader om ’n kurrikulum te skep wat aan die HPCSA se nuwe stel regulasies sou voldoen. Kantoorruimte hiervoor is in 2003 toegewys en toe kon ek uiteindelik die eenheid skep.”  
 
Die Eenheid vir Bio-etiek, soos dit destyds genoem is, het aanvanklik net voorgraadse opleiding aangebied. Geleidelik is opleiding in goeie kliniese praktyk (GPK) en ander kursusse vir nagraadse studente bygevoeg. Telkens as ’n nuwe kursus of diens bygevoeg is, moes Moodley finansiering soek. “Dit het my op die pad van entrepreneurskap gedwing, wat ek nie verwag het nie. Maar ek het daarin geslaag om genoeg fondse te bekom om seker te maak die eenheid groei.”  
 
Globale erkenning 
 
Deur die jare heen het die SMER herhaaldelik bewys dat sy dienste met die heel beste ter wêreld vergelyk.  
 
In 2011 het die Sentrum byvoorbeeld ’n kapasiteitsontwikkelingtoekenning van die prestigeryke Fogarty Internasionale Sentrum (FIC) van die Nasionale Gesondheidsgenote (NIH) in die VSA ontvang om die opleidingsprogram in Progressiewe Navorsingsetiek in Suider-Afrika (Aresa) in samewerking met die North Carolina-Universiteit te ontwikkel. Die Sentrum het ’n nagraadse diploma in gesondheidsnavorsingsetiek as deel van die program aangebied en 40 middelloopbaan-beroepslui uit 10 Afrika-lande het oor ’n tydperk van vyf jaar daarin gegradueer.  
 
Nog ’n merkwaardige prestasie was toe die Sentrum in April 2015 deur die Wêreldgesondheidsorganisasie as ’n lid van die Global Network of Collaborating Centres for Bioethics aangewys is – ’n eer wat net tien akademiese sentrums toegewy aan die etiek van openbare gesondheid en navorsing wêreldwyd te beurt geval het. Die US se Sentrum vir Mediese Etiek en die Reg het die eerste in Afrika geword om hierdie eer te beurt te val.  
 
Enorme akademiese waarde  
 
Daar is selde ’n rustige oomblik by die Sentrum en talle interessante projekte word tans onderneem.  
 
Die SMER het onlangs ’n projek van stapel gestuur wat ten doel het om ’n proses in werking te stel om deelnemers te betrek by die bestuur van ’n genoom-biobank by die Tygerberg-hospitaal. Onderwysmateriaal is ontwikkel om aan potensiële deelnemers te verduidelik hoekom genetiese navorsing belangrik is, hoe ’n genoom-biobank gebruik sal word en hoe dit Suid-Afrikaners in die toekoms sal baat. Die span het ook ’n NIH-toekenning ontvang om ’n histories gegronde teoretiese en etiese raamwerk vir navorsing oor ’n MIV-kuur te ontwikkel – weereens in samewerking met die Columbia-Universiteit. 
 
Moodley was voorts aan die stuur van die ontwikkeling van ’n deurlopend professionele etiese aanlynprogram in reaksie op die toenemende behoefte aan nagraadse opleiding in mediese etiek, die gesondheidsreg en menseregte in Suid-Afrika. Sy was ook die mede-outeur van twee boeke vir tersiêre studente en het onderwysmateriaal oor genetika en MIV vir skoolkinders ontwikkel. Die Sentrum het voorts in 2017 ’n PhD-program in Kliniese en Navorsingsetiek van stapel gestuur.  
 
Die SMER het reeds sy reuse-waarde in Suid-Afrika se unieke kliniese, maatskaplike en etiese konteks bewys en is toegerus om ’n nog groter bydrae tot die ontwikkeling van toekomstige gesondheidspraktyke te lewer. Die Sentrum het byvoorbeeld nog net begin om Afrika-filosofieë en -waardes op bio-etiese kwessies toe te pas, derhalwe lê daar nog baie werk vir Moodley en haar span voor.  
 
Met soveel om op trots te wees, wonder ’n mens wat Moodley se grootste prestasie tot dusver was. “My grootste uitdaging tot op hede was om die SMER met die minimum hulpbronne te laat groei, wat beteken het ek moes regtig diep delf om die entrepreneur in myself te ontdek. Gelukkig kom ek uit ’n familie van sterk vroulike entrepreneurs!” 
Carine Visagie